Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 166

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Weersien en kennismaking

166 Toe die nuwe aankomelinge aan land gestap kom en My daar sien staan, maak hulle almal dadelik hulle arms wyd oop en trane van vreugde vloei vanweë die weersien met My.

[2] Cornelius begroet ook aanstons sy broer Cyrenius en sê: "Ja, as julle hier is, kan ek my maar net buitengewoon verheug om weereens gelukkig bymekaar te wees!"

[3] Faustus, Kisjonah en Philopold kan egter vanweë hul vreugdetrane nog geen woord uitkry nie, en ook die dienare is baie verbaas om My weer hier aan te tref.

[4] Cyrenius vra vir Cornelius wanneer hy van die lot van die stad Caesarea Philippi gehoor het.

[5] Cornelius antwoord: "Eintlik is dit glad nie aan my deur `n boodskapper vertel nie, maar ek het maar net `n sterk vermoede gehad! Gister was dit in alle opsigte `n skouspelagtige dag: Ten eerste, `n totale sonsverduistering wat ons op `n klaarligte dag ongeveer dertig tellings lank volkome nag gebring het, maar teen die aand, toe dit eintlik nag moes word, behaag dit die son om nog `n paar uur langer bo die horison te bly, wat natuurlik by die Judeërs, Grieke en Romeine onbeskryflike opskudding verwek het.

[6] As die teenwoordige owerste van die fariseërs, wat nou `n groot vriend van ons ou Jaïrus is, nie `n baie wyse en nugtere man was nie, soos ook sy buurman in Nasaret, sou beide plekke ook `n prooi van die vlamme kon geword het. Die owerste het die angstige, opgewonde volk wat dit gesien het, baie verstandig toegespreek, sodat hul die uitleg aangeneem het en grotendeels gekalmeer het. Diegene wat te opgewonde was het ek laat opsluit, gee toe vir hulle die uitleg en het hulle vanmore al weer vrygelaat.

[7] Maar nadat ek in Kapérnaüm en Faustus in Nasaret die goeie orde en rus herstel het , kom Faustus spoedig uitasem na my toe in Kapérnaüm, want hy het vanuit Nasaret in hierdie rigting in `n sterk rooi vuurgloed gesien, en het gedink dat daar in Kapérnaüm mense was wat handuit kon geruk het. Maar toe hy in Kapérnaüm aankom, tref hy alles rustig aan. Tog kom hy na my toe en vertel van die sterk, rooi vuurgloed. Ek gaan toe saam met hom en `n groot aantal bediendes die hoogste heuwel in die buurt van Kapérnaüm op. Daarvandaan het ons wel die rooi gloed altyd beter en sterker gesien, maar geeneen van ons was in staat om vas te stel welke plek deur die ongeluk getref was nie. Eers vanmore vroeg, toe die son maak dat ons die rigting beter kon bepaal en ek, hoewel veraf, aan die hand van die dik rook kon vasstel dat dit afkomstig kon wees uit die omgewing van Caesarea Philippi, besluit ek en Faustus om PER MARE (oor see) hierheen te vaar, en te ondersoek wat hier ten prooi geval het aan die vlamme.

[8] Toe ek by die see kom en `n skip wou neem, kom ons Kisjonah net daar aan saam met Philopold, wat my die boodskap bring dat hy vanaf `n aansienlike hoogte in sy berge, duidelik Caesarea Philippi aan die brand sien staan het.

[9] Na die berig, wat ook bevestig was deur die huidige siener Philopold, skeep ons onsself vinnig in op die skip van vriend Kisjonah, en het regstreeks hierheen gevaar, so goed soos dit ondanks `n teenwind gegaan het. Onderweg oortuig ek my meermale vanaf die hoë see, dat dit Caesarea Philippi was, en ek het in groot angs gesit oor diegene wat hier in die moeilikheid moes wees.

[10] En hier het hierdie onverwagte, heilige ontmoeting met die Heer van alle heerlikhede, met Sy leerlinge en met jou, dierbare broer, my toe oorgekom! Ag, alle angs het verdwyn, want alles is nou heeltemal in orde!

[11] Maar nou kom ek na U, U my alles, my grootste vriend, my mees heilige, ewige Heer! O, my beste vriend Jesus! Kyk, hier help al U almag niks teen my oorgrote liefde vir U! U moet U nou dubbel en dwars deur my laat omarm! In gedagte het ek dit elke dag wel meermale gedoen, maar tans doen ek dit ook een keer in die tasbare werklikheid!"

[12] Met hierdie woorde slaan Cornelius sy arms om My heen, druk My haas krampagtig aan sy hart, en bedek My hoof met warme kusse en trane van diepe vreugde. Nadat hy op hierdie wyse uiting gegee het aan die drang van sy edele hart, laat hy My saggies weer los en sê diep ontroerd: "Majesteit, Heer, God en Skepper van die geestelike en materiële oneindigheid! Beveel my tog iets goeds wat ek nou moet doen! U ken tog my hart!"

