Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 204

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Indirekte en direkte openbaringe

204 Ek sê: "Gladnie! Die goeie en ware wat `n mens deur aanhoudende soeke ontdek, is eweveel werd as dit wat regstreeks deur God aan hom geopenbaar word. Want die self vind van `n waarheid is eweneens `n openbaring van bo, maar `n indirekte, en die middel daartoe was die aanhoudende soeke daarna.

[2] Deur die soeke maak die siel haar losser van die growwe bande van die materie en wek daardeur op bepaalde oomblikke die goddelike gees in haarself op, waardeur sy meer in die lewensentrum van haar hart kan kom. Daarheen stroom God se lig en erbarming ononderbroke en bring die siel op gelyke wyse tot lewe en geestelike groei, soos die lig van die son wat in die vore van die aarde dring en die lewe van die plante verwek, bewaar en bevorder tot die plant `n vrye, selfstandige en daardeur volkome ryp vrug sal gee, wie se eie lewe nie meer van die plant afhangend is nie, maar selfstandig bestaan.

[3] As die siel tydens die ware oomblikke van lewensaksie in die genoemde lewensentrum van die hart kom, het sy daardeur ook die openbaring van God se Gees bereik, wat hom in elke hart bevind en sy kan daar niks anders nie as alleen maar die ewige, onveranderlike waarheid uit God in haarself vind nie. Dit is dan `n indirekte openbaring en die onderskeid met die direkte was net dat God, wanneer daar `n groot duisternis onder die mense heers, geskikte mense buite hulle toedoen opwek en hulle siel ewe-eens na hulle lewensentrum lei, om daaruit die ander blindes weer die lig te bring sodat hulle hulle oë kan open.

[4] En daar is nóg `n verskil tussen die indirekte en die direkte openbaring, naamlik: Die indirekte openbaring gee die soekende mens maar net daardie regte lig waar hy dit veral wou hê en dit lyk soos `n goeie lamp waarmee `n mens `n donker vertrek helder kan verlig. Die direkte openbaring maak egter alles sigbaar en lyk daarmee soos die son midde in die dag, wat met haar magtige lig die hele wêreld in al haar groot en klein vore verlig.

[5] Hierdie direkte openbaring geld nie net vir die mens wat haar kry nie, maar vir alle mense, en wel eerstens vir die volk waaruit die profeet voortgekom het. Omdat daar egte en ware profete was wat deur God geroep is, is dit ook denkbaar dat daar ook valses sal wees en wel om die volgende eenvoudige en verstaanbare redes:

[6] `n Egte profeet moet deur sy medemense op `n bepaalde manier geëer word, want sy voorspellings en soms ook sy dade dien as bewys van die goddelikheid van sy roeping, en dit moet tog vir die gewone, alledaagse mens `n sekere respek inboesem, - of die profesieë hom geval of nie en of dit met sy aardse belange ooreenstem of nie.

[7] By welmenende mense groei `n profeet egter bo-uit, sonder dat hy dit wil, tot `n onbereikbare reus en hy kan hom nie verweer teen die bepaalde, vrome hoogagting en eerbied, hoe nederig hy origens ook is en moet wees nie.

[8] Wel, dit sien ander wêreldse mense waarvan hulle verstand wel baie vindingryk is, want aan slangsluheid het dit die kinders van die wêreld nog nooit ontbreek nie. Hierdie wêreldse mense wil óók aansien en daarby, soos maklik te verstaan is, aardse gewin inwin.

[9] Hulle begin daaroor na te dink en vind dikwels sonder die hulp van die Satan bepaalde dinge en hulle hou wys klinkende toesprake, waardeur dit vir die mense, wat leke is op die gebied van alle kennis, uiteindelik nie meer die verskil kan bepaal tussen wat waar en werklik is en wat onwaar en boos is nie.

[10] Maar hoe kan `n mens dan tóg `n valse van `n egte profeet onderskei? Baie maklik: Naamlik aan die vrugte!

[11] Want van dorings en distels oes `n mens geen druiwe en vye nie!

[12] Die egte profeet sal nooit as te nimmer selfsugtig wees nie en elke vorm van hoogmoed is vir hom vreemd. Hy sal wel dankbaar aanvaar wat die goeie en edel harte hom skenk, maar nooit sal hy iemand iets vra nie, omdat hy weet dat God dit verafsku en omdat God Sy dienaars goed kan versorg!

[13] Die valse profeet sal hom egter laat betaal vir elke stap wat hy doen en vir elke sogenaamde, godsdienstige handeling terwille van die voorgewende en gewaande welsyn van die mensdom. Die valse profeet sal donderpreke hou oor die gerigte van God en selfs in God se Naam met vuur en met swaard oordeel. Die egte sal niemand veroordeel nie en sal maar net, sonder om enige belang daarby te hê, die sondaar tot boetedoening maan en hy sal geen verskil maak tussen klein en groot en tussen hoog of geen aansien nie. Want vir hom geld maar net God en Sy Woord, - al die ander dinge is vir hom `n dwaasheid sonder inhoud.

