|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 146
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Die karakter van die owerste
146 Nadat die owerste `n bietjie diep nagedink het, sê hy: "Hoe kan u my nou ten aanskoue van elkeen bewys dat ek in my hart iets anders dink, as wat ek met my mond sê, en dat ek self nie glo wat ek die volk leer nie?! As my voorouers hulle aan die profete vergryp het, wat ek nie kan en sal ontken nie, wat kan my dan daarvoor ten laste gelê word as skuld, terwyl ek alle heilige sieners van God altyd baie hoog geëer het?! As duisende van my kollegas moontlikerwys dit wat hulle leer nie glo nie, wat se bewys is dit dan dat ek dit ook nie glo nie?!"
[2] Cyrenius sê: "Die voor die hand liggende bewys lê daarin dat u, te oordeel aan wat u sê, `n heeltemal te verstandige man is om die grootste onsin te kan glo, asof dit `n waarheid is wat deur God gegee sou wees! U is rekenkundig onderlê en rekenkundiges sien tog werklik nie so maklik `n muggie vir `n olifant aan nie, dit sal u tog wel met my eens wees!"
[3] Die owerste sê: "Maar wat is die onsin dan, wat ek as rekenmeester onmoontlik sou kan glo?!"
[4] Cyrenius sê: "Glo u byvoorbeeld in u hart aan die wonderbaarlike, heilsame werking van die tempelmis, wat u, sover ek weet, self elke jaar meestal so hoog aangeprys het?! Glo u in die genesende werking van elke nuwemaan?! Glo u werklik dat JaHWeH net so aanwesig is in die nuwe nagemaakte ark van die verbond, soos wat Hy was in die deur u reeds lank veragte ou, Mosaïse ark?! Glo u dat die naftavlam op u ark dieselfde is as die vreemde, heilige vuur- of rooksuil bo die ark van die verbond, wat Moses uit Egipte voorgegaan het?! Glo u werklik dat dit vir `n mens meer waarde het om in die tempel te offer, as volgens die gebooie van God hulle ouers lief te hê, en hulle in alle goeie dinge gehoorsaam te wees?!
[5] Sê my eers openlik of u dit, met daarnaas nog talle ander soortgelyke, van elke menslike verstand gespeende stellings uit u leer, glo! Want as u dit werklik self glo - wat vir my onmoontlik lyk - dan is u werklik nog dommer as `n kameel, en sal u orals beter dien behalwe as `n leraar van die volk. Glo u dit egter nie, en leer u tog die arme volk met vuur en swaard sulke slegte onsin, waaraan u as `n man wat in kennis en wetenskap ontwikkel is, nooit kan glo nie, dan is u `n veragtelike volksbedrieër, en dien u reeds uit `n politieke staatsoogpunt baie beter om gestraf te word in `n ewige strafgevangenis as om `n leraar van die volk te wees!
[6] Kyk, dan is die Scylla en die Charibdis werklik met u klaar! Ek gee u `n keiserlike ereteken as u in staat sou wees om dan ook vir `n middeweg te ywer, en verontskuldiging aan te voer!"
[7] Daarop begin die owerste baie benoud te word en weet geen raad meer nie.
[8] Herme, die sanger - of liewer, die boodskapper uit Césarea Philippi - sê aan Cyrenius: "Geëerde gebieder! Nou sit hy heeltemal verstrik in die net, en sien hy geen uitweg meer nie! O, hierdie vervolger van al die goeie en ware het dit volkome verdien! As ek hom nie so goed geken het nie soos wat ek hom ken nie, dan sou ek selfs medelye met hom kon gehad het, want dit het ek gou met nog erger sondaars as hulle in die pekel is. Maar hierdie kêrel sou ek in lewende lywe kon sien braai, en dit sou my dadelik genoeë gee! Dit is hier nie die tyd en die plek om u mee te deel wat daar alles vertroulik onder mekaar vertel word oor hierdie meester owerste nie, maar u kan daarvan verseker wees dat daar geen enkele goeie haar aan sy lyf sit nie!
[9] Deur u regbanke word talle tot die kruisdood veroordeel wat as mense baie beter is as die gewetenlose ellendeling daar! Ek is egter geen regter nie, en mag daarom ook niemand veroordeel nie, maar ek is tog wel baie bly dat hierdie kêrel so mooi in die net verstrik geraak het!"
[10] Mathael sê glimlaggend: "Maar daar moet wel baie goed opgelet word of hy die net nie stukkend trek en ons almal dan nog in ons gesigte uitlag nie! Tot nou toe het hy hom nog baie gematig uitgelaat, maar as hy werklik in die hoek gedryf sal word, sal u, Cyrenius, wel merk hoe hy hom sal verweer! Ek ken hom nou deur en deur, hoewel ek hom ook al van die tempel af ken! Kyk, hierdie een het dertig jaar gelede die hand geslaan aan die hoëpriester Sagaria en hom tussen die offeraltaar en die allerheiligste, geskei deur die voorhangsel, vermoor! - Maar nou niks meer daaroor nie!"
