Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 135

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Opdrag aan die apostels; oor geld en die rol daarvan in die toekoms

135 Toe Ek die twaalf leerlinge uitkies tot My boodskappers en voorlopers en hulle, deur hulle die hand op te lê, allerlei mag gee en hulle ook beknopte aanwysings gee hoe hulle moet handel, vra al twaalf tog baie nadruklik om volledige aanwysings te gee oor wat hulle moet doen, waaroor en hoe hulle moet praat en leer, hoe hulle gedrag moet wees en wat hulle enigsins te wagte kon wees. Want hulle vrees vir die baie fariseërs en skrifgeleerdes was nie gering nie.

[2] Matthéüs, die tollenaar was die enigste wat `n bietjie meer moed gehad het, en hy gee as kommentaar by al die besware wat die twaalf na vore bring: “Ag wat, ek is `n Griek; my kan hulle nie so maklik iets aandoen nie! Daarby het ek nie op my mondjie geval nie en ek het twee sterke arms aan my lyf en kan bowendien duidelik aantoon dat ek `n Romeinse burger is, waarna geen enkele brutale Judeër `n vinger durf uitsteek nie. So sal ek in ieder geval in die openbaar wel met hulle regkom. Maar vir geheime en verraderlike vervolgings sal die almagtige Gees van ons Majesteit en Heer my beskerm en so het ek selfs teenoor die sluuste vyande `n groot aantal uitmuntende wapens, en ek is daarom vir die hele hel nie bang nie! Julle is egter vir die grootste deel Galileërs, oftewel vyande van die tempel en meer Griek as Judeër, en die Romeine is julle vriende; wat het julle onder die omstandighede dan te vrese? Ons moet trouens moedig wees as dit gaan om die verwesenliking van sake wat so eindeloos groot en heilig is! Ook al val die hele aarde in puin, dan moet `n ware man tog met doodsveragting op die reste staande bly en nie bewe soos `n riet nie! - Maar ook ek sou graag `n afgehandelde en volledige instruksie vir hierdie groot en heilige werk wil kry; want ons moet goed weet wat ons sal moet doen en sê!”

[3] Na hierdie energieke toespraak van Matthéüs die tollenaar, skep almal meer moed en hulle sou sommer al dadelik op pad wou gegaan het, nog liewer vlieënd dan te voet.

[4] Toe gaan Ek in hulle midde staan en sê aan hulle: “Luister dan aandagtig; Ek sal julle nou sonder terughoudendheid alles vertel wat julle moet weet.

[5] Op die eerste sendingtog gaan julle weliswaar nie alles belewe wat Ek julle nou gaan sê nie; maar nadat Ek in lewende lywe van hierdie aarde na My hemele opgevaar het om ewige wonings vir julle gereed te maak in die huis van die Vader, sal julle alles beleef wat Ek julle nou as één geheel vir nou en vir die hele toekoms sal openbaar. Let daarom goed op en verstaan wat vir nou en wat vir later bedoel is!

[6] Wat Ek egter nou aan julle sal sê, geld ook in meer of mindere mate vir diegene wat na julle in My Naam volledig in julle voetspore sal loop. Jy, skrywer Matthéüs, moet net soos op die Gerasim nou alles woordeliks opskrywe wat Ek nou sal sê; want dit moet vir die wêreld bewaar bly, omdat dit `n kragtige getuienis teenoor haar sal wees!”

[7] Matthéüs, die skrywer maak hom klaar om te skrywe, en Ek sê aan die twaalf:

[8] “Begeef julle in die eerste plek nie op die paaie van die heidene nie! Dit beteken:

[9] Gaan nie soos die heidene met geweld te werk nie, en vermy ook die volkere wat as te barbaars (wild) bekend staan; want aan honde en varke moet julle die evangelie van die Ryk van God nie verkondig nie. Want `n vark bly `n vark, en `n hond keer altyd weer gulsig na sy braaksel terug. Dít bedoel Ek as Ek julle aanraai om julle nie op die weë van die heidene te begewe nie.

[10] Gaan ook nie na die stede van die Samaritane nie! Waarom? Daar het Ek reeds in julle teenwoordigheid `n apostel aangestel en ten eerste het hulle julle nie nodig nie, en ten tweede sou die Judeërs nog meer moeite hê om julle te aanvaar as hulle sou hoor dat julle met hulle ergste vyande saamwerk. (Matthéüs. 10:5) Maar gaan wel oral moedig na die verlore skape van die huis Israel! (Matthéüs. 10:6)

[11] As julle na hulle toe gaan, predik, sê en toon hulle dan op `n begryplike manier hoe naby die hemelryk nou aan hulle gekom het! (Matthéüs. 10:7) En as hulle na julle luister en julle prediking aanvaar, maak dan hulle siekes gesond, reinig die melaatses, wek hulle dooies op - afhanklik van wat die Gees julle sal ingee - liggaamlike, maar altyd en vóór alles geestelike! (L. W. Dit het Matthéüs nie vermeld nie omdat onder hierdie gebod van om die dode op te wek, tog hoofsaaklik die geestelike opwekking verstaan moet word.)

