|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 102
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Genesing van al die siekes uit Kapernaum.
102 Nadat al die aanwesiges hulle aandete genuttig het, en Judas vas aan die slaap op `n strooibed in die voorhuis lê, bring dieselfde Judeërs uit Kapernaum wat die vorige dag die priesters, skrifgeleerdes en fariseërs op die proef gestel het, `n aantal besetenes en ander siekes wat las het van allerlei kwale en versoek met groot erns van my om hulle almal te genees.
[2] Ek vra hulle egter met liefdevolle erns of hulle wel glo dat die Timmermanseun uit Násaret so iets sou kon doen; Want, hierdie mense ken My, by wyse van spreke, feitlik al van My geboorte af.
[3] Daarop antwoord hulle egter: “Dat U `n seun van die timmerman is, is nie vir ons van belang nie! As die timmermanseun deur God uitverkies word om `n profeet van die Volk van Israel te word, dan is Hy `n Profeet, ook al sou hy `n duisendmaal `n timmermanseun wees; want elke mens is dit wat hy vanuit God is, en nooit wat sy ouers was nie! En daarom glo almal van ons vas en sekerlik dat U in die eerste plek `n ware, deur God heilige Profeet is, en in die tweede plek dat U ons almal daarom kan help netsoos wat U die seun van die burgemeester en die kneg van die hoofman gehelp het!”
[4] En Ek antwoord hulle: ”Nou dan, omdat julle sodanig in My glo, en so `n mening oor My nahou, daarom sal met julle alles gebeur wat julle glo!”
[5] Op hierdie woord verlaat al die demone die besetenes, en diegene wat allerlei siektes en kwale gehad het, word op daardie selfde oomblik gesond.
[6] Die verbasing en dankbaarheid van die mense benodig kwalik verdere beskrywing.
[7] Daar word daarna ook heel toepaslike, maar tewens bytend skerpe aanmerkings oor die hele Judese priesterdom gemaak, maar Ek berispe die sprekers daaroor en wys hulle daarop dat dit baie onverstandig was om slapende addergebroedsel wakker te maak. “Solank hulle in hulle diepe winterslaap is, is hulle vir niemand skadelik en gevaarlik nie; word hulle egter ru wakker gemaak, is hulle daarna gevaarliker as andersins wanneer hulle nie slaap nie.”
[8] Die geslepe en kwaadwillige tempeldienaars was aan die slaap nes addergebroedsel in die winter, maar met julle gewaagde versoek het julle hulle kragdadig uit hulle slaap gewek. Let daarom nou goed op dat hulle nie vir julle `n gevaar word nie. Hierdie owerspelige klomp skep `n wellustige behae daarin om andere skade te berokken.
[9] Almal sien die waarheid van My woorde in en is spyt oor die kwaad wat hulle in hulle onbesonnenheid aangerig het. Ek troos hulle egter en druk hulle dit op die hart om nie in Kapernaum te vertel van die tekens wat hier verrig is nie, behalwe aan enkele waarheidsliewende vriende wat dan ook sal weet om te swyg. Hulle beloof My dit.
[10] Een van hulle was, hoewel hy nie tot die priesterstand behoort het nie, baie goed in die Skrif onderlê.
[11] Hy gaan voor die groep staan en sê baie ernstig: “Luister, liewe vriende en broers! Vir my steek daar veel meer in die dinge wat hier plaasgevind het as julle enkele gevolgtrekking: Kyk, hierdie man is `n ware profeet. Ek glo dat wat hier plaasgevind het, die vervulling is van wat die profeet JeshaJaH voorspel het toe hy gesê het: ‘Hy het ons swakhede op Hom geneem en ons siektes het Hy gedra.’ Dring dit nie tot julle deur nie? Begryp julle waarlik nie waaroor dit gaan nie?”
[12] Die Volk kyk hom egter met groot oë aan, want hulle verstaan nie wat hy sê nie. Hy herhaal sy vraag nog een maal en omdat die Volk nog steeds die aangehaalde stuk uit JeshaJaH nie begryp nie, sê hy: “Dis moeilik om vir die blindes oor die kleure van die reënboog te preek.”
[13] Ek sê aan hom: ” Wees kalm, dit is beter dat die Volk dit voorlopig nog nie verstaan nie. As die Volk dit nou sou begryp, dan sou hulle na die priesters hardloop en daar op `n gewelddadige manier met hulle redetwis, en dit sou, vanuit die oogpunt van My lering, nie vir julle of vir My goed wees nie. Maar wanneer die regte oomblik aanbreek, sal ook hulle dit begryp en dan sal hulle dit wat die profeet gesê het asof met die hande aangryp.”
[14] Die spreker neem genoeë met die antwoord en die Volk, waarvan Ek op hierdie aand die besetenes en die siekes genees het, gaan saam met die volkome geneesdes weer huis toe.
[15] Tuis in Kapernaum het dit tóg groot opspraak onder vriende en bekendes verwek, en die volgende oggend was dit nog skaars lig voordat `n ontelbare volksmenigte rondom Petrus se huis versamel het wat My, die Een wat die vorige aand so `n onbegryplike groot wonderwerk gedoen het, wou sien. Omdat daar aanhoudend steeds meer mense rondom die huis saamdrom, vra Petrus wat hom te doen staan.
[16] Ek sê: “Maak die groot skuit gereed sodat ons heeltemal na die oorkant van die meer kan vaar, anders beleef ons vandag `n (nare)skouspel hier. Die Volk het weliswaar die beste bedoelings, maar die priesters sal ook agter die Volk aangesluip kom, en met hulle wil ons voorlopig niks te doen hê nie.”
[17] Petrus kry dadelik die grootste skuit gereed; ons gaan gou aan boord en roei vinnig voor die wind uit oor die meer.
[18] Nog voordat Ek egter met my leerlinge in die skuit kon klim, kom `n skrifgeleerde uit Kapernaum op My af en sê: “Heer, laat my toe om U op U tog te volg.” Ek deurskou hom egter onmiddellik - dat sy heimlike rede absoluut nie lofwaardig was nie. Dit het vir hom nie gegaan om My leer of om te doen soos Ek nie, maar eerder om die versorging van sy maag en, indien moontlik, ietsie te verdien uit heimlike spioenasie. Daarom skud Ek My kop en sê aan hom: “Die jakkalse het gate en die voëls onder die hemele neste, maar die Seun van die Adam het niks nie, in hierdie wêreld besit Hy nie eens `n klip waarop Hy Sy kop kan neerlê nie.”
[19] Die skrifgeleerde verstaan My, draai om en gaan huistoe. Want, Ek het hom daarmee te verstane gegee dat hy ook `n slinkse jakkals is en daarom ook `n “gat” (betaalde aanstelling) het, en dat voëls soos hy onder die hemele woon, met ander woorde, ver benede die suiwer goddelike Waarheid en Liefde; daar het hulle hulle neste, dit wil sê, hulle vreet- en rusplek waar hulle hulle prooi verteer. Daarenteen is daar by die Seun van die Adam niks te vinde van al die wêreldse bedrieërye nie, selfs nie eens `n sogenaamde politieke kunsgreep (klip) waarop `n mens so nou en dan die hoof van sy gemoed kan laat uitrus nie! Die skrifgeleerde verstaan presies wat Ek bedoel, en gaan soos reeds gesê, sonder om `n verdere woord te sê, vinnig na Kapernaum toe terug.
|
|
|
|
|