|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 138
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Cyrenius laat getuies uit Césarea haal
138 "Maar nou skiet daar iets my te binne! Ek sal dadelik `n bode na die distriksbestuurder laat gaan. Hy moet die nodige aanklaers en getuies vir my uit die stad stuur. Hulle sal oor hierdie jakkalse wel die nodige weet en dan dryf ons hulle so in `n hoek!"
[2] Mathael sê: "Dit lyk vir my na `n goeie gedagte! Op die minste bereik u daarmee dat u hulle dan kan laat bewaak. Maar dit moet egter vinnig gedoen word!"
[3] Cyrenius laat daarop twee ruiters kom en lê aan hulle uit wat hy van die distriksbestuurder wil hê. Hierdie twee ruiters galoppeer dadelik na die stad.
[4] Maar wanneer die onder mekaar mompelende, ortodokse fariseërs dit opmerk, kom die owerste weer na Cyrenius toe en sê: "Heer en gebieder, waarom laat u die ruiters na die stad gaan? Stuur u hulle terwille van óns daarheen? Wil u daardeur ons wettige aansprake, wat selfs deur u wet bekragtig is, vernietig? Heer, dit sal moeilik gaan, want die wet en God staan aan ons kant! As u dink dat u nuwe wette kan gee, dan sal dit u vir die oomblik net so min kan help as die oue, want `n nuwe wet kan nooit met terugwerkende krag geld nie!"
[5] Cyrenius antwoord ietwat vererg: "Praat as u gevra word! U versoek ken ek en u rekenskap ook! Nou hang alles slegs van my af. Ek moet met myself en met my amptenare in beraad gaan of u petisie die keiserlike goedkeuring kan kry!
[6] As u die strenge ondersoek slaag, sal aan u wens voldoen word. Slaag u egter nie, dan is daar vanselfsprekend nie van enige vergoeding enige sprake nie, maar volg daar nog `n straf vanweë die brutaliteit dat u dit gewaag het om, as strafbare mense, van die staat nog `n guns te vra ter dekking van u sonde! Dink goed daaraan! `n Opperstadhouer van Rome oordeel baie anders as u! Hy gaan in sy oordeel nooit af op die guns en die uiterlike aansien van die persoon nie, maar oordeel altyd sonder enig standsonderskeid streng volgens die wette en bevoegdhede.
[7] Let daar dus goed op hoe dit daar in die geheim met u gewete voor God en die mense staan! Want van u as sogenaamde dienaars van God - hoewel God geen bediendes nodig het nie, daar Sy almag en alwysheid, Sy alomteenwoordigheid en alwetendheid Hom sonder meer reeds van ewigheid hier die beste dienste verleen - en van u as volksleraars word meer rekenskap verlang as van die ongeletterde volk, wat wel vir die hoogste nood slegs sommige baie globale wette ken, en daarvan selfs nie besef watter gees daaruit praat nie.
[8] Maar u ken wet en gees en móet dit ken en móet ingewyd wees in alle waarheid. Daarom sal u ook insien, waarom van my kant net vanweë die volk baie strenger teen u opgetree word as teen enige iemand in besonder! Want as u nie net so suiwer was soos die son nie, sou u nooit as te nimmer geskik gewees het vir u amp nie! Daarom gaan dit u ook absoluut niks aan wat ek, hetsy vir u beskuldiging, hetsy vir u verdediging uitvoer nie! Gaan dus weg en sit u versoek op die een of ander wyse op perkament en lewer dit in dat ek een bewysstuk meer, vir of teen u, in my hande het!"
[9] Die owerste sê: "Edele meester en gebieder! Dit is vandag `n sabbat van die nuwemaan, en dan is elke werk ons verbied. Op hierdie heilige dag moet die mens hom in alle liggaamlike rus, slegs geestelik met God besighou. Ons mag wel praat, maar nie tot sonsondergang skryf nie. Na sonsondergang sal ons u die versoek wel skriftelik voorlê."
[10] Cyrenius vra: "Het Moses u die voorskrif vir die spesiale hou van die sabbat van die nuwemaan gegee?"
[11] Die owerste sê: " Nie Moses direk nie, maar sy opvolger, deur wie se mond die Gees van God ook meermale net so gespreek het as deur die heilige mond van Moses."
[12] Cyrenius sê: "Daaraan twyfel ek tog sterk! Want die Gees van God praat duidelik uit die suiwer Mosaïse wette en voorskrifte, maar die vier van u nuwemaan gee slegs `n blyk van `n growwe bygeloof, en `n hele skeepslading vol bot, menslike domheid. Wat is die nuwemaan? U weet dit nie, maar ons weet dit en moet daarom luidkeels lag vir u viering van die nuwemaan. En ons geleerdes, wat baie verstaan, verbaas hulle daaroor hoe dit tog moontlik is dat in die onmiddellike omgewing van Grieke, Romeine en Egiptenare, sulke domkoppe en ongehoorde duisterlinge kan voorkom, wat nie eers weet wat die maan in wese is en wat `n nuwemaan is nie! - Vertel my eers watter idee u oor die maan het!"
[13] Die owerste sê: "Edele meester en gebieder, sê u ons liewer wat u mening is oor die maan, dan sal ons u ook vertel wat ons daarvan dink!"
|
|
|
|
|