Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 63

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Hebram toon die foute in Risa se gedagtegang aan

63 Hebram sê: "Vriend, die verstandelike wyse waarop jy die geheel nou voorgestel het, het ek al dikwels gehoor. Maar in ons geval gaan dit nie op nie, want hier bevind hom iemand wat méér is as `n gewone, in alle Persiese en Egiptiese toorkunste bedrewe towenaar!

[2] Dink maar net eers aan wat Mathael gesê het en aan die dade, lesse en woorde van die groot Heer self, dan moet dit wel vir jou duidelik word dat jy met al jou so gesond lykende verstand op die verkeerde spoor is!

[3] Ek is ook wel `n bietjie tuis in die toorkuns, en ek ken die verskillende soorte Persiese en Egiptiese magie, maar die dinge wat al alles hier gedoen is en al die lesse wat ons hier gehoor het, toon duidelik aan dat daar `n hoëre oorsprong moet wees as wat ons onsself nou kan voorstel.

[4] Die jongman daar by die twaalf het voor ons oë `n klip op die tafel in stof verander, die stof weer teruggebring tot die oorspronklike klip en dit daarna heeltemal laat verdwyn. En, vriend, toe jy gesien het dat hy sopas ook van `n klip brood gemaak het, daarna `n vis opgeroep het wat jy nog kon bekyk en uiteindelik nog `n volledige donkie met alles daarop en daaraan te voorskyn gebring het, was daardie verskynsels van `n heeltemal ander aard as die smaaklose en niksseggende wondertjies wat ons by `n paar Persiese towenaars in Damaskus gesien het! Wie dáár enigiets verder as één plus één kon tel, kon die bedrog maklik opgemerk het en die regte verklaring vind. Wie weet egter of daar `n ander verklaring daarvoor te vinde is as wat Mathael ons gegee het oor die uitsluitende mag en krag van die oorspronklike lewe in en uit God?!

[5] Jy is daarom heeltemal verkeerd as jy dit wat hier is, in die kategorie van miserabele bedrog byeenbring, soos wat jy ook heeltemal verkeerd is daarmee as jy Moses en alle ander profete onder dieselfde kategorie bring, want Mathael het ons tog duidelik genoeg aangetoon wat daar skuil agter die groot bevryder van ons volk van die harde juk van die Egiptenare.

[6] Moses was `n so buitengewoon groot gees vir God en die mense, dat daar op hierdie aarde tot op hede niks groters was nie. Maar hier, vriend, sit in die gedaante van `n mens die Een vir wie se heilige aangesig die grote Moses sy gesig bedek het. Daarom is dit uiters dom van jou om hier oor Hom te praat soos oor `n natuurlike mens!

[7] Tel die gaste eers wat hier driemaal per dag gevoed word met die beste en voortreflikste, graatlose visse, met brood, wyn en allerlei vrugte, met heuning, melk, kaas en botter! Bedink tewens daarby dat ons gasheer in feite eerder `n arm as `n welgestelde mens is! Hy besit ongeveer 170 are, met weinig landerye en dit is nog, so gesien, baie klipperig. Die visse lewer nog die meeste op, maar wat tel dit by soveel gaste? Dit is nou bymekaar getel so vierhonderd man en almal is heeltemal versadig. Daarby kom nog die talle lasdiere van die Romeine en Grieke en geeneen daarvan kom maar iets te kort nie. Maar gaan kyk eers in die voorraadkamer van ons gasheer, dan sal jy dit volgestop vind van allerlei vrugte en met `n groot hoeveelheid van die beste brood, en die diep rotskelder bevat soveel wyn dat ons dit in jare nie sou kon opdrink nie, ook al sou ons hóéveel daarvan drink! Vra dan eers aan die eerlike en waarheidsliewende gasheer hoe hy aan dit alles gekom het, dan sal hy slegs antwoord: 'Slegs deur wonders sonder weerga van die groot Verlosser uit Nasaret!'

[8] As dit nou so is, wie kan dan nog op die gedagte kom om te beweer dat dit alles bedrog is wat die magtiges van die aarde êrens uitgebroei het om daarmee die blinde en dom volksmassa vir die gek te hou en hulle onderdaniger en skatpligtiger te maak?! Ek sê vir jou: Hier is méér as wat die verstand van alle wyses op aarde ooit kan bevat. Hier heers God se Krag, soos wat Hy reeds so nou en dan op aarde geheers het en ook verder sal heers! Ook al verstaan jou, wat jy gesond noem, verstand dit nie, dan is dit tog so soos wat ek dit nou vir jou gesê het. Maar gaan, en oortuig jouself van alles en sê dan of daar natuurlike dinge gebeur!"

