Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die genesing van die vyf besete roofmoordenaars

21 Toe ons by die vyf aankom, hef hulle `n afskuwelike gehuil en gebrul aan en begin om alles te vervloek wat in hulle nabyheid kom.

[2] Toe laat Ek die soldate, Julius en Cyrenius, ietwat meer agteruit beweeg, en sê aan die groep soldate: "Maak hulle nou los, want in dié toestand kan ons niks met hulle doen nie!"

[3] Die soldate merk egter op dat dit hier nie te vertrou is nie, omdat die vyf te sterk en te woes is. As `n mens hulle sou vrylaat, kan dit gewis erger wees as wanneer `n mens twintig tiers tussen die mense loslaat!

[4] Maar Ek sê nou bevelend: "Ek gebied julle dadelik om te doen wat Ek aan julle opdra - deur dit nie te doen nie, kan julle gewis baie gou `n groot ongeluk kry!"

[5] Na My dreiging doen die soldate dan tog, maar heel versigtig, dit wat Ek hulle opgedra het.

[6] Toe die vyf vry is, werp hulle hulleself voor My op die grond neer en roep: "O, almagtige seun van Dawid, noudat U ons al sover gered het, red ons dan heeltemal van die ewige ondergang! Die liggaamlike dood vrees ons nie, maar wel die ewige ondergang! Want in hierdie nag het ons nie slegs liggaamlik verskriklike pyne gely nie, maar ons was ook nog gekwel deur visioene van die verdoemde geeste in die hel! Ons smeek U daarom om ons vir ons misdade honderd jaar lank op hierdie aarde in ons slegte liggame te kwel - maar om ons te bewaar vir die verskriklike, ewige kwellinge en pyne van die hel, wat te verskriklik is om te beskryf!"

[7] Hierdie woorde was van die egte siele van hierdie vyf tydens die pouse waarin die duiwels, wat hul liggame in besit geneem het, moes uitrus en hulle daardeur ook hul hel in sy gruwelikste naaktheid moes laat sien. Maar dadelik daarna kry die boosaardiges in die liggame van die vyf weer die hef in die hande en laat asof met talle stemme die monde van die vyf spreek: "Wat wil jy hier hê, ellendige muggietemmer? Wil jy jou dalk inlaat met `n geveg teen ons almagtige gode? Probeer dit maar, dan sal jy wel jou laaste geveg hê! Gaan weg, ellendeling, anders verskeur ons jou tot klein stofdeeltjies en gee jou dan aan alle winde!"

[8] Daarop sê Ek: "Met watter reg kwel julle hierdie vyf mense al talle jare lank? Wie gee julle die reg daartoe? Weet dat julle laaste uur nou geslaan het! Die muggietemmer gebied julle nou oombliklik om hierdie vyf mense vir altyd te verlaat en dadelik na julle allerdiepste hel te gaan!"

[9] Maar die duiwels brul en roep onder verskriklike gehuil: "As u mag ons kan dwing, gee ons dan liewer die wit miere in Afrika as woonplek, want by hulle is dit beter as in ons hel!"

[10] "Nee" sê Ek, "vir julle en julle soort het Ek in My hart geen medelye nie, omdat julle dit nie gehad het met hulle wat julle ondanks hul vurige smekinge, op die pynlikste manier om die lewe gebring het; maak daarom dat julle sonder barmhartigheid of medelye wegkom!"

[l 1] Op hierdie kragtige bevel van My verlaat die bose geeste hulle liggame en smyt die vyf op `n verskriklike wyse op die grond neer.

[12] Maar Ek sê: "Verdwyn, ellendelinge! Na benede, na die hel met julle, daar sal die vergelding julle gryp!"

[13] Maar die geeste talm nog en smeek om barmhartigheid en medelye, met die verontskuldiging dat dit in hul aard lê om sleg te wees.

[14] Ek sê: "Maar dit lê ook in julle aard om goed te wees, want julle ken goed en kwaad; maar julle hoogmoedige wil is sleg en ontembaar en julle kan dus geen barmhartigheid en medelye ten deel val nie! Julle wil self ly en gepynig word, daarom word julle uit vrye wil ewig gepynig! Want My orde duur ewig en is onveranderlik, dit weet julle baie goed. Maar julle weet ook wat julle moet doen om goeie gebruik te maak van die ewige orde. Omdat julle haar egter tot julle nadeel verander, dra dan ook julle verlies en verdwyn dus uit My oë!"

[15] Toe klink daar `n dawerende knal, rook en vuur kom uit die aarde en `n spleet wat in `n oogwink ontstaan het, verslind die ellendige ongediertes. Want die uitgedryfde geeste lyk vir die aanwesiges soos pikswart slange, wat nou gesamentlik deur die vurige skeur in die aarde verslind word, wat die aanwesiges so laat skrik dat hulle begin om te bewe.

[16] Ek rig My nou tot Markus, wat al met brood, wyn en sout klaar staan en sê aan hom: "Gee die vyf nou vinnig bietjie wyn, daarna bietjie brood met sout!"

[17] Die seuns van Markus tel toe die vyf mense op wat op die grond lê en gee hulle wyn in hul oopgesperde mondein. Daarop herwin hulle vinnig hul bewussyn en hulle weet nie wat daar met hulle gebeur het nie.

[18] Ek sê aan hulle: "Neem nou bietjie brood met sout en daarna nog bietjie wyn, dan sal julle weer versterk wees en weer heeltemal tot julle sinne kom!"

[19] Hulle neem nou brood en sout en, soos opgedra, na `n rukkie nog bietjie wyn en sit toe binne enkele oomblikke weer regop, maar hulle sien alleenlik natuurlik nog baie sleg, bleek en maer daaruit.

[20] Cyrenius vra My aarselend wat daar nou verder met die vyf gedoen moet word, of hulle vrygelaat of in `n openbare verpleeghuis versorg moet word.

[21] Ek sê: "Dit is later se sorge, môre sal ons wel sien wat daar verder met hulle gedoen moet word! As hulle nou goed deur ons versorg gaan word, sal hulle ook gou beter daar uitsien. Maar nou moet ons hulle `n rukkie hier laat rus en Markus, laat jy nog olie bring! Die stywe kettings en toue het wonde en swere aan hulle besorg wat met olie en wyn ingevryf moet word, dan genees dit vinnig!"

[22] Markus sorg nou dadelik ook vir olie en sy seuns vryf hulle in met die salf, wat die vyf baie goed doen; want na hierdie behandeling beaam hulle dat hulle goed voel en daarna probeer die een om langs die ander te gaan staan, wat aanvanklik nog baie inspanning verg, maar stadig maar seker steeds beter gaan.

[23] Toe die vyf gereddes na `n uurtjie al bietjie beter beginvoel, begin hulle eers te vra waar hulle is en wat daar met hulle gebeur het.

[24] En Markus, wat hom nou met sy seuns natuurlik die naaste aan die vyf hersteldes bevind, sê aan hulle: "Julle was baie siek en is gistermiddag in daardie toestand hierheen gebring. Die beroemde Verlosser uit Nasaret, wat alle mense, watter siektes hulle ook het, feilloos hulp bring en gee, bevind Homself nou juis hier, en hierdie Verlosser het ook nou vir julle hier gehelp. Julle sal Hom later nog beter leer ken."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205