|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 173
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Die fariseërs wil Tobias stenig
173 Enkeles aanvaar wat hierdie ou man, wat soos reeds gesê was, Tobias heet, nou aan hulle gesê het; maar die meerderheid het so boos daaroor geword dat hulle hul klere wou skeur en daarna die oue Tobias en almal wat aan sy kant staan, wou stenig.
[2] Maar die oue Tobias sê: “O, doen maar met ons wat julle van plan is om te doen as ons `n doring in julle vlees geword het! Die drie engele wat nog hier is, sal julle vir julle prysenswaardige moeite ook `n prysenswaardige loon in die hel toebedeel en die duiwels sal die skeur van julle mantels wel verder ooptrek!”
[3] Nadat Tobias so energiek met sy woedende kollegas gepraat het en hulle al begin klippe soek, kom die drie engele die hut binne en hulle gesigte straal soos die son.
[4] By die aanskoue daarvan, word die weerbarstiges baie bang en hulle val op hul aangesigte neer en smeek die drie huilend van angs om vergifnis.
[5] Maar hulle sê: “As julle die vyande is van diegene wat deur God se gees beweeg word, - wie is dan julle vriende? Ons sê openlik vir julle: dit is die duiwels! Bekeer julle daarom, anders kry julle te doen met die mag van die Allerhoogste!”
[6] Die wat van doodsangs bevange was, huil: “Wat moet ons doen?” Daarop sê die drie: “Verootmoedig julle en glo in die ware, enige Seun van God, wie se siel één is met die Vader! Want die Vader is in Hom, en nie buite Hom nie!” - Na hierdie woorde verdwyn die drie engele en die fariseërs rig hulle weer op en sien geheel en al af van hulle besonder slegte voornemens.
[7] Tobias vra hulle nou: “Nou, hoe staan dit nou, wat wil julle doen? Waar is die vervloekte klippe? Waarom vergryp julle julle nie nou aan die drie, wat julle voorheen nog aangesien het as die drie vermomde towenaars uit Persië nie?”
[8] Die vreeslik ontstelde betrokkenes antwoord: “Jy weet tog dat ons onsself aan die gebooie van Moses moet hou, waarby ons by die hemele en by die tempel gesweer het. As hierdie Jesus nou orals die teenoorgestelde leer en doen, dan kan ons tog nie somaar ons eed inwissel vir hierdie byna geheel en al anti-mosaïese leer nie? Maar ons sal nadink en sien wat daaraan te doen is. Nou sê ons nie ja en ook nie nee nie, want daar staan geskryf dat daar uit Galilea nooit `n profeet sal opstaan nie. En daarom kleef daar aan hierdie geskiedenis, hoe wonderbaarlik dit ook op sy unieke manier is, tog altyd nog vele besware.”
[9] Tobias sê: “Dit is wel so dat uit Galilea geen profeet sal opstaan nie, maar ek vra of daar ook geskryf staan dat die Messias nie uit Galilea sal kom nie! Daaroor staan volgens my nêrens so iets geskryf nie. En met betrekking tot die komende Messias is daar ook nêrens `n plek genoem waar die Messias sal opstaan nie! As daar volgens die skrif uit Galilea in elk geval geen profeet sal opstaan nie, dan kan dit tog net so goed die Messias voortbring! Want tussen `n profeet en die Messias sal daar tog `n eindelose groot verskil wees?!” Die betrokkenes antwoord: “Jy het gelyk, daarom sal ons grondig daaroor nadink.”
[10] Dan sê `n ander fariseër op die agtergrond, wat gedurende die hele lang onderhandeling heel rustig geluister het sonder om tussenin die een of ander mening na vore te bring: “Vriende en broers! Om hierdie wonderbaarlike geskiedenis te begryp, moet julle nugter en uitgeslape wees; ons is egter almal min of meer dronk van die aandmaaltyd en daarby het ons min geslaap. Hoe kan en wil ons dan oor so `n wonderbaarlike en tog nie onbelangrike en ernstige saak `n deeglike oordeel uitspreek?
[11] Ek dink daarom dat ons eerder gaan slaap en môre die verdere en seker meer verstandige verhandeling voortsit. Want ek glo dat dit trouens ook al begin te skemer en die môre sal nie lank meer op hom laat wag nie; verder moet ons die sabbat tog minstens in die passende rus tegemoet gaan en nie in `n stryd oor ons menings en opvattings nie!
