|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 132
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Priesters en hul waardigheid
132 Daarmee is elkeen tevrede en rus daal weer neer op die uitloper van die berg, wat deur `n klein, laer gedeelte afgeskei is van die hoë gebergte, wat verder na die suide uitstrek. Maar benede aan die see speel al lewendige tonele af, want daar is intussen by die ou Markus reeds verskeie groepe mense wat uit die stad aangekom het, wat daar, soos te verwagte was, in skrille kleure hul nood beskryf, en kla oor die ongeluk wat oor hul onskuldige hoofde gekom het.
[2] In die kombuis van Markus is die mense al druk besig en beide seuns lê saam met die ou Markus `n aantal oop vure aan om vir al die gaste `n flinke hoeveelheid te ete klaar te maak.
[3] `n Deel van die wat uit Césarea aangekom het, gaan die berg op, omdat hulle van ver af reeds die mense gesien het. Wanneer hulle egter die Romeine gewaar, trek hulle hul dadelik weer terug. Hulle veronderstel naamlik dat die Romeine wat hier op wag is, gereed staan om die vlugtelinge te vang en hulle weer na die nog brandende stad terug te stuur om te help met die blus daarvan, wat vir die ortodokse Judeërs op hierdie sabbat baie, baie ongeleë sou wees. Daar het in Césarea nogal heelwat ortodokse Judeërs gewoon, wat, hoewel hulle geen fariseërs was nie, baie streng gehou het aan die instellings van Moses. Dit was nou die sabbat van die nuwemaan en dit was altyd nog strenger gehou as die gewone! Daarom was hulle deur die noodlottige gebeurtenisse van die vooraand as te ware in hul geloof versterk, en met as op die geskeerde hoof en verskeurde klere nog baie meer fanatiek as op enige ander sabbat van die nuwemaan. Dit sou vir hierdie baie streng navolgers van die sabbat beslis fataal gewees het as hulle deur die nie-sabbathoudende Romeine teruggestuur sal word om die vuur te blus. Derhalwe bly hulle by die sien van die Romeine, hoewel hulle nog gesluimer het, maar baie kortliks op die berg en verdwyn soos gesê, met die noorderson.
[4] Rafael lag fyntjies en sê aan Mathael: "Het jy dit gesien, die strenge sabbatiste? Die maak hulle vinnig uit die voete toe hulle die Romeine sien! Reken maar, dit sal ons vandag nog heelwat te gesels gee!"
[5] Mathael sê: "Vriend, met liefde, wysheid en geduld sal alles wel in orde kom, en verseker met die hulp van die Heer! Ek het medelye met hulle! Blind in hul harte, pure verstandsmense, - sit dit soos ou verroeste spykers in `n balk, vas in hul domheid. Arme sukkelaars! Nou, miskien genees ons hulle almal!"
[6] Rafael sê: "Vriend, solank `n mens maar net dom is, is die bydam makliker, maar as domheid gepaard gaan met hoogmoed, heers- en genotsug, is verbetering baie moeilik. En nog moeiliker is dit by die hoogstaande slegte mense van die priesterstand!
[7] Neem nou eers `n gewone, menslike betrekking, byvoorbeeld die van `n veldheer of `n ander hoë, keiserlike dienaar! Solank iemand die waardigheid beklee, sal hy ook aanspraak maak op die agting en eer wat hom verskuldig is, en hy kry dit ook. Na verloop van tyd kan hy egter ongeskik vir die diens word en gepensioeneer word, en dan is hy de facto (feitlik) niks meer nie, en hy is ook gladnie meer besorg oor sy vorige, sware amp nie! Maar die hoëpriester behou sy aansien tot by die graf, en na sy dood laat die lewende priesters ter wille van hul eie eer en aansien, op die graf `n gedenkteken oprig wat soos `n tempel lyk, om hom goddelike eer te bewys! Die priesterdom weet om op hierdie wyse die waardigheid vir `n lang tyd onaantasbaar hoog te hou en in alle denkbare lewensomstandighede te bewaar.
[8] Gaan maar net na so `n onverbeterlike priester, aan wie jy baie goed kan sien hoeseer hy vergroei is met die onware en leuenagtige, dan sal jy sien dat daar niks mee te begin is nie! Hy beskou homself baie waardiger as `n keiser, omdat hy hom verbeel dat hy `n plaasvervanger van God op aarde is, en daarom ruil hy sy waardigheid vir niks ter wêreld nie.
[9] As jy sou probeer om sy waardigheid vir baie goud en silwer te koop, dan sal hy sê: 'Goud en silwer het ek tog al, maar my waardigheid is meer werd as alle skatte ter wêreld, want ek is `n amptenaar van God en geen amptenaar van `n wêreldse vors nie, en my amp bly vir ewig!' Na hierdie kommentaar het jy niks meer in jou hande nie en sal jy uiteindelik nog moet dans na die pype van so `n onverbeterlike hoëpriester! Daarom dink ek dat met hierdie ortodokse Judeërs nie so baie bereik sal word nie! Tog is jou voorstel sonder meer baie godvrugtig. JaHWeH God kan egter baie doen, wat ons engele en julle mense wel as onmoontlik beskou."
[10] Mathael sê: "Ek dank jou vir hierdie woorde, maar nou kom die son op en ons moet ons in ons harte gereed hou vir die koms van die Heer!"
[11] Rafael sê: "Jy het gelyk, want die Heer is die ware son van alle sonne! As Hy opgaan in die mensehart, het daar die dag van die dae aangebreek. - Sien jy Hom al uit die bos kom, dat jy so ingespan staan en tuur?"
[12] Mathael sê: "Die son staan nou wel heeltemal bo die horison, maar van die Heer en die twee wat Hom tegemoet gesnel het, is daar nog geen teken nie. Ek glo, as ek my tenminste presies by jou verklaring hou, dat jy jou hierdie keer self ietwat misgis het met jou hemelse voorspelling! Die voltooiing van die sonsopgang en die terugkeer van die Heer val die keer nie so presies saam nie! Kyk, die son staan al redelik hoog bo die horison, en van die Heer is daar nog geen spoor te bespeur nie! Sê my nou eers hoe ek jou voorspelling moet uitlê!"
[13] Rafael sê: "Jy moet jou oë ook daarheen rig, waar Hy vandaan kom en nie daarheen waar Hy nie vandaan kom nie! Kyk eers om, dan sal jy jou skielik daarvan kan oortuig dat ek geen verkeerde voorspelling gemaak het nie!"
|
|
|
|
|