Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 56

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die gevolge van leuens en waarheid

56 Die ryk koopman sê na `n oomblikkie: ”Beste hoë gaste! Daar is niks beters as om ywerig `n wag voor jou mond te plaas, en so min moontlik te praat nie! Want mens mag nooit, en die allerminste in die teenwoordigheid van hooggeplaaste persone, openlik sê, wat jy in jou hart dink en voel nie; want belangrike mense het `n gevoelige vel wat die harde klap van die waarheid nie kan verdra nie. Daarom is dit ook in die aanwesigheid van sulke belangrike persoonlikhede besonder gevaarlik om met die waarheid vorendag te kom. Want sulke persone het iets aan hulleself, wat iemand daartoe verlei om openlik te praat. Daarvoor moet mens meer pasop as vir slange, adders en drake; om maar voorbeelde te noem, beslis, dit is baie merkwaardige voorbeelde! Dink wat jy wil, maar wees in jou doen en late `n goeie patriot, dan kan jy met alle mense goed omgaan! Praat egter so min as moontlik, anders kan jy baie maklik, hoogs onaangenaam, kennis maak met die verskriklike geregsdienaars!

[2] Ek het eintlik al veels te veel waarhede gepraat! Daarom weerhou ek dit beslis van die keiser en sê weereens: Op aarde is die keiser die hoogste; Caesarem cum Jove unam esse personam. Wat `n keiser wil, dit doen God ook!

[3] Dus weg met die waarheid op aarde, as daar êrens waarheid bestaan, help dit die mensegeslag niks! Hoeveel onheil het die waarheid nie al veroorsaak nie? Haar leermeesters het aan die folterpaal of onder die swaard hulle laaste waarheidsasem uitgeblaas! Die egte leuenaar het egter nog altyd heelhuids daarvan afgekom, hoogstens het hy hier en daar, as dit `n dom leuen was, sy oë moes neerslaan; maar hy het nie baie daarvan oorgehou nie, terwyl egter, enkele uitsonderings uitgesluit, tog byna alle groot waarheidsvriende deur `n gewelddadige dood van die aarde af verdwyn het.

[4] As dit dan die loon van die waarheid is, watter esel of os sal dan verder nog `n vriend van die waarheid wil wees? Jy kan die waarheid liewer as `n gevangene in jou eie bors opgesluit hou, en nogtans vry onder die mense beweeg, as om die waarheid die vryheid te gee en self na liggaam en siel gevange geneem te word. Want as die liggaam versmag in `n kerker, kan die siel op haar beurt nie in `n park gaan wandel nie.

[5] Ek het ook nog nooit gehoor dat die waarheid iets goeds veroorsaak het nie. `n Paar voorbeelde sal dit duidelik maak:

[6] `n Dief is gearresteer omdat hy onder swaar verdenking is en hy staan voor die streng regters. As hy goed kan lieg, word hy ontslaan weens gebrek aan bewyse; praat die esel egter die waarheid, dan word hy met alle duidelikheid getugtig. Daar tref Beëlsebul dan die waarheid!

[7] Volgende voorbeeld: Iemand betaal, soos maar alte dikwels gebeur, aan `n slim handelaar veels te veel geld vir bepaalde goedere. Die bedriegde het baie geld en goedere, en merk niks van die bedrog nie en voel baie goed. Nou kom daar egter `n waarheidsliewende mens, wat die bedrog opgemerk het, en maak dit vir die bedriegde duidelik hoe hy deur sy sakeman met soveel geld bedrieg was! Op daardie oomblik word die bedriegde ongelukkig, hy gaan na die regter en gee baie geld uit om die bedrieër gestraf te kry. Het hierdie waarheid hom iets goeds in die sak gebring? Nee, dit het slegs toorn en wraak by hom gewek en veroorsaak dat hy nog méér geld uitgee! Die bedrieër egter, wat goed kon lieg, weet om die saak so te verdraai dat mense die waarheid van die verraaier gladnie glo nie, maar hom ook nog as `n kwaadwillige lasteraar in die gevangenis sit. Vraag: Watter loon gee die waarheid hier weer aan haar vriend?!”

