Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 52

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die klip wat brood word

52 Na `n rukkie sê Ribar weer: "Ten minste sou ek tog graag van `n leerling wou hoor wat hy alles al geleer het by die Wonderheiland!"

[2] Ek sê: "O, dit is nie so moeilik nie! Dit is weliswaar tyd vir die middagete, en die gasheer sal nou binnekort daarmee klaar wees, maar daar is nog genoeg tyd vir `n klein toetsie met `n leerling. Juis die jongste sal dit doen en jou, as streng eksaminator, toon wat hy al kan doen! - Wil jy so iets probeer?"

[3] Ribar sê: "Inderdaad, want sonder ondersoek kan daar oor niemand geoordeel word nie!"

[4] Toe roep Ek vir Rafael, wat in feite streng genome tog ook `n leerling van My is, al is hy nou ook `n gees wat ligte materie dra. Nouliks geroep, staan Rafael blitssnel voor Ribar en sê: "Wat se toets verlang U van `n leerling van die Heer?" - Ribar dink na oor hierdie vraag en peins of hy iets kan bedink wat vir `n mens so onmoontlik sou wees dat niemand dit sou kon doen nie.

[5] Ek voeg nog daaraan toe: "Nou, Ek glo dat jou slimheid hiermee al bietjie op die proef gestel word!?"

[6] Ribar sê: "O, wag maar! 'Festina lente' (Haas jou langsaam) sê die Romeine! ‘Hostis cum patienta nostra victus’ (Geduld oorwin alles)! Ek sal die seun `n neut gee om te kraak waarmee sy kieste behoorlik moeite sal hê!

[7] Toe buk Ribar af, tel `n klip van etlike pond van die grond af op en sê glimlaggend vir Rafael: "Beste leerling van die goddelike Heer, wat dinge skyn te doen wat slegs vir God moontlik kan wees! As jy al iets almagtigs van Hom geleer het, maak dan van hierdie klip `n lekker, soet brood!"

[8] Rafael sê: "Kyk of die klip nog `n klip is!"

[9] Ribar probeer dit en sê: "Nou en of!"

[10] Rafael sê: "Probeer dit nou nóg `n keer!"

[11] Ribar probeer dit nog `n keer, breek die klip in stukke en merk dat die klip werklik brood geword het. Hierdie dergelike wonder in sy hande laat hom verstom staan, ja, hy word sigbaar bang en weet nie wat hy daarop moet sê nie.

[12] Maar Rafael sê aan hom: "Proe dit ook, want die oog is makliker te bedrieg as die verhemelte! Gee dit ook aan jou vriende om te proe, sodat ons getuies van die egtheid van hierdie transformasie kan hê!"

[13] Ribar proe eers ietwat versigtig aan die wonderbrood. Omdat dit vir hom egter baie goed smaak, neem hy van die een helfte `n behoorlike groot hap en gee die ander helfte aan sy vriende. Almal vind die brood buitengewoon smaaklik, soet en heerlik geurig.

[14] Toe vra Ek aan Ribar: "Wel, beste vriend, laat My jou oordeel hoor. Wat sê jy oor hierdie daad, deur `n leerling uitgevoer?"

[15] Ribar sê vir Suetal: "Broer, sê jy dit maar, jy is ietwat knapper as ek! Ek kan daar met my verstand nie bykom nie!"

[16] Suetal sê: "Sulke mense soos jy, wat hul eers graag aanmatigend opstel met hul bietjie verstand, is daar nou maar al te veel op hierdie wêreld. As daar dan egter iets gebeur wat hulle begrip ver te bowe gaan, staan hulle daarby soos `n vrou wat in owerspel betrap is! - Wat kan jy nou anders daarop sê as: Mathael het met elke woord gelyk waarmee hy op so `n waaragtige manier oor die groot Heer getuig het!

[17] As Sy leerlinge al in staat is tot sulke dinge, wat sal die goddelike Heer dan self alles kan doen?!"

[18] Ribar sê: "Dit is heeltemal waar en niemand van ons kan ooit daaraan twyfel nie. Tog sê en leer `n mens in die tempel as onomstrede waarheid dat bepaalde, buitengewone towenaars baie seldsame dinge skyn te kan doen deur die hulle ten dienste staande mag van Beëlsebul. Selfs die Romeine sê: ‘In doctrina aliena cauti, felices’ (Die geluk is met die versigtige leerling) en ‘Sapienta non incipit cum odio deorum’ (Die wysheid begin nie met die haat van die gode nie)!

[19] Suetal sê: "Hou maar op met jou dom Latynse spreuke en met jou eselagtige Beëlsebul mag jy vir ewig uit my buurt uit bly! Het jy dan nie so-ewe die goddelik wyse Mathael hoor praat nie en blyk daaruit nie duidelik dat die leer van die groot Heer elke mens deur die waarheid, die liefde en die daad na God toe bring nie? En sou die groot Heer Hom daartoe bedien van die leier van alle leuens en bedrog? Blinde esel wat jy nog altyd was, was daardie brood `n leuen, of was dit werklik brood?

[20] As Beëlsebul dit vir jou gemaak het, wat hy onmoontlik sou kon doen, dan sou jy nou in plaas van goeie brood `n klip in jou maag gehad het. Maar omdat dit werklik brood was, wat as te ware vanuit die hemel kom, voel jy net soos ek die nóu nog heerlike uitwerking van die waarlik goddelike, aangename smaak in jou hele liggaam!

