Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 102

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Mathael verklaar die name van die eerste drie sterrebeelde

102 "Die uitdinkers van die zodiak was kennelik die oorspronklike bewoners van Egipte, wat in die eerste plek baie ouer geword het as ons, en in die tweede plek altyd `n baie helder hemel gehad het en die sterre dus baie makliker en langduriger kon bestudeer as ons onder ons dikwels swaar bewolkte hemel. Ten derde slaap byna die meeste mense tydens die hete dag, en gaan eers saans na buite om gedurende die koele nag te werk, waarby hulle altyd die sterrebeelde sien. So merk hulle gou die altyd wederkerende figure daarin op, waaraan hulle name gegee het wat te make gehad het met `n natuurverskynsel of `n by hierdie land behorende werk, wat in `n bepaalde periode die aandag opeis.

[2] Herhaaldelike bestudering van die zodiak lei die waarnemers weldra tot die gevolgtrekking dat die zodiak `n groot sirkel is wat, wanneer mens dit in twaalf vrywel gelyke dele verdeel, in elkeen van die dele `n afsonderlike sterrebeeld bevat.

[3] Reeds die oudste mense veronderstel dat die sterre verder van die aarde verwyderd is as son en maan, en daarom laat hulle die son en die maan bínne die groot diereriem hul bane trek.

[4] Maar die diereriem beweeg hom ook so dat die son, wat weliswaar elke dag om die aarde gaan, deur die beweging van die diereriem na dertig dae onder `n ander teken te staan kom. Dat die maan egter binne `n aantal dae ook altyd onder `n ander teken te staan kom, verklaar hulle deur haar stadiger daaglikse omloop om die aarde, waardeur sy nooit tegelyk met die son op dieselfde plek terugkom nie. - Daarom noem mense die maan ook dikwels 'die langsame gesternte’.

[5] Hoewel daar enige geleerdes was wat juis die teendeel van die maan beweer, kry die teorie van die langsame maan tog meer ingang.

[6] Wel, so ontstaan die ou zodiak, en nou sal jy ook nog baie kortliks hoor hoe die bekende twaalf sterrebeelde aan hul wonderlike name kom!

[7] In die jaargety met die kortste dae, wat veral in Egipte altyd vergesel gaan van reën (en met hierdie maklik herkenbare periode van dertig dae laat die mense ook altyd `n nuwe jaar begin), bevind die son hom volgens die berekening van die oudstes juis onder die sterrebeeld wat ons as 'Waterman' ken. Die vorm van die sterrebeeld ontleen die mense aan die herder wat met sy wateremmer na die drinkwaterbak van die huisdiere loop, en die volle emmer daarin leeg giet. Die oues noem so iemand `n waterman (Uodan). Hulle noem die sterrebeeld daarna en ook hierdie periode. Die dom fantasie van die mense maak gou `n god van hierdie, op sigself goed gekose, sinnebeeld en bewys daaraan goddelike verering, omdat die mense hierdie god aansien vir die een wat die verdorde natuur weer tot lewe bring. - Kyk, liewe Helena, so kry die bekende, eerste sterrebeeld en die eerste dertig daagse reënperiode hul name. Ons gaan nou oor na die tweede teken, wat mens die 'Visse' noem.

[8] Toe Mathael begin met die uitleg van die tweede teken, sê Simon Juda aan die ander leerlinge: "Mathael se uitleg is heel leersaam, laat ons gou bietjie van naderby gaan luister!"

[9] Ek sê: "Gaan daarheen en luister, want Mathael is één van die voorste geskiedkundiges van hierdie tyd!"

[10] Toe verdring al die leerlinge hulle rondom Mathael, wat Mathael eers ietwat verleë maak, maar Simon Juda sê aan hom: "Beste vriend, gaan rustig verder! Ons kom slegs maar naby jou staan om iets heel nuttigs van jou te leer!"

[11] Mathael antwoord baie beskeie: "Beste wyse vriende, vir julle kan my wysheid gewis nie so baie beteken nie, want julle is al ou leerlinge van die Heer, en ek is skaars sestien uur by julle!"

[12] Simon Juda sê: "Laat dit jou nie van jou wysie bring nie, want jy het al toetse afgelê waardeur ons in menige opsig al behoorlik op die agtergrond geskuif is. Maar so is die wil van die Heer. Wat Hy die een dikwels in ‘n jaar gee, kan Hy die ander in een dag gee. Gaan dus maar voort met jou uitleg van die diereriem!"

