|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 78
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244. |
|
|
Oor die sin en die onsin van straf na die sonde
78 Die owerste sê: “Liewe wyse vriend, wat jy sê, is sonder meer reg en goed, maar wat moet ek as vreemdeling nou daaroor sê? Ek glo nou en is daar geheel-en-al van oortuig dat hierdie Jesus uit Násaret niemand anders is as die enige werklike God in menslike gestalte. En dit is nie soseer aan my geopenbaar deur die groot tekens wat Hy doen nie, maar veel eerder deur Sy grenslose Wysheid. Wie ookal `n wêreld sou wou skep, moet so wys soos Hy wees in elke woord wat Hy uitspreek.
[2] Maar hierdie skurke hier noem hulleself, en dit is `n vreeslike sonde, kinders van God, tot wie God gedurende alle tye hetsy direk of indirek gepraat het. Maar noudat Hyself in lewende lywe na hulle toe kom, verag hulle Hom as `n straatboef en wil Hom bowendien nog uit die stad uitsit! Vriend, ek was `n Romein, wat my godsdiens betref was ek `n kreupele panteïs, `n blinde heiden dus, maar nou glo ek in Hom en staan vir hierdie nuwe geloof met my lewe in!
[3] As hulle heidene was, dan sou ek nie so streng geoordeel het nie, maar omdat hulle hulleself kinders van God noem, en nou vir God, wat hulle hulle Ewige Vader noem, op hierdie wyse hoon, het ek as vreemdeling geen medelye met hulle nie.
[4] Hulle wil JaHWeH God wegwys - nou sal hulleself weggewys word. Ongedierte en onkruid moet weg sodat op hierdie akker wat die Heer nou Self bewerk het, `n suiwer vrug kan groei. Want as die onkruid hier bly, dan bederf dit op die kort termyn alles wat die Heer Self so glansryk gesaai het. Vertel nou vir my heeltemal eerlik - het ek gelyk of nie? Wat moet vir my van meer waarde wees - die Heer, of hierdie ellendige straatgespuis?”
[5] JonaEl sê: “Dat jy vanuit jou standpunt heeltemal gelyk het, kan en sal niemand teen stry nie, maar of so iets nou onmiddellik noodsaaklik is, is weer heeltemal `n ander vraag. Dit kan gebeur dat hierdie booswigte, omdat hulle so `n buitengewone skok ontvang het, tot inkeer mag kom en berou sal hê oor hulle boosheid, en daarna hulle lewens verbeter, en dan sal dit tog nie reg wees om hulle almal weg te jaag nie! Want die sonde van `n mens bly by hom strafbaar vir solank hy daaraan vasklou; lê die mens egter sy sonde geheel-en-al af en keer hy homself tot die orde soos dit deur God neergelê is, dan het die sonde en gepaardgaande straf niks meer met daardie mens te doen nie.
[6] Dit sou tog die toppunt van onsin wees om iemand, nadat hy sy lewe verbeter het, te straf omdat hy vroeër, in sy blinde dwaasheid en swakheid een of meer kere gesondig het. Dit sou absoluut onwaardig wees teenoor `n waaragtige mens en ten opsigte van enige goddelike orde. So `n straf sou presies dieselfde wees as die geval van die domme geneesheer wat, nadat sy siekes volkome gesond geword het, na hulle toe gaan en sê: Julle het nou weliswaar heeltemal beter geword, maar julle moet begryp dat julle liggame, of dan een-of-ander deel daarvan, teenoor julle gesondig het en gestraf behoort te word in die mate waarin dit julle gepla het. As die geneesdes nou hulle liggame, wat nog maar pas beter geword het, met allerlei kwellinge laat tugtig of met geweld martel, wat kan daar dan tog van hulle genesing tereg kom? Wel, hulle sal daardeur mos nog tien maal sieker word as wat hulle vroeër was. Die vraag is dan: Wat was die nut van so `n ontydige kastyding van die vlees? Was die behandeling self dan nie al voldoende tugtiging van die vlees nie? Waarom dan agterna nog straf, wat die gesonde vlees weer siek maak? As sodanige optrede, wanneer dit maar om die materiële gaan, al uiters dom genoem kan word, hoeveel te meer dan as dit niks ontsien nie en op die geestelike mens toegepas word?
