Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 144

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die getuienis van die Heer oor Johannes die Doper

144 Na `n rukkie vra die oudste van hulle aan My waarom Johannes nou in die gevangenis moet wegkwyn terwyl hy tog nog nooit teen God of enige mens gesondig het nie.

[2] Ek sê: “As hy dit wil, sou ook hy vry kon wees! Die maan doen snags wel goeie diens, maar as hy ook met die son wil wedywer, as sou sy lig bedags naas die son net so belangrik wees as dié van die son, dan vergis die maan hom grootliks. Want as die son eenmaal daar is, dan kan die aarde die skynsel van die maan heel goed mis. Verstaan jy dit?

[3] Toe Johannes My duidelik herken op die oomblik dat Ek aan die Jordaan na hom toe kom, hoekom verkies hy toe om My nie te volg nie? Hy bly in sy woestyn en gedra hom daar steeds as `n strenge boeteling - en hy het tog nooit gesondig nie. Waarom doen hy dit dan? - Hy het homself aan Herodes uitgelewer; nou moet hy maar sien hoe hy met die jakkals klaarkom!

[4] Sê hom egter ook dat Ek nie gekom het om die grotes hulle aardse mag te ontneem nie, maar om hulle op hulle heerserstoele te bevestig. Maar wie met My wil twis, die sal `n harde stryd moet deurstaan!”

[5] Nadat die twee leerlinge hierdie woorde van My gekry en gehoor het, antwoord hulle niks meer nie, maar neem afskeid, gaan dadelik terug na Johannes in Jerusalem en dra hom ook alles direk oor.

[6] Johannes slaan homself op die bors en sê: “Ja, ja, Hy is dit, Hy het gelyk; Hy moet groei en ek moet minder word en hierdie wêreld agter my laat.”

[7] In die dorpie Seba, `n vissersdorp aan die Meer van Galilea, was die baie bewoners en ook diegene wat My uit ander dorpies daarheen gevolg het, baie verbaas oor Johannes die Doper en sê: “Hoe is dit moontlik dat hy `n sonde begaan het? Want dat hy U, o Heer, nadat hy U tog herken het, nie gevolg het nie, dit was dan tog `n hoofsonde waarvoor hy nou moet boet? Heer, het ons ongelyk as ons so oordeel?”

[8] Ek antwoord hulle egter: “As die volle maan snags skyn, dan gaan almal na buite, bewonder haar lig en verheug hulle daaroor; maar as die son kom, terwyl die nog maan heel bleek en mat aan die hemele hang, dan wend almal hulle af van die maan, laat hulle oë op die magtige sonlig rus en prys dit in elke vonkelende doudruppel; want onder die son glans één druppel water meer as tien mane snags.

[9] Is dit dan `n sonde van die maan dat sy oordag deur die son verduister word en dat selfs één doudruppel voor die oë van die toeskouer meer lig uitstraal as die hele maan?

[10] Ek sê vir julle almal: wie ore het, laat hom hoor! Ook die Menseseun is `n son en Johannes is Sy maan. Die maan gee wel lig in julle geestelike nag en getuig vooraf oor die lig wat nou by julle gekom het en wat julle nog steeds nie herken in julle duisternis nie; as die glans van hierdie maan nou egter mat word, omdat die son van die dag by julle skyn, hoe kan julle hom dan van sonde verdink?

[11] Waarlik, Ek sê vir julle, solank daar al mense op hierdie aarde bestaan vanaf Adam tot nou toe, het nog nooit `n suiwerder siel in `n liggaam gewoon en dit tot lewe gebring nie!

[12] Nou vra Ek egter, omdat julle almal in die woestyn by die doop en prediking van Johannes was - julle het almal sy prediking gehoor en die meeste het hulle ook laat doop - waarvoor het julle dan die woestyn ingegaan?

[13] Wou julle miskien `n riet sien, wat die wind heen en weer beweeg? (Matthéüs. 11: 7) Of het julle daarheen gegaan om `n mens te sien wat in sagte kleding gehul was? Kyk, diegene wat sagte klere dra, woon in paleise, maar nie in die harde woestyn by Betábara nie! (Matthéüs. 11: 8) Of het julle daarheen gegaan om `n profeet te sien?

[14] Ja, Ek sê vir julle: Johannes is méér as `n profeet! (Matthéüs. 11:9) Want van hom staan geskrywe: “Kyk, Ek stuur My boodskapper voor U uit, wat U weg voor U sal berei!” (Matthéüs. 11:10) Bemerk julle nou wie hy is?

[15] Voorwaar, Ek sê dit nog duideliker as wat Ek dit al vroeër aan julle gesê het: onder almal wat vanaf die begin uit vroue gebore is, was daar nie één wat groter was as hierdie Johannes die Doper nie; maar Ek sê vir julle ook dat van nou af aan die kleinste in die Ryk van God groter sal wees as hy. (Matthéüs. 11:11)

[16] Maar onthou ook dit: sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe en voortaan het die hemelryk onder geweld gely, en die wat geweld aandoen, die trek dit na hulleself toe! (Matthéüs. 11:12)

[17] Alle profete en ook die wet van Moses het voorspellings gedoen tot by Johannes. (Matthéüs. 11:13) Hy was die laaste profeet vóór My.

[18] As julle dit wil glo, dan is juis hierdie Johannes dieselfde as EliJaH wat in die toekoms, dit wil sê vóór die Messias, nog eenmaal moes kom! (Matthéüs. 11:14) Hy het dan ook gekom en het voor My geprofeteer en het My weg voorberei, soos wat julle dit self ondervind het. Sê nou of julle nou weet wie Johannes is!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205