[21] Waar het jy êrens in die hele Skrif gelees dat dit die satan ooit geluk het om `n wonder soos dít te volbring? Kyk eers na die wonders van Beëlsebul in die tempel! Wat was dit? Niks anders as gemene en welbekende bedrieërye nie, om daarmee by die mensdom, wat net so blind is soos jy, die goud en die silwer los te peuter en dit dan vir verdere, skandelike doeleindes te gebruik!

[22] Kyk, dít is wonders van satan, en dit is baie duidelik te herken!

[23] Maar hier is geen sprake van `n moontlike bedrog nie, hier gaan dit slegs om die maklik herkenbare, almagtige wil van JaHWeH! Hoe kan jy dan nog vra of so iets nie ook deur die mag van satan moontlik sou wees nie?! Waar het die satan dan ooit kon bewys dat hy iets van `n waaragtige mag in hom gehad het?"

[24] Ribar antwoord heel bedremmeld: "Nou, het hy dan nie by Sinaï gewen toe hy drie dae met Migael oor die liggaam van Moses gestry het nie?"

[25] Suetal sê: "Ja, daar het hy die stoflike oorskot van Moses verower! `n Mooi oorwinning! Wat meer weet jy?"

[26] Ribar sê: "Wel, is die verleiding van Eva en Adam niks nie?"

[27] Suetal sê: "Kan jy dit net so `n wonder noem as hierdie?! As `n wulpse jong dame jou al haar liggaamlike aantreklikhede toon en jou met wellustige oë uitnooi, is dit dan `n wonder as jy uit suiwer liggaamlike wellus in haar mooi, sagte arms sink? Sulke Adam en Eva-wonders vind daar helaas hedendaags maar al te dikwels plaas. Dit hoort egter altyd by die laagste en grofste, natuurlike eienskappe en daarin is werklik geen spoor van `n wonder nie, tensy jy alles vanaf die oerbegin van die skepping `n wonder wil noem! - Weet jy miskien van nóg so `n satanswonder?"

[28] Ribar sê: "Met jou is dit maar moeilik te prate! Maar wat is dan die aan ons bekende wonders van die afgodsbeelde van Babel en Ninevé? Is dit nie miskien deur satan tot stand gebring nie?"

[29] Suetal sê: "Wél vir blinde esels soos jy, maar nie vir siende mense nie. Hulle weet naamlik wel dat die buik van die bekende afgod in Babel snags deur vuur gloeiend gemaak word en dat die offers, wat deur sy wye bek in sy buik gewerp word, dus eenvoudig deur die natuurlike gloed verteer moes gewees het. Sulke wonders kan jy elke dag deur `n flinke vuur tot stand bring en daarvoor het jy nie in die minste `n satan nodig nie! Ek wil self nog met die medewerking van `n paar omgekoopte helpers `n aantal verskillende satanswonders laat sien, sonder dat daarby die hulp van `n satan nodig is. Elke kwade- en op wins beluste wil van `n slegte mens voldoen méér daaraan as satan.

[30] `n Satan ken niks en kan in der ewigheid niks doen nie - behalwe die ten gronde rigting van die vlees wat tog al geen waarde het nie, en daarvoor kry hy sy stinkende loon. Maar vir siel en gees kan hy nooit wonders doen nie, omdat sy wese self uit die mees geoordeelde materie bestaan! Ja, deur die satan kan jy nog meer aan die materie gebonde word as wat jy alreeds is, maar onstoflik word jy deur hom ook geen oomblik nie! - En gaan nou maar verder, as daar nog meer satanswonders jou te binne skiet!"

[31] Ribar sê, heeltemal terneergeslaan: "In daardie geval ken ek natuurlik geen ander satanswonders meer nie, en dan erken ek hierdie suiwer wonder wat die jong en lieflike leerling van die groot Heer tot stand gebring het. Maar jy kon gerus `n bietjie vriendeliker met my gepraat het, dan sou ek jou ook nog goed verstaan het!"

[32] Suetal sê: "Daarin het jy wel gelyk, maar jy weet reeds lankal dat ek my altyd opwen as `n mens, veral `n ontwikkelde een, by my aankom met die ou sprokie oor `n Beëlsebul, asof die wêreldse mense al nie genoeg Beëlsebuls was nie! En by so `n suiwer goddelike aangeleentheid, sal ek dit verseker doen! Dan kan ek werklik van ergernis uit my vel uit spring!"

[33] Ribar sê: "Nou, nou, alles is al weer goed! ‘In medio beati’ (Die geluk lê in die middel) sê die Romeine. 'Nooit te opgewonde en nooit te lou nie' is die kern van alle wysheid en die hele lewenskennis. Die waarheid is, as jy my verstaan, broer, ook sonder esel en stoflike oorskot te verstane!"

[34] Suetal sê: "Ja wel, ja wel, maar in regverdige ywer weeg mens die woorde waarmee `n mens iemand teregwys wat met te domme besware te voorskyn kom, nie op `n goudskaaltjie af nie! Maar omdat jy die waarheid nou ietwat beter begin insien, sal jy sulke uitdrukkings van my ook nie meer so maklik hoor nie!"

[35] Toe sê Ek: "Wel, is alles nou weer in orde by julle?"

[36] Beide sê: "Heeltemal!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205