Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 127

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die dood van die dogter van owerste Cornelius. Hoe die mens die Messias behoort te volg

127 Nou wil Judas egter ook, verhit deur die wyn, sy stem verhef en sy bure, die leerlinge van Johannes, iets vertel. Maar Thomas, sy nog heel kalme teenstander, is hom voor en sê: “Vriend, as die meesters praat, moet die leerlinge swyg en slegs luister, maar veral niks sê nie! Want hier sou elke woord uit ons mond `n groot en growwe domheid wees! As jy jou egter nie kan inhou nie, gaan dan na buite in die oop veld en skreeu so hard jy kan en wil en as jou mond daardeur moeg geword het, kom dan terug.”

[2] Judas sê “Wat het jy tog teen my? Ek het jou tog geen kwaad gedoen nie! Mag ek dan nooit iets sê nie?”

[3] Thomas sê: “Jou wysheid ken ons nou al van die jare toet en ons sit regtig nie daarvoor en wag om, naas die Wysheid van ons groot Heer, die van jou hier vir die duisendste maal te moet hoor en so wys as wat jy is, is ons almal van huis uit! Jy kan dus verder geen betere leer gee as dié wat ons al het nie, en hopelik sien jy daarom in dat dit hier heeltemal nie nodig is dat jy ook praat nie! Ons leerlinge moet slegs praat as ons iets gevra word; ons kan self ook vra, maar dan moet ons daarop let dat ons vraag voortkom uit `n egte en ware behoefte! As ons egter slegs uit pure nuuskierigheid vrae stel om ons praatsieke tong sy gang te laat gaan, dan is ons `n geseling werd; want `n waansinnige dwaas moet altyd met gesels gestraf word!”

[4] Judas sê: “Nou goed, nou goed! Ek is al stil; want ek weet immers dat ek in jou teenwoordigheid niks kan en mag sê nie. Want jy is die wysheid van die profeet EliJaH self! Dit is slegs jammer dat jy nie vóór Salomo geleef het nie! In jou skool sou Salomo dit nog veel verder met die Wysheid gebring het! Maar nou hou ek op, ek is al stil.”

[5] Thomas wou graag nog iets aan Judas teruggesê het, maar Ek gee hom `n teken dat dit genoeg was, en Thomas swyg.

[6] Één van die leerlinge van Johannes kon dit egter nog steeds nie verteer dat Ek hom en sy metgeselle vergelyk het met `n ou, geskeurde kleed wat `n mens met `n nuwe lap moet herstel nie, en met ou, verweerde sakke wat nie geskik is om met nuwe wyn gevul te word nie. Hy rig hom daarom tot My en vra op `n ietwat onbehoorlike manier: “Ek sien nou ook wel dat U `n profeet is; maar soos ek dit sien, smaak wyn uit ou sakke beter as jong wyn uit nuwe sakke, en so gesien kan U gewaad ook bepaald nie nuut genoem word nie; dit mag binnekort dalk `n paar lappe nodig hê, dan kan ek U wel daaraan help, want ek het nog genoeg materiaal. As ek U dus van diens kan wees, dan kan U Uself tot my wend!”

[7] Sy metgeselle wil hom daar en dan direk uitgooi vir hierdie onbehoorlike vraag. Maar Ek neem dit by hom op en lê vir hom die vergelyking nog ietwat meer verstaanbaar uit, waardeur hy gerusgestel word.

[8] Aan die andere sê Ek egter: “As jy `n blinde sien wat oor `n hark struikel en val en deur sy val die staande hoë gras langs die hark platdruk en `n bietjie beskadig, is dit dan wys van jou as jy die blinde daarvoor ter verantwoording sou roep en sou straf? Kyk, hierdie broer van julle sien net soos julle wel met sy liggaamlike oë, maar die oë van sy siel is nog taamlik blind, en as jy dit besef, is dit tog baie hard om hom te straf omdat hy in ons teenwoordigheid `n bietjie gestruikel het!”

[9] Na hierdie woorde roep almal `n luide “hoera” en “geseënd is U” en hulle sê: “Dit is goed gesê, en -wie sy eie goeie en wyse woorde toepas, is werd om `n mens der mense genoem en ook as sodanig gekroon te word! Mag u geseënd wees en mag U hoog lewe, U mens der mense.”

[10] Kwalik het hierdie woorde geklink en het ek hulle nog `n bietjie oor die ou klere en oor die nuwe wyn en oor die sakke vertel, kom daar in aller yl `n owerste uit Kapernaum (dit was die Romeinse owerste Cornelius) binne, storm op My af, val voor My neer en byna uitasem sê hy: “Heer! Vriend! goddelike Heer en Verlosser! My liefste dogter, wat my naam dra, my heerlike, goeie en mooie dogter het gesterf!” (Toe huil die owerste en kon `n tyd lank van verdriet nie praat nie. Na `n rukkie, waarin hy ietwat tot bedaring kom, praat hy weer verder: )

[11] Heer, U vir wie niks onmoontlik is nie, kom saam met my na my huis en lê U wonderhand op haar, dan sal sy sekerlik weer lewend word, net soos die dogtertjie van die skoolowerste Jaïrus, wat ook heeltemal dood was en lewend geword het! Ek smeek U as my mees verhewe vriend: kom en bewys my hierdie barmhartigheid!” (Matthéüs. 9: 18)

[12] Ek sê: “Wees gerus, Ek kom en sal doen wat jy My gevra het! Hoewel jou dogter geheel en al dood en ook al koud is, sal Ek haar tog opwek, sodat sy dan die glansrykheid van God aan die arme mense kan verkondig! Laat ons dus gaan!” (Matthéüs. 9: 19)

[13] My leerlinge vra nou of hulle hier op My moet wag of moet saamgaan. Maar Ek sê: “Julle almal, My leerlinge en ook jy Matthéüs, wat tollenaar was, volg My! Ek het vir jou aardse huis gesorg en dit sal Ek bly doen; maar daarvoor moet ook jy, net soos die andere hier, My leerling wees!”

[14] Matthéüs werp dadelik sy opsigtersklere eenkant, trek sy goeie mantel aan en volg My sonder om eers die instruksies te gee wat `n Heer van die huis gewoonlik aan sy mense sal gee vir die tyd wat hy afwesig sal wees.

[15] Let wel: Elkeen wat My wil volg, behoort so op te tree! Hy moet die aardse sake- en beroepslewe geheel-en-al te los en nie meer besig bly met sy aardse lewensomstandighede nie, omdat hy andersins nie sal deug vir en in My koninkryk nie! Want wie die hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is nie geskik vir die Ryk van God nie!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205