[7] Dit is wel ons plig om diegene wat gesondig het, en daarna hulle lewens volkome verbeter het, broederlik op die groot gevaar van die sonde te wys. Verder moet ons hulle, in hulle verbeterde toestand, met alles enigsins tot ons beskikking ondersteun en versterk sodat hulle nooit weer terugval in die knegskap van die sonde nie. Maar om hulle na hulle verbetering tot verantwoording te roep en te straf, sou tog presies dieselfde wees as om die verbeterde sondaars in sonde tien maal so groot en so erg, terug te stamp!
[8] Die volgende vraag is of sodanige optrede nie honderd maal meer strafbaar voor God sou wees as al die sondes wat die sondaar voor Hom begaan het. Glo my, die straf wat met elke sonde gepaardgaan, is `n geneesmiddel teen die kwaal van die siel, wat sonde heet. As die kwaal egter al genees is deur die toepaslike geneesmiddel, waarom, as daar dan nie meer `n kwaal is nie, sou daar nog `n geneesmiddel nodig wees?” Die owerste sê: “As `n middel om te voorkom dat die kwaal weer sy kop uitsteek.”
[9] JonaEl sê: “Ja, Ja, voorbehoedmiddels is wel goed en noodsaaklik, maar, soos ek vroeër al gesê het, moet dit ondersteunend en versterkend werk, nie verswakkend en selfs dodelik nie! Met woede versag mens nooit woede nie, slegs deur Liefde, Sagmoedigheid en Geduld vermag `n mens dit.
[10] As iemand aan die brand is, moet mens water oor hom gooi en nie kokende teer of gloeiende, vloeibare erts nie. As iemand sy been breek, moet mens hom dra en die gebreekte been spalk, en goed verbind en die persoon in `n stewige bed neerlê sodat sy beenbreuk kan herstel; mens moet hom tog nie met knuppels slaan omdat hy so onhandig geloop, geval en sy been gebreek het nie!
[11] Nie so lank gelede nie het `n sendeling my die volgende vertel: Hy het teruggekeer van die land van die Skite, waar hy besig was om aan die mense daar die God van Abraham, Isak en Jakob te verkondig. Hy vertel dat hierdie wilde, steeds rondtrekkende volke, `n mens nadat hy dood is, daarvoor straf dat hy dood is! Hulle ontklee hom en bind hom nakend aan `n paal vas en gésel hom dan vir `n volle dag lank. Dit doen hulle selfs ook as die dooie deur iemand anders gedood is. Want, hy is alleenlik self skuldig omdat hy hom laat oorweldig het en uiteindelik laat doodmaak het! Die persoon wat hom gedood het, word egter geprys omdat hy die ander een oorwin het en sy eie lewe behou het!
[12] Hoe dom dit ook mag klink, dit kom presies ooreen met wat ons doen. Ons doen dit wanneer ons iemand wat deur die sonde, wat tog `n siekte van die siel is, en reeds geestelik dood is, nog meer dood wil maak as wat hy is!
[13] `n Sieke het wel die dokter en goeie geneesmiddels nodig, maar om hom te straf omdat hy die ongeluk gehad het om siek te word; dit, my liewe vriend, hoort in die land van die Skite tuis! Ek glo dat jy nou kan insien dat dit altyd beter is om die Heer van die Lewe in alles na te volg, as om met ruwe en onbekwame hande ingevolge jou eie wil in te gryp en daardeur die groot goddelike kwekery op `n duiwelse manier moedswillig, of miskien uit pure domheid, te gronde te rig!”
|
|
|
|
|