[13] Mathael sê: "As julle soveel geduld en toegeeflikheid vir my het, sal ek maar voortgaan. Luister dus verder na my, liewe dogter van die Pontus!

[14] Na dertig dae hou die hewige reënval in Egipte gewoonlik op, en in die nog sterk geswolle Nyl is dan, net soos in die sytakke, altyd `n groot hoeveelheid vis wat mens in hierdie periode moet vang. `n Groot deel daarvan word dadelik geëet, maar `n nog groter deel word gesout en in die wind, wat in hierdie periode in Egipte altyd hard waai, gedroog en so vir die hele jaar gepreserveer.

[15] In die genoemde land maak die natuur hierdie handelswyse met die visse noodsaaklik vóórdat die Nyl te veel sak en die talle, groot sytakke uitdroog, waardeur `n massale vrekte onder die visse sou intree, wat `n ontsettende stank sou veroorsaak.

[16] Wat in Egipte nou nog gebruiklik is, sien die oudste wyse bewoners van hierdie geseënde, groot land al as `n noodsaak. Omdat mens dus in die begin van die bewoning van hierdie land in hierdie periode vis moes vang, en die son net aan die begin van hierdie vistyd in `n nuwe sterrebeeld te staan kom, noem die mense die sterrebeeld die teken van die 'Visse', en die mens noem daarna hierdie periode ook so, en wel met die naam Ribar, ook wel Ribuse.

[17] Omdat die mense gedurende dié tyd vry dikwels koors kry, ten dele deur die geniet van die baie vet vis, en ten dele deur die met baie onsuiwere dampe beswangerde lug, noem die mense hierdie tyd later ook wel 'die koorstyd'. Die menslike fantasie verander hierdie kenmerk gou in `n godin en bewys haar, om gevrywaar te wees van hierdie maagaandoening, dadelik ook weer `n soort goddelike verering. - Nou ken jy ook die natuur- en waarheidsgetroue geskiedenis van die naamgewing van die tweede teken uit die diereriem, dus gaan ons met die derde verder!

[18] Hierdie teken heet 'Ram'. Na die vistyd begin die oerbewoners van hierdie land vir die skape sorg. Die mannetjies word aktief, en dit is tyd om die skape te skeer en die mense versamel die wol. Die grootste deel van hierdie werk duur altesaam so `n dertig dae. Natuurlik verrig die mense daar tussendeur ook baie ander, daaglikse aktiwiteite, maar die eersgenoemde was gedurende dié tyd die vernaamste werk, en omdat die son ook weer onder `n nuwe teken te staan kom, noem die mense die teken die 'Ram' (Kostron).

[19] Later wy die mense hierdie periode aan die stryd vanweë die baie storms wat in dié tyd voorkom. In hierdie tyd is alles in `n geveg gewikkel : die een element teen die ander, en die hitte teen die koue of liewer die koelte van die land. Die heftigheid van hierdie stryd lewer vir die menslike fantasie gou `n sinnebeeld, waaraan die mense later ook goddelike eer bewys, en wat die mense nog later, in tye van oorlog, selfs tot oppergod verhef. As mens egter die naam 'Mars' ontleed, kry mens die oeroue Mar isa, ook wel Maor` isa. En wat beteken dit? Niks anders as: Die see verwarm.

[20] In die twee voorafgaande periodes koel die see, duidelik merkbaar vir die kusbewoners, af. Maar deur die grotere krag van die son, deur die stryd van die warm lug uit die suide met die koue lug uit die noorde, en tewens deur die in hierdie tyd meestal aktiewer wordende vulkane en ondersese lawastrome, word die see stadig maar seker warmer. Omdat die mense dit sien as `n gevolg van die storms wat in hierdie tyd optree, beteken die uitdrukking 'maor isat' so iets soos 'om te veg'. Hierdie tyd word daarom dan ook sinnebeeldig voorgestel deur `n geharnasde kryger, wat die mense later selfs tot `n god verhef. - Dit is dan jou derde hemelteken en dit sal jou nou wel duidelik wees watter betekenis jy aan julle oorlogsgod Mars moet heg.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205