Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 226

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die weg tot wedergeboorte

226 Ek sê die volgende: “Julle het nou `n nuwe manier leer ken waarop die mens van die materie oor kan gaan na die steeds suiwerder en reiner geestelike, en hoe hy op dié weg meester oor homself, en daardeur uiteindelik ook oor die hele uiterlike, wêreldse natuur kan word. Volg daarom reëlmatig hierdie weg in My Naam, en jy sal groot mag oor jou hartstogte, en daardeur oor die hele natuur, en in die ander wêreld oor al die skepsele kry.

[2] Julle het die boosaardige verskynsels gesien wat die satan aan julle voorgehou het. Hy het julle vrees en skrik aangejaag; maar julle het julle, vertrouend op My Woord, manlik gedra en het weer in rus versink, en in dié rus het julle algeheel meester geword oor al die kwade gebeurtenisse.

[3] Maar glo nou maar nie dat julle die satan nou algeheel ontmoedig het nie! Telkens as julle weer so `n oefening sal doen, sal julle deur hom verontrus word vir solank julle in die gees nog nie volledig nuut gebore is nie.

[4] Is julle egter eenmaal in die gees wedergebore, dan het die satan vir ewig alle mag oor julle verloor, en julle sal sowel regter wees oor hom, as oor al diegene wat hy tot homself aangetrek het, en wat julle hom weer vir ewig sal ontneem!”

[5] Petrus vra: “Hoe word mens dan wedergebore? Moet die siel en gees weer in die liggaam van `n nuwe vrou in, en daaruit dan weer opnuut gebore word? Of hoe moet ons ons dit voorstel?”

[6] Ek sê: “Dit kan jy nou nog lank nie heeltemal verstaan nie. As Ek eenmaal opgevaar sal wees na die plek waar Ek vandaan gekom het, en My Gees jou gees vry sal maak, dan sal jy die wedergeboorte van die gees wel volledig begryp en deurgrond. Maar nou sal dit nog nie vir jou of vir enigeen van julle al moontlik wees nie. Maar deur die navolging van My leer en deur die lewensoefeninge sal julle ten slotte uit en in julleself daardie lig bereik.

[7] Jy kan dit deur geen enkele leer en nie deur onderrig van buite-af begryp nie, maar dit moet binne-in julleself gevind word op die manier wat Ek dit jou nou vir alle tye der tye laat sien.”

[8] Judas sê: “Heer, ek het geweldige towenaars en geestesbesweerders en geesuitdrywers gesien: hulle het met die siele van gestorwenes gepraat, en dié praat regtig en verkondig verborge dinge. Hoe het hulle dan die geestesryk binnegedring? Dit is dan sekerlik ook `n soort geestelike wedergeboorte?”

[9] “O ja”, sê Ek, “maar nie vir die hemele, wat God se troon is nie, maar vir die hel, waar die satan en sy engele woon!”

[10] Daarop sê Judas: “As dit so is, dan is die satan ook `n meester met baie, sy dit dan kwade, mag toegerus! Dan dink ek dat indien dit moontlik was, dit beter sou wees om satan te vernietig, dan duisendmaal duisend mense deur hom te laat vernietig! Waarom moet daar in `n goddelike orde ook `n satan wees?”

[11] Ek sê: “Om ook vir jou binnekort te vang, omdat jy jou so met hom besig hou! Dit sal nog lank duur voor jy enigsins sal sien wie jyself is, laat staan nog wat die groot orde van God is, wat om baie wyse redes naas die dag ook `n nag op aarde geskape het. Begryp jy die werklike rede van die aardse nag op aarde, en begryp jy die ewige dag van elke son, waarvan elk ook `n aarde is, net soos die aarde wat jou dra en voed? As jy dit egter nie begryp nie, dan vra Ek aan jou hoe jy hier `n vraag kan stel wat nie betaamlik is vir `n mens teenoor sy Heer, God en Skepper! Sou jy nie ook wil vra waarom `n steen hard en waarom die water so sag is, of waarom vuur pyn veroorsaak en die koele water nie?

[12] Maar Ek sê vir jou: as jy niks verstaan nie, leer dan eers iets en wees daarby stil en opmerksaam van gees; en begin jy daardeur iets begryp, dán kan jy maar praat en jou broers strikvrae stel!

[13] Maar sien jy, dit is met jou net soos met al die menslike domheid: heimlik skaam mense hulleself daarvoor, maar die mense wil dit wegsteek onder allerlei pragtige, wys klinkende vrae; hulle besef egter nie dat hulle daardeur eintlik heel goed hulle domheid ten toon stel nie! Laat daarom My sagte woorde `n les vir jou wees, want anders sou jy dalk flink in moeilikheid kon instorm, en Ek sal jou dan nie so gou uit die modder uithaal nie!”

[14] Judas se moed om vrae te stel is deur hierdie woorde behoorlik afgekoel en hy werp daarna ook ondersoekende blikke na Thomas; maar dié was verstandig en maak asof hy niks van die teregwysing gehoor het nie en al die ander leerlinge doen dieselfde, en daardeur is Judas gerus gestel en hy trek homself wyslik terug.

[15] Ek sê toe aan Baram: “Broer, nou kan jy die maaltyd maar laat bedien, maar hierdie keer in die eetkamer!” Baram gaan gou in die kombuis in en kry alles vinnig in orde; ons volg hom, en binne `n uur het ons die ete heel op ons gemak genuttig.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205