[12] Ek glo dat die groot groep aanhangers van Jesus hulle al begin te roer. Ons wil of moet hulle dophou, - maar hoe, as ons te slaperig is en hulle miskien vroeër weggaan voor ons wakker word, as ons nou genoodsaak is om te slaap?”
[13] `n Ander val hom in die rede en sê: “Dit kan gedoen word, ons plaas `n wag!” Dan sê die vorige spreker: “Wie? Jy of iemand anders wat net soos jy omval van die slaap en as wag net so goed aan die slaap sal wees soos ons twee?”
[14] `n Derde een sê: “Van slaap sal daar seker niks meer van kom nie, want die ander begin hulle al klaar te maak vir die vertrek; daarom sal daar vir ons niks anders wees as om hulle voorbeeld te volg nie. Want die weg na die vlakte is lank en voor sonsopgang sal ons nog lank nie in die dorp wees nie!”
[15] `n Vierde een sê: “Wel, nou is Heer Jesus ook voor die hut en maak aanstaltes om te vertrek; daar bly dus niks anders vir ons oor as om ook so gou moontlik op te pak nie.”
[16] Dan sê die eerste: “Daar het jy dit nou! Ek het so gedink. Dit sal `n mooi reis word - sonder slaap en ook nog heeltemal in die roes van die wyn van gister se aandete!”
[17] `n Aantal sê nou: “Wel, dit kan nou eenmaal nie meer anders nie! Diegene wat gerus het, sal seker nie op ons wag nie. Staan dus maar op! Slaap sal ons dan wel benede in die dorp.” Nou staan almal op en gaan vinnig na buite.
[18] Toe die fariseërs almal al gereedstaan vir vertrek, maar Ek nog nie direk aanstaltes wil maak vir die afdaling na die dal nie, word hulle op enkeles na ongeduldig en hulle vra aan My of Ek nie gaan vertrek nie.
[19] Maar Ek sê aan hulle: “Ek is die Heer en Ek doen wat Ek wil, en niemand hoef My te vra: ‘Waarom moet dit so?’ As enigiemand van My en Myne iemand nie geval nie, laat hy dan doen wat hy wil; want Ek hou niemand vas nie. As iemand wil gaan, - nou, dan gaan hy! As iemand egter wil wag, - nou, dan wag hy maar geduldig. Voor sonsopgang sal Ek nie verder gaan nie en vir eers gaan Ek nog `n ontbyt gebruik, want die weg is lank en vermoeiend.”
[20] Die fariseërs sê: “Dan kan ons seker nog `n rukkie gaan rus?” Ek antwoord: “Seker! Want die aarde het die lig van julle oë nie nodig by sonsopkoms nie, maar wel die lig van My oë, sodat dit lig word in die diepte!”
[21] Die fariseërs sê onder mekaar: “Laat diegene dit begryp wat dit kan en wil; maar ons begryp dit nie!”
[22] Die oue Tobias sê: “Ek begryp dit wel en bly daarom ook hier buite; miskien word dit in my diepte dan ook lig.”
[23] Waarop die ander sê: “Ou dwaas, doen maar wat jy wil, maar ons gaan weer na die hut en gaan nog `n rukkie slaap. Na hierdie woorde gaan hulle almal vinnig die hut in en gaan daar lê om te slaap.
[24] Tobias kom heel eerbiedig na My toe en wil My alles vertel wat daar gedurende die nag in sy hut gebeur het. Ek stel hom egter gerus en sê: “Ek weet van alles! As Ek dit nie geweet het nie, hoe sou Ek dan op die regte oomblik hulp vir jou kon stuur? Laat dit daarom maar met rus. Want wie hom voortydig teen My verhef, hy sal die verseker hard teen die prikkels slaan! Wees dus nie bang nie! Want sulke onaangename dinge sal jou voortaan nie meer oorkom nie.
[25] Maar laat ons nou hoër op gaan, met die oostelike heuwel op; daarvandaan sal ons die prag van `n skitterende sonsopkoms te siene kry; en dit versterk sowel die siel as die ledemate en verwarm die hart en die niere.”
[26] Na hierdie kort toespraak begeef almal hulle nou saam met My na die top van die heuwel en wag verlangend op die sonsopkoms, wat ook nie meer lank op hom laat wag nie.
|
|
|
|
|