[11] Herme sê verheug: "O, ek ken nog `n aantal dergelike streke van hom, maar daar is nie voldoende bewyse daarvoor nie, en daar is dus weinig of niks aan te doen nie!"
[12] Cyrenius sê, stomverbaas oor die mededeling van Mathael: "Ag, wat sê jy my nou?! Dus het hierdie kêrel, volgens die getuienis van alle mense, die baie vrome en wyse hoëpriester se lewenslig uitgedoof? Dit is goed dat ek nou iets daaroor weet, al die ander sal ek wel in orde stel!"
[13] Toe gee Cyrenius die hoofman Julius `n wenk om wagte uit te stel, sodat niemand van die ortodokse fariseërs kon ontkom nie.
[14] Julius gee dadelik `n geheime bevel en die bevel van Cyrenius word uitgevoer. Maar die owerste merk tog iets daarvan en vra vir Cyrenius: "Vir wie word dit gedoen?"
[15] Cyrenius antwoord: "Dit gaan u, nog iemand van u gespuis, iets aan nie, want aan menslike monsters soos u gee Cyrenius geen antwoord meer nie! Want u is nie net `n ellendige volksbedrieër nie, maar ook `n geestelike en liggaamlike volksmoordenaar. Ek wag nou slegs nog op `n berig van die bestuurder uit die stad, en op die aankoms van Cornelius, Festus en Kisjonah uit Kis, daarna sal ek u wel sê waarom ek nou die wagte laat uitsit het!"
[16] Die owerste sê: "Goed, dan sal ek u egter ook eers vertel waarom ek eintlik hier is!"
[17] Toe haal die owerste `n perkamentrol uit sy opperkleed, toon dit aan Cyrenius en sê: "Ken u die seël en hierdie handtekening?!"
[18] Cyrenius sê verbaas: "Dit is die seël van die keiser en sy handtekening! - Wat beteken dit?"
[19] Die owerste sê: "As dit nodig is, sal u die inhoud leer ken! Ek raai u daarom aan om elke verdere ondersoek teen my te staak, anders sal hierdie rol u baie onrustig kan maak! Ek het u nog altyd as `n opregte man beskou, maar dink daarom dat u hierdie saak nie op die spits moet dryf nie, anders sal ek van hierdie rol, wat u net so goed soos elkeen volledig moet eerbiedig, baie onaangenaam teen u gebruik!
[20] Helaas, ek sou die gedugte wapen nie uit my mantelsak gehaal het as u my nie daartoe gedwing het nie. Maar u het begin om my soos `n wurm te vertrap, en dan word dit hoog tyd om aan u te toon dat u nog lank nie alleen meester is op die grondgebied nie! Ek dink dat dit nou maar beter is om die wagte terug te trek, omdat ek andersins genoodsaak sal word om, ondanks die sabbat, langs u wagte ook die van my te plaas!
[21] My nou geheel en al ander taal steur u sekerlik `n bietjie, hè?! Daarvoor kan ek egter nie help nie, want u taal het my ook gesteur! Kortom, ek ken u nou en nou ken u my ook! Doen nou maar wat vir u verstandig en goed lyk, dan doen ek dit ook! - Het u my wel heeltemal verstaan?!"
[22] Na hierdie woorde keer die owerste soos `n heerser vir Cyrenius die rug toe, begeef hom met sy eie na die oewer van die see, en gedra hom daar soos iemand wat vir noodgevalle van die keiser groot magte gekry het. Maar Cyrenius bevind hom nou in groot verleentheid en weet nie wat hy moet doen nie.
[23] Nou sê Mathael: "Sien u, hooggeëerde, hoe hierdie kêrel hom teenoor u met alles wat hy maar vir sy veiligheid nodig het, reeds lank fisiek en moreel goed verskans het soos in `n soort vesting?! Daarom is dit baie moeilik, en haas nie moontlik om reg te spreek nie, omdat hierdie mense - God weet op watter slinkse maniere - in staat was om aan hulleself die hoogste, geheime voorregte te verskaf, waarteen mens baie moeilik kan stry!"
[24] Cyrenius sê: "Maar beste, wyse Mathael, sê jy my nou eers op watter wyse hierdie menslike, veelkoppige Hydra heeltemal sonder my aan `n ondertekende veiligheidsdokument deur die keiser gekom het?! Ja, ons kan nou niks anders doen as om op die een of ander wyse ons kalmte te bewaar nie! Ek is tog wel benoud wat die Heer daarvan sal sê!"
[25] Mathael sê: "Waarskynlik sal Hy ook nie so graag die regte antwoord daarop gee nie, want Hy het wel vantevore geweet waarom Hy hierdie groep vir u vir ondersoek gegee het, en dit lyk of Hy weinig aandag aan ons besprekings geskenk het!"
[26] Cyrenius sê: "Maar ons moet Hom tog nou vir raad vra!"
[27] Mathael antwoord: "Sekerlik, daaraan het ons wel `n dringende behoefte!"
|
|
|
|
|