[13] Ek sê: "Jy ken My hart ook! Doen wat jou hart jou ook maar in My Naam sal sê, dan het jy vir jou en vir My genoeg gedoen! Omdat jy My hier egter deur die drang van jou hart met krag na jou toe getrek het soos niemand dit nog gedoen het nie, sal ook Ek jou nog op hierdie aarde kort na My verheerliking op `n ander wyse met krag na My toe trek, waardeur nóg jy, nóg `n lid van jou huis, die liggaamlike dood sal sien, voel of smaak nie!

[14] Jou liefdesbetuiging het My tot in My diepste innerlike bly gemaak, en daarmee het jy My iets gegee waarvan die ewigheid tot op hierdie oomblik geen tweede voorbeeld ken nie - behalwe soos van klein kinders, wat die Vader vroeër herken as die volwassenes. Maar laat jou nou ook deur My omarm!"

[15] Cornelius antwoord, huilend van vreugde: "Majesteit, Heer en God, so `n heilige barmhartigheid is te groot vir my, en dit is ek in ewigheid nie waardig nie!"

[16] Ek sê: "Wel, dan maak Ek jou waardig. Kom dus maar na My!"

[17] Cornelius kom na My toe en Ek omarm hom. Dit maak dat hy hard begin te huil en te snik, en baie dink toe dat hy iets makeer omdat hy so huil. Maar hy vermaan hulle en sê: "Kalmeer maar! Ek makeer niks, dit oorweldig my net, en die vreugde veroorsaak hierdie trane."

[18] Dan kom Kisjonah na My toe en vra My baie treurig: "O Heer, dink U ook nog aan my en is U nie kwaad vir my nie?"

[19] Ek sê: "Broer, hoe kan jy dit nou vir My vra?! Jy hou van My bo alles en Ek hou net soveel van jou, - wat wil jy dan nog meer? Herinner jy jou dan nie meer dat Ek in vertroue aan jou gesê het dat ons tot in ewigheid vriende en broers sal bly nie?! En kyk, dit wat Ek gesê het, geld wat My betref vir ewig. As jy ook bly is, sal dit wat jou betref, ook vir ewig geld, en daarby moet dit bly! - Is jy nie daarmee tevrede nie?"

[20] Kisjonah sê: "O Heer, daarmee is ek baie tevrede, en ek is onuitspreeklik gelukkig om weereens `n heilige woord uit U heilige mond te hoor!"

[21] Ek sê aan Kisjonah: "Jy sal daar nog baie hoor! Maar kyk nou eers na die vyftig fariseërs, dan sal jy daar `n aantal herken wat aanwesig was by die belangrike gebeurtenis wat hom by jou afgespeel het!"

[22] Kisjonah, Cornelius en Faustus bekyk die vyftig aandagtig, en Kisjonah, wat `n goeie geheue gehad het, ontdek dadelik agt manne wat ook tydens die groot transport deur die gebergte aanwesig was en sê toe: "So, wat doen hulle hier?! Is hulle hier as gevangenes, omdat hulle miskien by `n nuwe transport of by `n ander skurkestreek betrap was?"

[23] Ek sê: "Niks daarvan nie! Die nason van gister en die daaropvolgende brand van die stad, waaraan hulle sekerlik self die meeste skuld aan gehad het, het hulle in ons hande laat val en hulle is nou heeltemal aan ons kant, en is wettige Romeinse burgers.

[24] Want sien jy, Ek is al ongeveer sewe dae hier, en dit maar net omdat hier goeie visse is. Hier vang `n mens die beste vis uit die natuurlike see, en daarby ook die voortreflikste, geestelike visse uit die geestelike see! En ons het hier gedurende hierdie tyd al werklik `n baie besiens- en gedenkwaardige oes ingebring!

[25] Kyk eers na hierdie vyftig. Hulle is die vangs van vandag en daar is geen sieke daarby nie! Verder op sien jy nog `n groep van dertig, almal kerngesond - die vangs van gister! Dan sien jy daar aan `n tafel twaalf, ook heeltemal gesond, ook `n vangs van gister! Daar by die tente sien jy daar nog vyf van baie goeie kwaliteit, ook van gister! - Sê My, of dit geen goeie werk is nie!"

[26] Kisjonah sê: "Ja, helaas, as hulle almal gewen is, sal hulle `n groot hulp wees vir U verkondigde ryk van God op aarde, veral omdat hulle byna almal tempeldienaars blyk te wees, waarvan die oues baie moeilik hervormbaar is! Dit is natuurlik wel so, dat as hulle eers eenmaal hervorm is, hulle ook rotsvas daarvan oortuig sal wees!

