|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 92
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Die skoonheid van die kinders van God
92 Hy gaan daarom ernstig na Ouran en die mooi Helena en vra hulle of hulle nou al goed nagedink het oor wat hy vir hulle gesê het.
[2] Helena sê daarop met `n baie vriendelike gesig: "Maar hoor nou eers hier, mense sê dat ook ék `n mooi meisie is, mense noem my immers al dikwels `n tweede Venus, vind u dan dat hierdie naam vir my ook die betekenis het waarvan u gepraat het? Sê dit vir my, beste, wyse vriend!"
[3] Hierdie vraag bring ons Mathael eers ietwat in die verleentheid, omdat hy dadelik aanvoel dat Helena effens beledig was, maar hy hou homself vinnig manlik en sê: "Liewe suster in God! Wat ek julle vertel het, geld slegs vir die kinders van die wêreld. Die egte kinders van God het altyd `n wyse hart, ook al is hulle uiterlik hóé mooi.
[4] By hulle is die uiterlike skoonheid slegs die uithangbord van hul innerlike, geestelike skoonheid, maar by die kinders van die wêreld is dit `n bedrieglike, wit laag oor die grafte, wat as dit gekalk word, mooi en uitnodigend daar uitsien, maar wat van binne gevul is met verrotting en afskuwelike stank.
[5] Maar jy soek God, daarom is jy ook `n kind van God. Die kinders van die wêreld soek slegs die wêreld en is daarom ook kinders van die wêreld. Hulle vermy die goddelike en soek slegs die eer en die aansien van die wêreld.
[6] As hulle die wêreld groot, heerlik en mooi noem, dan is dit hul hele geluksaligheid. As `n mens egter met hulle oor goddelike dinge begin praat, weet hulle niks, en om hul skande te verberg, omhul hulle hul met allerlei wêreldse klatergoud, met arrogansie en met hoogmoed en vervolgens met toorn, haat en hoon alle wysheid wat uit God in die harte van die kinders van God gegiet word.
[7] Daarom is daar `n groot onderskeid tussen die skoonheid van die kinders van God en die kinders van die wêreld. Die eerste is, soos gesê, `n uithangbord van die innerlike skoonheid van die siel en die tweede is `n bedekking van die graf, en dít stel die skoonheid van Venus voor, maar nie joune nie, want jy soek God en het Hom ook reeds gevind. Daarom hoef jy my vroeëre verklaring oor Venus ook sekerlik nie op jou van toepassing te maak nie. - Het jy my nou goed verstaan?"
[8] Helena sê: "O ja, maar dat ek `n kind van God sou wees, lyk vir my gewis `n baie gewaagde veronderstelling! Ons is almal wel skepsels van één en dieselfde God, maar van die beslis eindelose verhewenheid van die ware kinders van God kan by ons tog geen sprake wees nie, aangesien ons as growwe en trae materiemense tog sigbaar behep is met allerlei swakhede en die ontelbare daaruit voortkomende, gebreke! Daarmee het u, beste en origens baie wyse vriend, tog wel `n bietjie te veel gesê!"
[9] Mathael sê: "O, gladnie, want kyk, dit wat ek jou gesê het, kom van die groot Een! Wat Hy my geleer het, is en bly ewige waarheid!
[10] Kyk, gestel dat jy `n duif het, wat wel kan vlieg, maar waarvan jy, sodat dit nie altyd van jou af sal wegvlieg nie en gesellig mak en huislik sal word, die vlerke gekortwiek het. So kan die duif dan nie meer na willekeur op- en wegvlieg nie, maar moet by jou bly en dit deur jou laat makmaak.
[11] Sê nou eers of die duif, solank dit gekortwiek is, minder duif is as daarvoor toe sy vlerke nog nie gekortwiek was nie! Sal die vlerkvere van die liewe duifie nie miskien in `n kort tydjie weer aangroei nie? Ja, in `n kort tydjie sal die duif sy vleuels weer terughê en net so goed as vóór die tyd kan vlieg. Maar dit sal mak wees en graag by jou bly. En as dit so nou en dan sal uitvlieg, hoef jy dit maar net te roep, dan sal hy jou in die hoë lugruim hoor en in duikvlug na jou toe kom en dit deur jou laat liefkoos.
[12] Die kinders van God het op hierdie wêreld ook baie swakhede wat hulle erg belemmer om hulle tot God, hul Vader op te hef. Maar hierdie swakhede het die heilige Vader hulle gedurende die lewe in hierdie wêreld maar net om dieselfde rede gegee as waarom jy jou duif kortwiek.
[13] Juis deur die swakheid moet die kinders hul Vader herken, hulle moet sagmoedig en nederig word en die Vader vra vir die regte krag en sterkte, en Hy sal hulle dit dan gewis gee as dit vir hulle die regte tyd sal wees.
[14] Maar weens die swakhede, wat die kinders van God ook in hulle het, is hulle nie minder Sy kinders nie, soos ook die duif tog `n duif bly ook al is sy vleuels vir `n kort tydjie gekortwiek om mak te word. - Begryp jy dit nou, lieftallige Helena?"
|
|
|
|
|