Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 60

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244.

By die Heer is die ware wil gelyk aan die daad

60 Na hierdie opmerking van My, het ons langsamerhand aangestap en die groot binneplaas van die kasteel bereik. Daar kom die hele bediendeskare uiters verbaas en verleë die koopman tegemoet en die hoofdienaar, die hoof van die bediendes, voer die woord en sê: "Heer, meester, dit is nou een mooie verhaal! Ons mans- en vrouekokke kry niks reg nie, alles misluk! Om tog iets te hê, wou ons die tafels voorsien het van vrugte en wyn en genoegsame brood, maar die vertrekke is almal sodanig gesluit dat ons ondanks die grootste inspanning nie één deur kon oopmaak nie! Wat sal ons nou doen?"

[2] Die koopman, self besonder verbaas asook ietwat vererg sê: "So gaan dit nou, as ek maar net een stap buite die deur neem is daar niks anders as `n opeenhoping van wanorde nie! Wat is aan die gang met die manlike en vroulike kokke? Julle het tog al dikwels tienduisend gaste versorg en dan gaan alles soos dit hoort, en nou is daar nie eers duisend nie, en orals heers die grootste wanorde! Maar wat sien ek? Uit alle vensters kyk jongmanne na buite; my kasteel is dus vol mense en jy en jou ondergeskikte knegte sê dat alle deure in my kasteel gesluit is! Hoe is dit dan nou? Lieg julle en wil julle julleself vir julle traagheid verontskuldig, of as die kamers inderdaad gesluit was, wie het dit dan oopgesluit?”

[3] Die slotvoog weet nie wat hy sy meester daarop moet antwoord nie en die hele groot skare diensknegte van die kasteelmeester is vanweë sy sigbare ergernis baie verleë, en onder die indruk dat niemand raad het nie.

[4] Maar Ek sê vir die koopman: "Beste vriend, laat die saak maar daar en hou so `n bietjie uit! Dit is so dat toe jou dienaars en wagters `n rukkie gelede deur jou na My toe gestuur is om My te vra wie Ek is en wat Ek met so `n groot geselskap hier soek, Ek as Heer van jou verlang het dat jy ons almal `n goeie middagmaaltyd moes gee! Jy was dadelik bereid om dit te doen, alhoewel jy nie geweet het Wie diegene is wat hom die reg aangematig het om van jou vir soveel gaste `n middagmaaltyd te verlang nie.

[5] Jou dienaars en ook jy beskou My as `n Romeinse vors en dit was vir jou een rede om aan My wens te voldoen. Toe jy egter tydens ons veelsydige leersame gesprek tot die besef kom dat Ek die Messias is, was jou hart gelukkig en jou wil nog sterker om My en My geselskap na jou beste vermoë te versorg, omdat dit My sou geval om by jou te bly tot jy jou noodsaaklike geagte strydmag uit bo- en agter-Asië teen die Romeine bymekaar sou gebring het, om onder My leiding alle vyande uit die land van God te verdrywe, omdat hulle suiwer heidene is en nie glo in die lewende ware God nie!

[6] Toe jy in jou hart besluit het, het ek ook iets in die geheim besluit en wel dit dat jy nou in jou eie huis My gas sou wees en nie Ek joune nie! Daarom het Ek My voortreflike dienaars daartoe opdrag gegee en sien, alles staan nou geheel en al klaar en jy sal vandag aan My sy met egte hemelse spyse gevoed word!

[7] Sit maar jou tuinvrugte en dit wat uit jou kombuis kom voor aan die lasterlike skreeuers van Sigar, want hulle loop nog in die bosse rond en van ergernis weet hulle nie wat om te doen nie, omdat jy hulle ook nie uitgenooi het nie! Ek dink nie dat jy enige moeite hiermee sal hê nie, want as Ek iemand se goeie wil sien, geld die wil vir My net soos die werklike daad! By jou het Ek `n goeie wil gesien en daarom bevry Ek jou van die dure uitvoering daarvan. Want Ek is ryker as jy en Ek wil My daarom nie deur jou laat versadig nie, maar Ek wil dat jy deur My versadig word!"

[8] Nou is die koopman baie verbaas en sê na diepe nadenke: "Heer, dit is te veel vir `n arme sondige mens! Ek is nie in staat om die wonderwerk in sy volle omvang en diepte te begryp nie! As U maar ook `n mens was, soos wat ek maar `n mens is, dan sou U sien dat dit nie moontlik is nie, want in U geselskap het ek geen lasdiere gesien nie. Op watter besonderse vreemde manier moes U dan langs natuurlike weë aan hierdie spyse gekom het? Kort gelede sien ek ook enkele van die heel mooiste bediendes - of is daar ook soms dienaresse by? - in U geselskap en ek sien U nog en U bly dieselfde, maar waar het hulle dan vandaan gekom? Ek het baie vertrekke in my kasteel en die meeste daarvan is groot en ruim; tienduisend mense kan gemaklik voldoende plaasneem. Nou sien ek egter die mooie dienaars uit alle vensters na ons kyk! Daarom vra ek nog een keer: Waarvandaan en op watter manier het hulle hier gekom?"

[9] Ek sê: "Vriend, as jy vanuit jou huis na `n ander land sou gaan om daar te koop of te verkoop, dan neem jy tog ook die dienaars saam wat jy benodig en jy laat jou deur hulle bedien; nou so doen Ek dit ook! Ek het uitermatig baie; hoeveel Ek het, sou jy kwalik ooit kan begryp. As Ek dus nou op reis gaan, waarom sou Ek My dienaars en knegte dan met so `n geleentheid by die huis laat bly?!"

[10] Die koopman sê: "Heer, dit is volkome in orde; ek wil maar slegs weet waar U en al die skitterende dienaars van U vandaan gekom het. Ja, dit sou ek graag wou weet.”

[11] Ek sê: "Laat ons eers die middagmaaltyd gebruik en dan het ons daarna nog wel tyd vir verdere uitleg. Nou het ons egter al genoeg gepraat en word dit weer tyd om uit te rus en krag op te bou. Laat ons daarom na die groot saal gaan, wat aan die oostekant geleë is en nie van hier gesien kan word nie, omdat ons hier aan die westekant van die kasteel staan waar mens die groot syvleuel van die kasteel nie kan sien nie!

[12] Van pure verwondering verloor die koopman amper sy bewussyn en na `n oomblik sê hy hoogs verbaas: "Heer, nou word dit vir my geheel en al te wonderbaarlik! Daar was eens `n oosvleuel aan die kasteel van Esau gewees, maar vanaf die oosvleuel ophou bestaan het, het daar nou al tweehonderd jaar verloop in die onherroeplike verlede in; ek en my voorouers weet kwalik meer iets daarvan af nie. Hoe kan U dan praat van die groot saal aan die oostelike vleuel van die kasteel?

[13] Ek sê: "Slegs as jy in jou kasteel geen oosvleuel sal vind nie, mag jy dit sê; as jy egter een vind, dink en begryp dan dat by God alle dinge moontlik is! Maar wees dan stil en sê niks aan My geselskap nie; want vir sulke dinge is My omgewing nog nie ryp nie!"

[14] Die koopman sê: "Waarlik, in alle erns brand ek nou van verlange om die oostelike vleuel van my kasteel te sien, waarvan my voorouers kwalik iets van gehoor het! Die fondamente kan nog hier en daar gesien word, maar dit is ook al wat oorgebly het van hierdie vleuel van die kasteel, wat eens so mooi moes gewees het.”- Nou hardloop die koopman vooruit en ons volg hom.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205