Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 218

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

In Kis:

Genesings in Kis en by Kisjonah

218 By ons tuiskoms kom verskeie bediendes ons tegemoet en vertel dat, nie lank na ons vertrek na die dal nie, baie vreemdelinge aangekom het wat nadruklik na My vra en na wat Ek hier doen en waarheen Ek nou gegaan het. Maar die dienaars, wat gesien het dat die vreemdes vermomde fariseërs was, sê aan hulle dat Ek lankal uit die streek vertrek het en dat hulle vermoed dat Ek miskien na Damaskus of moontlik selfs na Persië na die heidene gegaan het; want tydens My aanwesigheid het Ek meermale gesê: “Die verlossing sal van die Judeërs afgeneem en aan die heidene gegee word”.

[2] Toe het die verkenners hulleself sigbaar vererg en een van hulle het daarop gesê: “Kwajongens kan wel die vrugte van die jong bome afskud, maar dit kan hulle nie met `n ou boom doen nie, wat eers baie versigtig beklim moet word as mens by die met vrugte belaaide takke wil uitkom! Hierdie troebadoer sal die ou Judea nie veel moeite veroorsaak nie!”

[3] Daarop het die bediendes gelag en gesê: “Nou, pas maar op dat die boom nie so vrot word dat hy omwaai nie! Dit lyk vir ons asof julle boom eintlik al lankal dood is, en daar van `n vrug - tensy mens aan die verdorde takke gedroogde vye hang, en so `n bedrog `n wonder noem – al lankal geen spoor meer te vind is nie!”

[4] Na hierdie opmerking raak die onmiskenbare fariseërs baie ontstem en begin om die bediendes te dreig.

[5] Maar die bediendes het gesê: ”In die eerste plek is ons Grieke en het die godsdiens van die keiser en daarom kan ons vir julle domme gedoente, wat julle die leer van God noem, lekker lag, en julle kan niks aan ons doen as ons ons nie met so iets besighou in julle tempels en skool nie. En in die tweede plek is daar baie van ons hier wat dien in die huis van die groot en magtige Kisjonah; en as julle nie gou maak dat julle hier wegkom nie, dan sal ons julle met knuppels die weg wys! Toe byt hulle van woede op hulle lippe en verdwyn langs die meer opwaarts met die pad wat van hier na Jerusalem gaan.

[6] Nou wil ons U, Heer Jesus, vra of ons reg opgetree het!”

[7] Ek sê: “Op één ding na het julle goed gedoen; dit was nie reg dat julle aan hulle `n doelbewuste onwaarheid vertel het nie! Dit sou beter gewees het as julle vir hulle die waarheid vertel het. Dan sou hulle op ons gewag het en ons sou hulle gehelp het; want dit was merendeels siekes met daarby wel enkele fariseërs, maar van `n ietwat beter soort. Nou vertoef hulle by die heuwel wat aan die bopunt van die bog lê; gaan daarom so gou moontlik met esels en muile daarheen en bring hulle almal hierheen. Sê aan hulle: die Heer het gekom en wag op u! Lê die siekes op die muile en esels en laat die gesondes te voet kom!”

[8] Op hierdie versoek van My gaan die dienaars, hoewel dit al taamlik laat en skemerig is, heen en bring na `n uur almal terug wat hulle voorheen in hulle blinde ywer verjaag het.

[9] Dadelik kom vyf fariseërs met gepaste eerbied na My toe en bekla hulleself daaroor dat die bediendes hulle baie ru behandel het en dat dié hulle beledig en belieg het.

[10] Maar Ek kalmeer hulle en sê dat die optrede van die bediendes nie met bose opset was nie. “Want hulle doen dit slegs maar uit blinde liefde vir My, omdat hulle meen in u My vyande te sien. Daarom het Ek hulle ook na My aankoms dadelik opgedra om u te gaan haal en so gemaklik moontlik hierheen te bring; en so moes hulle aan u dadelik weer goedmaak dit wat hulle eerder misgaan het; en Ek dink dat die saak hiermee reggestel is.”

[11] Die fariseërs sê: “Inderdaad; alles is nou weer heeltemal in orde. Maar nou oor iets anders!

[12] Ons het van ver uit Bethlehem gekom omdat ons oor U buitengewone geneeskuns wonderlike dinge gehoor het. Daarom het ons ons siekes ook saamgebring; diegene wat nog soveel krag het dat hulle hulle voete kon gebruik, moes natuurlik loop - die swakkes het ons egter op lasdiere hierheen gebring. Ons vra U of U Uself oor die lydendes wil ontferm en hulle wil genees van hulle kwale!”

[13] Ek sê: “Waar is dan diegene wat u op lasdiere van Bethlehem af hierheen gebring het? Daarvan het die bediendes My niks vertel nie.”

