Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 75

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Behandeling van diewe, rowers en moordenaars

75 Simon Petrus sê: “Ja Heer, ons het wel die kern van die saak begryp, maar ek vind dat daar ook `n skadukant aan die saak is. As ons volgens U leer die bestraffing van die kwaad heeltemal agterweë laat, dan sal die aantal boosdoeners so vinnig toeneem soos die gras van die aarde en die sand by die see. Elke wet gaan tog gepaard met sy toepaslike straf - anders is dit mos nie `n wet nie! Of kan iets soos `n wet sonder straf bestaan?”

[2] Ek sê: “My liewe mens, jy oordeel hier net soos `n blinde oor die kleur van lig. Gaan kyk nou eers na die dieretuine van die rykes; daar sien jy allerhande wilde diere, soos tiers, leeus, luiperds, hiënas, wolwe en bere. As die diere nie in sterk hokke was nie, wie in hulle omgewing sou dan nie in gevaar wees nie? Dit sou egter heeltemal dwaas wees om saggeaarde lammertjies en duiwe in sulke hokke aan te hou.

[3] In die hel is daar inderdaad die strengste wette nodig, met die pynlikste straf daaraan verbonde. Maar My Ryk, wat die hemele is, het geen behoefte aan `n wet nie, en nog minder aan straf.

[4] Ek het nie gekom om julle deur swaar strawwe en streng wette vir die hel op te voed nie; maar slegs om julle deur Liefde, Sagmoedigheid en Waarheid vir die hemele op te voed. As Ek julle nou deur My nuwe leer vanuit die hemele bevry van die wet, en julle die nuwe Weg, wat deur die hart na die ewige vrye lewe gaan, wys, waarom wil julle dan tog nog steeds onder dwang en verdoemenis onder die wet lewe? En, waarom bedink julle nie dat dit beter is om liggaamlik duisend maal te sterf in die vryheid van die Liefde nie, as om een dag in die dood van die wet te moet deurbring?

[5] Dit spreek vanself dat mens die diewe, rowers en moordenaars moet vasvat en opsluit, want hulle is nes die verskeurende wilde diere wat as ewebeelde van die hel in gate in die aarde bly, en dag en nag op die loer lê om te roof. Daar rus selfs `n plig op die Engele van die Hemele om regverdiglik op hulle jag te maak; maar niemand mag hulle om die lewe bring nie; mens moet hulle in die gevangenis werp en daar kalmeer en tem. Slegs in geval van gewelddadige weerstand moet hulle vermink, en by hardnekkige weerstand ook liggaamlik gedood word. Want dan is `n dooie hel `n beter vooruitsig as `n lewende hel.

[6] Maar hy wat `n dief, rower of moordenaar in die gevangenis nog verder straf of dood, vir hom sal Ek eendag met woede in My oë aankyk. Want, hoe swaarder die mense oor hulle boosdoeners regspreek en straf, des te onmensliker, versigtiger, geheimsinniger en hardnekkiger sal die boosdoeners wat hulle nog in vryheid bevind, word. En as so iemand dan in die nag in `n huis inbreek, sal hy nie net alles vat wat hy kan kry nie - hy sal ook almal vermoor en vernietig wat hom sou kon verraai.

[7] As julle egter sou wegdoen met sulke streng strawwe en alle mense die wyse raad gee om aan diegene wat van jou die rok vra, ook die mantel daarby te gee, dan sal diewe weliswaar nog kom en een en ander van julle steel, maar roof en moor sal hulle nie!

[8] As mense egter uit ware Liefde vir hulle broers en susters, voortspruitend uit hulle Liefde vir My, die verganklike wêreldsgoed van hierdie aarde nie meer sal opgaar nie, en deur die lewe sou gaan soos wat Ek dit doen, dan sal daar spoedig geen diewe, en nog minder rowers en moordenaars wees nie!

[9] Wie dink dat boosdoeners ooit deur streng wette en steeds swaarder strawwe uitgeroei sal word, vergis hom geweldig! Daar was nog nooit `n tekort aan mense in die hel nie. Watter sin is daar in om een duiwel te dood, as die hel onmiddellik tien in sy plek stuur wat per persoon tien maal erger is as die voriges? As `n bose mens op `n plek waar hy mag kom, deur iets kwaads gestuit word, dan word hy woedend en verander in `n volslae satan; as hy daarenteen met sy koms slegs Liefde, Sagmoedigheid en Geduld vind, sien hy van sy boosheid af en gaan verder op sy pad.

[10] As `n leeu merk dat `n tier of ander vyand hom nader, word hy onmiddellik woedend en bespring dit met al sy krag en vernietig sy teenstander; maar `n swakke hondjie mag met hom speel omdat hy sagmoedig word. Selfs as `n vlieg op hom afkom en boonop op sy sterke poot gaan sit, kyk hy skaars daarna en laat dit ongehinderd wegvlieg, want `n leeu hou hom nie besig met die vang van muggies en vlieë nie. Net so sal enige magtige vyand hom teenoor julle gedra as julle hom sonder geweld tegemoet kom.

[11] Seën daarom liewer jul vyande as om hulle te vang, na die gereg te bring en in die gevangenis te werp; op hierdie manier sal julle gloeiende kole op hulle hoofde stapel en hulle teenoor julle onskadelik stel.

[12] Met Liefde, Sagmoedigheid en Geduld kom jy orals reg. As jy egter mense wat, ondanks hulle blindheid, uiteindelik tog jou broers is, straf en veroordeel, dan sal jy instede van die Seën van die Evangelie, slegs vloek en tweedrag onder alle mense op aarde saai.

[13] Daarom, as julle my diensknegte wil wees tot uitbreiding van My Ryk op aarde, moet julle in alles, in woord, leer en daad, My leerlinge wees en word. Wil jy dit egter nie doen nie, of vind jy dit te moeilik of nie reg nie, dan sou dit beter wees as julle almal huis toe gaan, want Ek kan ook leerlinge vir My uit klippe uit maak!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205