[8] “Daarom, weg met die waarheid op aarde! Sy alleen is skuldig aan al die menslike ongeluk, soos ook Moses in die eerste boek sê: Sodra jy van die boom van die kennis, die boom van die veelvoudige waarheid eet, sal jy sterf! En so is dit, en bly dit tot op hierdie uur! Met die leuen kom mens op die troon en met die waarheid in die gevangenis! `n Mooi beloning vir die vriende van die waarheid!

[9] Soek daarom die waarheid waar jy maar wil, maar betrek my nie daarby nie! Wat in my voorraadkamers opgestapel lê en wat in my tuine groei, is tot julle diens; die heiligdom van my hart is egter, as `n gawe van JaHWeH, vir myself. Julle en die hele wêreld gee ek wat ek van die wêreld het, en dit is die verlossing van die wêreld! Die verlossing van God hou ek egter slegs vir myself!”

[10] Die owerpriester sê: ”Ek gee openlik toe dat u baie juis beoordeel het hoe dit werklik in die wêreld gaan, as mens dit van die wêreld se kant af bekyk. Maar omdat u oor Moses gepraat het, sal u ook wel weet dat Moses van God vir sy volk `n wet gekry het waarin die leuen of die valse getuienis verbied word en waarby alle mense verplig word om waarheidsliewend te wees!? As alle mense hulle by hierdie wet sou hou, sê dan self, sou dit dan nie wonderlik wees om op aarde te lewe nie?!

[11] Ek sê u en dit moet u kan begryp: nie die waarheid nie, maar dit is slegs die leuen wat al die onheil op aarde onder die mense gebring het, en wel omdat die mense oor die algemeen heerssugtig en hoogmoedig teenoor mekaar is. Elkeen wil meer wees as sy naaste. So gryp die blinde mens alles wat hom in staat stel om meer te wees as sy naaste, en om die swakkere te laat glo dat hy baie meer en voortrefliker is as wie ookal.

[12] Hierdie eersug verlei dan die mense op die lange duur tot allerlei oortredings. Selfs tot moord en doodslag as dit op ander maniere met leuens en bedrog nie wil slaag nie. Dit alles net om by die ander mense groot in aansien te wees.

[13] Omdat die mense volgens hierdie patroon byna almal beter en uitnemender wou wees as wat hulle was, bly vir hulle inderdaad niks anders oor nie as om kruis en dwars aan te hou met lieg nie. Die waarheid het te midde van sulke mense `n besonder moeilike posisie.

[14] As die mense egter sou insien hoeveel beter die waarheid is as die leuen, en dit sou die beste wees as hulle God en Sy Wette van Heiligheid in hulle dade sou respekteer. Dan tog sou hulle die leuen nog meer vermy as die pes en die ware Geregtigheid van God sou dan `n leuenaar met die dood bestraf. Maar omdat die mense altyd en oral hoogmoedig en heerssugtig is, hou hulle van die leuen en verdedig hulle haar.

[15] Maar die mense lewe nie vir ewig op hierdie aarde nie, soos `n paar duisend jaar lange ervaring dit ons laat sien het. Na `n kort tydjie moet hulle almal die liggaam verlaat, wat dan voedsel vir die wurms word; maar die siel moet dan verskyn voor die Geregtigheid van God! Dan vra ek myself af hoe sy met haar hoog geprysde leuen voor God sal standhou.

[16] Ek meen egter en glo werklik dat dit in hierdie wêreld beter is om ter wille van die waarheid aan die folterpaal te kom, as om op `n bepaalde oomblik voor God in skande te staan en van Hom vir ewig te hoor: “Gaan weg van My!”

[17] As u my goed begryp het, en dus weet dat ons egte vriende van die waarheid is, praat dan die waarheid. Moenie so `n dwase angs hê dat ons u vir die waarheid sal straf nie; sê openlik en eerlik wat u van ons en veral van Hom dink, wie nou met my dogters praat!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205