[9] Risa sê: "Ja, ja, in daardie geval moet ek natuurlik wel baie van my beweringe terugtrek en ek sal ook nie twis oor die goddelike waarde van Moses en die ander profete nie, maar tog bly dit dan nog regop staan dat geen enkele leer uiteindelik, ook al het dit hoe `n goddelike oorsprong, sy suiwerheid ook maar vir `n paar eeue sal bewaar nie!

[10] Toe Moses nog op die berg was en die voorskrifte van JaHWeH daar gehoor het, het die volk in die dal rondom `n goue kalf gedans. En hoe verander die voorkoms van die leer van Moses nie toe koning Saul in die plek van die rigters kom nie, en hoe anders begin dit nie daaruit te sien onder Dawid, en nog anders onder Salomo en sy opvolgers nie?!

[11] Altyd val daar iets suiwers en goddeliks weg en daarvoor kom daar wêreldse, menslike voorskrifte in hulle plek, sodat die enigste wat werklik vir ons behoue gebly het, tans net bestaan uit die name, maar verder het alles van Moses so goed as verdwyn. Slegs dit wat die tempeldienaars nog `n sekere goddelike stralekrans gee, het gebly. Die strafregtelike het die mense in stand gehou, om daardeur uit hoofde van `n as te ware deur God gemagtigde beterwetery, die mense op duiwelse wyse te kan kwel. Maar die eintlike goddelike is lankal volledig uitgeban. Ter wille van die tien gebooie van God laat mense vir hulleself geen grysharige boetekleed meer maak nie. Egbreuk by mense van aansien, die baie rykes, vind nog wel waardering omdat sulke mense hulle met baie geld moet vrykoop van die steniging. Hulle kry dan maar net die sogenaamde vervloekte water te drinke, waarvan hul buik egter nie bars nie, want daardie soort sondaars is vir die talle behoeftes van die tempel nog meermale goed te gebruik! As die hoë dienaars van die tempel daarenteen egbreuk begaan, kraai geen haan ooit daarna nie; slegs as `n arme duiwel egbreuk sou begaan, dan word hy natuurlik na behore gestenig.

[12] Nou lees ons egter met watter ongehoorde inset van goddelike mag en krag die tien gebooie, onder bliksem en donder wat die eindes van die aarde laat bewe het, deur God gegee is en hoe die verskriklike, goddelike erns gedurende enige eeue nog meermale op allerlei plekke opgetree het. Hoe dikwels is hierdie volk nie volgens die geskrifte van die groot en klein profete deur God gewaarsku nie! Maar het dit vir hierdie tyd van ons enige nut gehad? Hoe dit nou met ons daar staan, weet ons, en meer hoef ek jou nie te vertel nie! Helaas, as daar `n hel bestaan, dan kan dit onmoontlik nie nog slegter daar uitsien nie!

[13] Maar as openbarings, wat as suiwer goddelik moet deurgaan, alleen maar sulke bedroewende resultate oplewer soos wat ons dit nou by die fariseërs sien, dan vra ek tog vir elkeen met gesonde verstand of dit dan nog so moeilik is om al die geloof, aan watter soort goddelike openbaring en voorsienigheid dan ookal, maar op te gee!?

[14] Wat jy hier oor die groot Verlosser gesê het, is onteenseglik waar, en dit is moontlik dat Sy leer ook met `n beter resultaat bekroon word as alle godsdienste tot op hede. Maar ek sou oor vyfhonderd jaar met my huidige bewussyn wel eers wou sien en belewe hoe hierdie nuwe leer dan oor die algemeen geneem, daar sal uitsien, vooropgestel dat die daadwerklike navolg daarvan, net soos by alle vroeëre, afhanklik is van die vrye wil van die mense!

[15] As daar in die begin slegs één leier aan die hoof staan, sal dit oor duisend jaar wemel van sulke leiers, wat by die bring van hierdie suiwer leer hul buik nie sal vergeet nie! - Sê my eers, of ek met my visie so veel misgetas het soos wat jy voorheen gesê het!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205