[14] Die vyf fariseërs sê: “Ons het hulle aan die ander kant van die bog na die herberg gebring, omdat ons nie kon weet of u hier sou wees nie. Want dit was al moeilik genoeg om te wete te kom dat u in hierdie tyd meestal hier bly, en dit was glad nie seker dat ons u hier sou aantref nie, maar ons het tog die kans gewaag. En as U nie hier sou wees nie, sou ons hier miskien die beste te wete kom waar U Uself dan sou bevind, of wanneer U ongeveer terug sou kom. Vanweë die onsekerheid het ons dan ook ons ergste siekes in die voornoemde herberg ingebring sodat hulle daar versorg kon word, terwyl ons probeer om by U uit te kom om U te vra of U Uself wil ontferm oor ons erge siekes! Daarom het ons ook ons kamp op die berg bo die herberg opgeslaan, sodat ons so naby moontlik aan ons siekes sou wees wat ons na die beste van ons vermoë in die herberg laat versorg.

[15] Majesteit en Heer, nou het ons U alles gesê en verder het ons niks te vertel nie. As U dit dus wil, ontferm U dan oor die armes en lydendes!”

[16] Ek sê: “Dit is so: as u geen tekens sien nie, dan is julle geloof swak; sonder die krag van die geloof kan daar egter weinig gedoen word tot verlossing van die mense! Maar as u glo, dan sal u die heerlikheid van die mag van God in die mens sien!”

[17] Almal antwoord: “Ja, ja, Heer. Ons glo alles. Wie soos U `n dooie dogter van die owerste Jaïrus in die lewe kan terugroep, die kan ook al die ander siektes genees wat nog lank nie so erg is as die dood nie! Want oor hierdie daad word tot ver verby Bethlehem, die stad van Dawid, gepraat!”

[18] Met opgehefte hande sê Ek toe: “Nou dan, laat dit dan gebeur soos julle glo!”

[19] Alle siekes wat op die erf op genesing wag, word plotseling kerngesond, begin te jubel en te juig van vreugde en roep luid: “Ons sien `n lig ons liggaam binnegaan - en toe was ons gesond; en ons voel nou so goed asof ons nooit iets makeer het nie. Eer Hom, wat ons so plotseling genees het!”

[20] Die fariseërs kan van pure verbasing byna geen woord uitkry nie. Na `n rukkie hoor hulle egter ook uit die plekkie Kis luide krete en gejubel; en die fariseërs saam met die volledig geneesde siekes hardloop so vinnig moontlik na buite om te sien wat die lawaai beteken. Maar dan sien hulle al gou hulle siekes uit die herberg uit kom, terwyl hulle almal soos vrolike wildsbokke in die rondte spring en voortdurend uitroep “Ere aan die Man wat hulle so wonderbaar genees het.”

[21] Toe die geneesde siekes en die vyf fariseërs mekaar teëkom, vra die vyf aan diegene wat jubel wanneer en hoe hulle genees geword het. Almal - ongeveer dertig mense in getal, vertel aan hulle in `n koor dat dit om so en so laat gebeur het, en dat hulle `n lig in hulle liggaam sien ingaan het.

[22] Toe bemerk die vyf dat dit die presiese oomblik was wat Ek gesê het: “Laat dit gebeur soos julle glo!” dat diegene wat in die herberg was, deur `n lig genees is.

[23] Daar heers `n algehele verbasing en die geneesdes roep: “Bring ons na die geneser, sodat ons hom persoonlik ons lof en ons loon kan bring!”

[24] Nou bring die fariseërs hulle na My toe en hulle val voor My neer en gee God die eer omdat Hy aan die mens sulke krag gee!

[25] Maar Ek sê dat hulle moet opstaan en tewens waarsku Ek hulle almal, terwyl Ek hulle na die eetsaal wys waar tafels vir hulle gedek is dat hulle niks van die gebeurtenis mag oorvertel nie, nie in Jerusalem nie en ook nie in die stad van Dawid nie.

[26] En soos één man beloof hulle My dat hulle hulleself soveel moontlik daaraan sal hou; dit sou natuurlik moeilik wees as hulle weer kerngesond in hulle stad terug sou kom; maar hulle sou tog alles moontlik doen om My veral nie te verraai nie.

[27] Ek noem dit `n goeie voorneme en bring hulle Self na die eetsaal toe, waar versnaperings en allerlei versterkings op hulle staan en wag. Ek seën hulle spys en drank en gee hulle dan die raad om na behoefte te eet en te drink en verseker hulle dat hulle daar geen skade van sal ondervind nie. Hulle begin eet en drink; en Ek trek My daarna in `n ander vertrek terug, waar die eerlike Baram uit Jesaïra vir My en my metgeselle nog `n buitengewoon ryklike ete voorgesit het, waaraan Kisjonah en sy familie naasaan My vreugdevol met ons meedoen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205