[27] Maar daar sien ek ook die brawe burger Ebahl uit Genésaret met sy dogter, hoort hy ook by die vangs?"

[28] Ek sê: "Sekerlik, maar hy het al by die groot visvangs in Genésaret saam met sy hele huis in ons net gekom, en die meisie was daarby één van die waardevolste visse! Vir haar sal jy wel nog beter leer ken, en jy sal baie vreugde met haar beleef. Wat betref sielewysheid en suiwerheid van hart is daar maar baie weinig hier wat hulle met haar kan vergelyk! Hierdie getuienis gee Ek die meisie, wil jy nog `n beter en geloofwaardiger een hê?"

[29] Kisjonah sê: "O Heer! U getuienis is die beste! Maar ek sal myself daarom verheug om met hierdie meisie `n gesprek te begin."

[30] Faustus sê dan vraend aan My: "Maar daar staan sowaar koningstente!? Die ou man is heeltemal soos `n koning geklee, - so ook die jong man, wat hom nou met die jong vrou besig hou! Behoort hulle óók by die vangs vir die hemel van liefde en lig?"

[31] Ek sê: "Ongetwyfeld, hy is `n koning uit Pontus! Sy ryk is groot en hy het sy volk baie wys bestuur deur wette, wat wel matig is, maar tog uiters streng gehou moet word. Hy verstaan egter dat `n mens, as `n mens `n volk heeltemal gelukkig wil maak, eers self die waarheid en die enige, ware God moet ken. Hy het op weg gegaan en suidwaarts getrek, omdat hy gehoor het dat hierdie kennis net in Jerusalem te vinde is. Op die reis het hy by hierdie binnesee aangekom, en wou dit oorsteek om Jerusalem te bereik.

[32] Deur die sonsverduistering van gister het hy egter in groot gevaar beland, waaruit Ek hom deur My engel laat red het en hierheen laat bring het; daarom is hy nou hier. Hy en sy dogter Helena het slegs met die noodsaaklikste bediendes hierheen gekom.

[33] Die jong koning was egter eers `n opkomende tempeldienaar, en moes as `n baie talentvolle mens in die wêreld die missie gaan bedryf. Op die grens tussen Judéa en Samaria val hy met nog vier metgeselle in die hande van rowers, en word gedwing, saam met sy metgeselle, om hul medepligtiges te word. Dit het soveel woede en vertwyfeling by die vyf veroorsaak, dat hulle hul siele diep in hulle gees verberg het. Hul liggame word toe deur die uiters hardnekkige, uit die hel afkomstige, kwaai geeste volledig en aktief in besit geneem. Alleen `n groot Romeinse patrollie was in staat om die vyf duiwels, soos die volk hulle genoem het, te oorweldig. Alleen onder baie sterk bewaking, en swaar geketting, kon hulle eergisteraand hierheen gebring word. Volgens die streng Romeinse wette, het daar in Sidon alleen maar die pynlikste doodstraf gewag.

[34] Ek het egter hulle siele en hulle gees gesien, het hul liggame gesuiwer van die bose, helse geeste, en nou kan jy met hulle praat om jouself te oortuig met watter geesteskinders jy te doen het! By name Mathael - tans die eggenoot van die dogter van die koning, en wat nou self onderkoning - is `n mens waarvoor elke aardbewoner respek moet hê.

[35] Hy is, vir sover dit tot nou toe moontlik was, heeltemal geestelik wedergebore, en sal `n bekwame werktuig vir My wees teen die heidene van die uitgestrekte noorde. As jy met hom praat sal jy self ondervind hoe groot sy gees is."

[36] Cornelius vra: "Maar Heer, wie is dan die seun, - nie Josoë wat ons reeds uit Nasaret ken nie, maar die ander, wat nou juis met die meisie praat?"

[37] Ek sê: "Hy is die engel waarvan Ek julle so baie vertel het, dat hy gister die ou koning en sy dogter gered het. Hy is nou al byna drie weke onder die sterflike mense, en Ek het hom spesiaal as opvoeder vir die meisie gegee, maar nou staan hy ten dienste van elkeen van Myne."

[38] Philopold vra: "Wie is nou ons gasheer hier en hoe heet hy?"

[39] Ek sê: "Hy is `n Romeinse veteraan, `n baie troue en waarheidsliewende siel. Hy het ses kinders, twee seuns en vier goeie, liewe, gehoorsame dogters, en ook `n voorbeeldige, brawe vrou, wat maar net doen wat haar regverdige man sê.

[40] Daarom het Ek dit ook goedgevind om nou by hierdie voorheen baie arm familie My huidige intrek te neem. So kan julle dan sien dat die agt mense vir honderde `n middagete klaargemaak het, wat vir julle almal baie goed sal smaak. Kyk, die ou herbergier kom al na ons toe, om aan te kondig dat die middagmaal gereed is!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205