[12] Dryf die duiwels uit en behoed hulle vir `n moontlike terugkeer. Maar by dit alles geld wel deeglik altyd dat jy jou daarvoor deur niemand iets laat betaal nie! Want julle het dit vir niks van My gekry, en insgelyks moet julle dit ook weer in My Naam gee!” (Matthéüs. 10:8) - Hierdie laaste sê Ek toe vernaamlik vanweë Judas Iskariot, omdat hy dadelik heimlik by homself begin uitreken hoeveel hy hom vir `n bepaalde, eenmaal bewese diens sou laat betaal. Veral vir die opwekking van `n dooie, vir wie die baie rykes baie, baie sou betaal, wou hy `n duisend pond vra! Maar omdat Ek die rekeningkunde in die hart van die verraaier maar al te gou bemerk, voeg Ek direk die bostaande daaraan toe, waarop die betrokkene natuurlik `n ietwat suur gesig trek, wat die teenoor hom staande Thomas nie ontgaan nie en hy nie kon nalaat nie om daar tussendeur te sê: “Nou, nou, jy lyk soos iemand wat woekerwinste te vorder gehad het, waardeur die gereg nou `n dik streep getrek het!”

[13] Judas sê: “Dit gaan jou niks aan wat se gesig ek trek nie! Uiteindelik sal ek aan jou ook nog verantwoording moet doen vir my gesig? Ek is tog net soos jy geroep en nou uitgekies; wat staan jy my dan nog steeds en teregwys?”

[14] Thomas sê: “Ek wys jou nie tereg nie; maar by bepaalde geleenthede mag ek jou tog sekerlik `n vraag stel? Waarom trek jy dan nou-net so `n suur gesig toe die Heer ons allerlei wonderbare mag toebedeel en toon hoe ons dit kan en moet uitoefen? Toe die Heer egter sê dat ons dit verniet moet doen, kry jou gesig dadelik `n asynsure uitdrukking; ja, waarom dan? Het jy miskien `n kramp gekry, waardeur jou wange en jou voorkop sulke sure rimpels kry? Gee eers eerlik antwoord, as jy dit durf waag!”

[15] Judas sê aan My: “Heer, wys hom tog nou tereg, anders bly ek steeds aan sy opmerkings oorgelewer wat op die lange duur werklik beledigend vir my is!”

[16] Ek sê: “Vriend! As iemand vals beskuldig word, dan lag hy daaroor in sy hart; want dit skeld hom dadelik van al die skuld vry. Maar as iemand, ook al is dit skynbaar toevallig, `n ander van iets beskuldig waaraan hy werklik skuldig is, sê dan nou vir my, sal ook hierdie mens in sy hart lag? O nee! Ek sê vir jou: hierdie mens word in sy hart kwaad vir diegene wat hom per toeval beskuldig, en word nooit sy vriend nie! Wen jou daarom nie op nie, anders beken jy op daardie manier self nog jou skuld!”

[17] Na hierdie woorde lyk Judas dadelik so vriendelik moontlik om maar nie te verraai dat hy aan iets skuldig is nie! Maar Thomas sê by homself: “O, jou jakkals, ek ken jou; vir my ontsnap jy nie!”

[18] Simon van Kana vra nou: “Heer, wat moet ons egter doen as iemand ons vir `n genesing goud, silwer of muntstukke wil gee? Moet ons dit dan ook nie aanneem nie? Daar is tog baie armes wat ons dan met daardie geld goed sou kon help!” Ongevraagd val Judas hom in die rede en sê: “Ja, ja, dit dink ek ook! As iemand vir gegewe hulp goud, silwer of ook muntstukke as`t ware opgedring sou word, dan sou hy dit vir die deur Simon van Kana genoemde doel tog wel kan aanneem?”

[19] Ek sê: “Beslis nie, broers!” Ek sê vir julle: julle moet nòg goud nòg silwer nòg muntstukke in julle gordels hê; want `n goeie arbeider is sonder dit alles sy voedsel werd! (Matthéüs. 10: 9) Wie egter nie wil werk terwyl hy dit wel kan doen nie, hy moet ook geen kos kry nie! Want daar staan geskryf: “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien!” Maar dat `n werksku mens met behulp van `n aalmoes van goud, silwer en muntstukke vir sy kos moet sorg, dit staan nêrens geskryf nie! Die swakkes, oues en gebreklikes moet volgens die wet deur die hele gemeente onderhou en goed versorg word.

[20] Maar sonder dit sal daar tog maar al te gou `n tyd kom waarin die goud, die silwer en die erts die mense sal regeer en sal bepaal hoeveel hulle vir die wêreld werd is. Dit sal egter `n kwade tyd wees; wat die lig van die geloof sal uitdoof en die naasteliefde sal net so hard en koud word soos die erts!

[21] Daarom moet julle nou by jul vertrek geen reistas saamneem nie, ook nie twee mantels nie, en geen wandelstaf nie! Want, soos Ek gesê het, `n goeie arbeider is sonder dit alles ook sy voedsel werd!” (Matthéüs. 10:10)


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205