Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 76

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

Die mens ken die goeie, maar doen die kwade

76 Simon Petrus sê: “Heer! Wie sal U tog verlaat, wie sou U nie wou dien nie? U alleen gee immers riglyne vir die lewe soos wat daar voor U nog nooit deur `n mens uitgespreek is nie. Wat U ookal van ons vra, sal ons doen, maar moet tog nooit van ons vra om U te verlaat nie. Sal U egter geduld met ons groot swakheid hê, en ons met die Barmhartigheid van die Vader in die hemele versterk - Hy wat U ook so wonderbaar versterk het dat U volkome Een met U Vader in die hemele is, onderrig gee en werke verrig.

[2] Dit wat U ons op die berg geleer het, wil ons voortdurend in U Naam tot die Vader bid, en sê: Vader in die hemele! Laat U Ryk kom en U Wil, wat heilig is, geskied. Vergewe U ook ons ons swakhede en oortredings soos ons ook diegene wat ons kwaad aangedoen het, vergewe.”

[3] Ek sê: “Simon, dit wat jy nou sê, geval my meer as jou vroeëre verdediging van die wet en die strafmaatreëls wat daarmee gepaard gaan. Watter sin het dit vir `n land of ryk om die rus en orde met streng dwangmiddele te handhaaf? Dit sal wel vir `n tydjie goed gaan, maar wanneer die sterk onderdrukking vir die duiwels te swaar word, dan sal hulle opspring en met afskuwelike hoonlag die wet en die wetgewer onder hulle voete vertrap. Want - wie nog met geweld in toom gehou en gelei moet word, is nog `n duiwel! Slegs diegene wat hulle deur Liefde, Sagmoedigheid en Geduld laat lei, is soos Engele van God en werd om kinders van die Allerhoogste te wees!

[4] Met Liefde bereik jy alles; met geweld laat mens maar net die duiwel uit sy slaap uit ontwaak. En as hy wakker is - watter goed kan `n mens dan vir die aarde verwag?

[5] Daarom is dit oneindig veel beter dat die Liefde en die Sagmoedigheid in die mense groei en altyd wakker bly, en dat die duiwels daardeur gedwing word om te slaap en te rus sodat hulle die aarde geen kwaad aandoen nie, as dat mense die duiwels met die dreunende lawaai van geweld wakker skud, waarna hulle dan die aarde en alles wat daarop is, te gronde rig! Sê vir My - wat wil en kan jy daarteen inbring?”

[6] Simon Petrus sê: “Heer, daar is niks teen in te bring nie, want dis vir almal duidelik en goed te begrype. Maar hoeveel van die mense wat nou hier op aarde lewe weet iets van hierdie Heilige Waarheid? Heer, daar is tog legioene Engele in die Hemele; stuur Hulle na al die mense op die hele aarde om die Waarheid aan hulle te verkondig! Ek dink dat as dit so sou gebeur, sal dit miskien ligter en beter op die sondige aardbodem word.”

[7] Ek sê: “Jy vorm jou mening na aanleiding van wat jy daarvan begryp, maar Ek moet tog daaroor met jou van mening verskil. Kyk, duisend maal meer Engele as wat jy kan sien, is voortdurend by die mense en werk op hulle innerlike gevoelens en gedagtes in, maar op so `n manier dat hulle nie bewustelik gedwing word nie, en dat hulle vrye willekeur nie aangetas word nie, sodat hulle hulle gedagtes, wense en neigings geheel-en-al as hulle eie kan aanvaar en navolg. Wat gebeur egter?

[8] In hulle binneste mag mense wel goed dink, en begeer hulle om goed te doen, en het hulle prysenswaardige voornemens; maar as dit daarop neerkom dat hulle daarvolgens moet optree dan kyk hulle na die wêreld, hulle besittings en na die bedrieglike behoeftes van hulle liggame, en op grond daarvan tree hulle dan sleg en selfsugtig op.

[9] Ek sou wel baie duisende egte boosdoeners vir jou hierheen wil bring, en aan hulle vra of hulle daarvan bewus is dat hulle kwaaddoen, en hulle sal almal toegee dat hulle dit weet! Vra jy hulle egter hoekom hulle dan kwaad doen, dan sal baie sê: Omdat ons dit goed vind! En andere sal sê: Ons sou graag goed wou doen, maar omdat ander kwaad doen, doen ons dit ook; En nog ander sou sê: Ons weet wel wat die regte ding is om te doen, maar ons is nie by magte om dit te doen nie, omdat dit teen ons natuur is en daarom is ons verplig om diegene wat ons beledig, te haat.

[10] Wel, jy sal nog meer van hierdie soort antwoorde kry, en dit sal jou gou genoeg daarvan oortuig dat selfs die grootste en ergste boosdoeners nie sonder kennis is van wat goed en reg is nie, maar dat hulle nogtans die kwade doen!

[11] As mense dan nou teen hulle eie innerlike insig in, kwaad doen, wat verwag jy dan in die geval waar Insig van buite na hulle gekom het? Ja, van nou af sal daar ook van buite af Insig aan mense gegee word oor die goeie en die regte vanuit die Hemele, en hulle sal vir My en vir julle en vir baie ander wat hulle sal leer om die goeie te doen, en die kwaad na te laat en te vermy, daarvoor doodmaak.”

[12] Simon sê: ” Heer, as dit so is, dan moes die hele wêreld maar liewer heeltemal aan die duiwel oorgelaat gewees het! Watter sin is daar aan die bestaan van so `n mensewêreld wat nooit die goeie wil erken en aanvaar nie?”

[13] Ek sê: ” Wie ookal, soos jy nou gedoen het, vol emosie praat, is nog ver van My Ryk af verwyderd. Maar nadat Ek opgevaar het, sal jy anders praat. Dit het nou egter aand geword - laat ons daarom in die huis ingaan en ons vermoeide ledemate versterk.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205