Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 65

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Lewenslesse vir beginners

65 Hier draai Ek My om en sê vir Hebram: "Wel, wel, jy het al groot vooruitgang bereik in die wysheid, net soos julle almal. Werklik, aan sulke leerlinge kan `n mens baie vreugde belewe en hulle sal gou as goeie arbeiders in die wingerd van God gebruik kan word! Maar op één ding wil Ek julle almal tog wys, en daardie een ding bestaan hierin:

[2] Julle lyk nou soos die eerste blommetjies wat vinnig in die voorjaar hul koppies so heerlik bo die kaal grond verhef. As daar verder geen ryp sal kom nie, sal dit goed gaan met sulke vlytige blommetjies, kom daar egter, soos so dikwels in die voorjaar, na warm dae weer enige dae met ysryp, dan laat sulke vroeë blommetjies graag hul heerlike getooide koppies hang en verdor dan dikwels heeltemal.

[3] Ek sê vir julle: `n Mens besef dikwels baie goed wat waar is, maar as daar baie donker wolke met allerlei in versoeking bringende onweer bo die gemoed van die mens begin saampak, word dit somberder en somberder in die mensehart en hy sien dan baie dikwels nie meer wat kort tevore nog so helder sigbaar vir sy siel was nie.

[4] Bewaar daarom dit wat julle nou beleef het sorgvuldig in julle hart en verhef julle mooi getooide koppies eers dán bo die aardbodem van julle uiterlike menswees as die beproewingsdae met ryp verby sal wees. Waarlik, dan sal julle kennis deur geen ryp meer vernietig kan word nie!

[5] Alles het tyd nodig voordat dit gesuiwer en houdbaar word, en dit is ook so met die kennis van die mense. Onder gunstige omstandighede word die nodige dikwels vinnig geleer en ook verstaan - maar deur ander verskynsels ook weer net so vinnig vergeet! Probeer daarom alles wat jy hoor meer met jou hart as met jou hoof te bevat, dan onthou jy dit ook!

[6] As jy `n blom beskou, geniet jy sekerlik sy mooi vorm. Maar wat het jy aan die vreugde, want dit is tog net so verganklik as die blom wat dit teweeg gebring het?! Maar die krag van die blom moet neerslaan in die binneste van die omhulsel waarin die lewende saad bewaar en versorg word, en so moet ook julle uitwendige vreugde verwelk, en sy krag moet afdaal na die oerbasis waar die ewige, geestelike lewe bewaar en versorg word. Dan sal daaruit tesame met die gees `n ewigdurende vreugde oor sy ware, innerlike skoonheid ontstaan wat geen ryp op enigerlei wyse meer sal kan skaad nie.

[7] Maar let nou goed op, want Ek sal nou ietwat nader ingaan op die sake waaroor Cyrenius nadere uitleg gevra het!"

[8] Toe rig Ek My tot Jarah en Josoë en sê aan hulle: "En julle, liewe kinders van My, kan nou `n rukkie na die kombuis na die dogters van ons Markus gaan, dié sal julle heelwat te vertelle hê oor wat hulle nou in die laaste paar dae by hul kokery beleef het; dit sal vir julle baie nuttig wees. Want dit wat Ek verder vir die gaste gaan uitlê, lyk soos `n brood wat so hard is soos klip en jy het baie sterk en goed ontwikkelde tande daarvoor nodig om so `n harde stuk brood goed te kan kou sodat dit daarna die gevoelige maag van die siel nie tot las is en pyn en skade veroorsaak nie. Later, as die tande van julle gemoed sterker sal word, sal hierdie soort sake ook aan julle vertel word!"

[9] Jarah verlaat nie so graag haar plek nie, maar Josoë sê vir haar: "Kom, liewe Jarah, gaan maar opgewek saam met my! Want wat die Heer wil, moet `n mens altyd dadelik met `n vrolike hart doen. Dit verstaan jy tog beter as ek, staan dus maar vinnig van jou plek af op en kom saam met my soos wat die Heer dit wil!” Toe staan Jarah op en gaan saam met Josoë die huis van Markus binne, waar sy volgens huislike tradisie deur sy dogters heel vriendelik ontvang word en gou word daar druk gepraat en die kinders beraadslaag tot die koms van die aand heel gesellig, terwyl hulle mekaar van alles op hoogte bring.

[11] Maar Ek rig My nou tot Cyrenius en sê: "Nou, beste vriend, kan jy luister na wat Ek jou as antwoord sal gee op jou taamlik uitvoerige vraag. Daaraan moet jy jou dan hou, net soos elkeen wat dit sal hoor!"

[12] Hier wou Suetal Rafael nog toefluister dat Ek nou eindelik iets gaan sê, maar Rafael gee hom ernstig `n teken om sy mond te hou en daarop swyg hy dan ook, en Ek praat soos volg verder:


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205