[14] In wat die ware profeet sê, sal `n teenstrydigheid nooit voorkom nie. Maar hou die woorde van die valse profeet onder die lig, dan sal dit wemel van teenstrydighede daarin. Die egte profeet kan `n mens nooit beledig nie, soos `n lam sal hy alles verdra wat die wêreld hom ookal sal aandoen. Slegs teen die leuen en hoogmoed sal hy met vurige ywer opkom en die beide altyd oorwin.

[15] Die valse profeet is altyd `n doodsvyand van elke waarheid en elke gunstige vooruitgang in die denke en doen van die mensdom. Niemand buite hom mag iets weet of `n bepaalde ervaring hê nie, sodat elkeen genoodsaak sal wees om altyd en vóór alles by hom dure raad vir geld te gaan haal.

[16] Die valse profeet dink maar net aan homself. God en Sy orde is vir hom lastige en belaglike sake, waarvan hy self niks glo nie. Daarom kan hy ook met `n onbeswaarde gewete `n God uit hout en klip maak, soos wat dit hom behaag. Dat so `n God dan voor die eenmaal deur en deur blind gemaakte mense maklik via die dade van die valse profeet wonders kan doen, sal tog wel baie verstaanbaar wees!"

[17] Skabbi sê: "O, verhewe Vriend, ek en ons almal weet hoe die bedrieërs dit doen en hoe hulle hulle wonders doen; vir my is hulle beeste en geen mense meer nie! Want vir my is daar ter wêreld niks meer skandalig, as dat so `n geestelike, deskundige mensebedrieër sy onwetende broeders iets opdring om te glo waaroor hy self inwendig lag. Terwyl hy dit self nouliks kan verstaan hoe die mensdom so ontsettend dom kan wees om sulke ontsettende onsin vir pure goud aan te neem.

[18] O, verhewe vriend, wat U nou gesê het, weet ek en ken ek! Maar die verskil tussen `n indirekte en `n direkte openbaring kon ek nie geweet het nie. Dit verheug my egter dat hy wat `n welwillende mens is, dit wat hy deur sy aktiewe soeke gevind en ontdek het, uiteindelik tog ook `n openbaring van bo was. Natuurlik kan elke mens nie `n profeet vir die hele volk wees nie. As die indirekte profeet egter in sy spesiale eie sfeer iets baie nuttig uitgevind en ontdek het, ook al is dit maar ten behoewe van die liggaamlike welsyn, sal dit later ook vir die welsyn van `n hele volk nuttig gebruik kan word en daardeur kan ook die indirekte, op sigselfstaande profeet `n algemene wees en word!

[19] Dink maar aan die uitvinding van die ploeg, wat seker al vóór die sondvloed uitgevind was! Die onskatbare, baie nuttige landbouwerktuig is seker deur `n besige en nadenkende mens langs die weg van die indirekte openbaring uitgevind. Sy naam is weliswaar nie bewaar in die geskiedenis nie, maar wat `n onskatbare nut het sy uitvinding al vir die mensdom gehad! En so is daar `n groot aantal van sulke algemene, nuttige uitvindings van honderde verskillende werktuie en gereedskap wat `n oneindige gebruikswaarde het. Hulle uitvinders was sekerlik besige, beskeie en eenvoudige mense, omdat hulle name andersins beslis nét so vasgelê sou gewees het as die name van hulle wat oor die volkere geheers het en oor die algemeen maar baie min nut vir hulle gehad het.

[20] Ek is van mening dat dié mense die grootste weldoeners van die volkere was, wat hulle leer en denke gerig het volgens die orde van die waarheid en hulle verryk het met nuttige uitvindings!

[21] Die nut van die algemene, suiwer geestelike profete was egter tot op hede nog baie onseker gewees. Hulle keur wel ingeburgerde gebreke van die volk af en tugtig die slegte, moedswillige boosdoeners. Meestal verkondig hulle op baie bedekte wyse God en Sy leiding, Sy Wil en Sy planne. Die mense verstaan egter nie wat hulle werklik bedoel het nie en doen daarom tog maar wat hulle wil, volgens hulle wêreldse luste en laat God en Sy verhewe profete vir wat hulle was.

[22] So ontstaan die onverstaanbare heidendom en daarnaas alle denkbare variante van die mees duistere bygeloof, maar die ploeg bly `n ploeg en die saag `n saag en die byl `n byl, - en sowel heiden as ortodokse Judeër maak in gelyke mate gebruik van die nuttige uitvindings!

[23] Uiteindelik is dit nog die vraag watter soort egte profete `n meer algemene waarde vir die mensdom gehad het!

[24] Die mense dink wel baie en verstaan ook baie, maar om `n Daniël heeltemal te verstaan of `n Jesaja, of `n Jeremia, of selfs `n Hooglied van Salomo, - daar help geen menslike denke nie, - dit is verlore moeite! Dit verstaan slegs `n God of `n engelgees, of veral `n daarvoor geroepe profeet. Slegs hierdie drie soorte geeste is in staat om dit te verstaan, vir elke ander gees is dit totaal onmoontlik. Die vraag is dan egter watter sin die groot wysheid het wat geen sterfling in hom kan opneem en verstaan nie!?"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205