Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 154

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die owerste bekeer sy kollegas

154 Stahar se kollegas het hulle intussen vir die grootste deel aan die oewer van die see versprei, terwyl daar ook `n aantal op die erf gewandel het. Maar Stahar roep na almal aan die oewer en toe hulle versamel was, sê hy aan hulle: "Vriende! Het julle die jongman hoor praat en gesien wat hy doen?"

[2] Die woordvoerder van die kollegas sê: "`n Bietjie, maar nie alles nie. Ons het gemeen dat die Romeinse stadhouer alles so netjies in `n skouspel gesit het om ons almal in sy net te verstrik, en ons dink toe: Ver verwyderd van die boog is `n mens veilig vir die pyl! Ons het tog alles al verloor, - die bedelstaf is ons deel! Die stad brand nog altyd! Wat moet ons doen? Die Romeine weet wat ons vir die volk beteken! Sonder ons guns, wat moeilik te verkry is, sal hulle heerskappy in Asië hulle duur te staan kom! O, so `n Romein soos Cyrenius, wat alle middele van die drie wêrelddele ten dienste staan, ken alles!

[3] Gee my slegs `n massa goud en silwer en dan word ek ook `n wonderdoener, miskien nie so soos die wonderjonge nie, - maar ek sal tog buitengewone wonders teweegbring!"

[4] Stahar sê: "Vriend, jy is dwaas as jy so praat, en nog nie eers die onderskeid weet tussen `n werklike en `n nagemaakte wonder nie! Ek het alle besware na vore gebring, en alle redelike teenargumente gebruik, maar met al my geopperde teenwerpings het ek smadelik deur die mandjie geval toe die jonge my my geheimste gedagtes begin voorhou! Daardeur het ek eers my ou, groot vergissing ingesien, en daarom kom ek nou na julle toe om dit wat ek gesien en gehoor het aan julle oor te dra!

[5] Die jonge is ongetwyfeld `n engel van God, en hy getuig dat die beloofde Messias reeds in die wêreld is, en die blindes siende, en die dowes horende en verstandig maak, en dat dit selfs moontlik is dat ons Hom nog hier te siene en te spreke sal kry.

[6] Ek glo nou alles en julle almal moet dit ook glo! Want ek is werklik nie een wat iets so maklik aanneem en glo nie. Ek moet eers haarfyn en grondig oortuig wees van iets voordat ek dit aanneem, maar as ek eenmaal oortuig is, staan dit ook so vas soos `n rots van graniet, en kan niemand my dit meer ontneem nie!

[7] Omdat dit so by my is, kan julle dit sonder verdere bedenkings ook wel van my af aanneem! Want julle almal bymekaar is nie in staat om meer kommentaar te lewer as wat ek reeds gelewer het nie, maar al my besware was afgestraf as leuens! En omdat alles oor die Messias uiteindelik vir my net so duidelik geword het dat l en l saam 2 is, daarom kan julle my nou wel sondermeer glo!"

[8] Die woordvoerder van die kollegas sê: "Dit vind ons almal goed, maar die vraag is nou wat ons volgens jou moet glo!"

[9] Stahar sê: "Is julle dan doof?! Sê ek dan nie vir julle dat die jongman waaragtig `n engel van God is nie, dat die Messias in die wêreld is en dat ons Hom Self sal sien en hoor nie?! Dit en niks anders moet julle glo!"

[10] Die woordvoerder van die kollegas sê: "Goed! As jy glo en selfs rekeningkundig van hierdie saak oortuig is, kan ons nie daaraan twyfel nie. Maar `n mens moet by die nuwe verskynsels, wat nooit vroeër voorgekom het nie, ook altyd daarmee rekening hou dat die beste swemmers wel eerste verdrink, die onverskrokke bergklimmers van die berg afstort, en diegene, wat sogenaamd vas in die geloof staan, uiteindelik vroeër gaan twyfel as diegene wat iets onverstaanbaars nie so vinnig verstaan het nie, en nie dadelik sê dat hulle `n rotsvaste geloof het nie!

[11] Jy staan by ons bekend as iemand wat nooit so vinnig iets glo nie, en daarom neem ons jou woord asook jou voorwaardes aan, maar `n versigtige terughoudendheid kan nooit skaad nie! Want ons weet uit die Skrif, dat menige profeet wat wonders gedoen het, teen die einde van sy lewe `n goeie eenvoudige, swak mens geword het! Op die laaste blyk dit eers wie se geesteskind so `n profeet was. Daarom moet dit ook hier goed in die oog gehou word."

[12] Stahar sê: "Dit neem ek alles op my verantwoordelikheid. Ek besef goed dat ons nie daarmee by die tempel kan aankom nie, maar ons sal weet om onsself ook daarteen te beskerm! Uiterlik bly ons - maar ietwat verstandiger - wat ons was, en betaal die tempel die vasgestelde bydrae, maar in ons binneste moet dit nou ontsettend verander, en na verloop van tyd sal ons ook die volk in iets beters kan inwy.

[13] As julle nou almal dieselfde wil en glo soos ek, kan ons nou gesamentlik gaan na die plek waar die opperstadhouer en die jongeling hulleself bevind, daar nog meer aan ons duidelik gemaak word!"

[14] Die kollegas is dit daarmee eens en gaan na Cyrenius toe, en toe hulle daar aankom, sê Stahar: "Hier is ons dan, en ons staan nou heeltemal en al tot u diens. Wat u wil, sal ons ook doen, en niemand sal ons ooit meer teen u opsteek nie! Laat die goeie, almagtige boodskapper van God egter ook hierdie broeders van my nog meer bevestig in die geloof van alles wat ek self in die begin moeilik kon aanvaar!"

[15] Cyrenius sê: "Nou sien u dat ons Romeine nie sulke onbarmhartige regters is soos wat u so lank al gedink het nie. Ons het egter `n streng regspraak en die volle waarheid! Wie daaraan voldoen, is ons vriend, verkry die Romeinse burgerreg, en geen regbank buiten die van Rome mag hom ooit veroordeel nie.

[16] Daarom is die eerste weldaad wat ek u gaan bewys, die skenk van `n Romeinse burgerbrief! U, met inbegrip van die owerste met vyftig man, kry dit direk! As u dit eers eenmaal het, sal ons wel sien wat daar alles vir u gedoen kan word!"

[17] Toe beveel Cyrenius sy dienaars om vyftig dergelike perkamentrolle te haal. Die dienaars gaan na die bagasiesakke van Cyrenius, en bring vinnig die gevraagde rolle. Toe dit op die tafel lê, vra Stahar aan Cyrenius: "Geëerde meneer, ons sal tog wel eers ons name vir u moet opgee?"

[18] Cyrenius sê, terwyl hy na die engel wys: "Kyk, hy is my snelskrywer, hy weet alles wat hy moet doen en ken ook u name. Hy sal die briewe klaarmaak waar u bystaan!" Toe vra Cyrenius aan Rafael om dit te doen.

[19] Rafael kom vinnig na die tafel toe waarop die vyftig rolle lê, rol dit, so goed moontlik, op die tafel uit, neem toe `n skryfstif wat met `n swart kleurstof gevul was, gaan vervolgens daarmee bliksemsnel oor alle rolle en sê toe aan Cyrenius: "Vriend, hier het u die gevraagde briewe in die Romeinse, Griekse en Judese taal, deel dit nou aan die betrokkenes uit!"

[20] Toe Cyrenius daarna begin om die briewe uit te deel, word die vyftig almal vreesbevange. Want die wonder was dadelik vir die vyftig te groot en te geweldig, en almal begin bewend in te sien dat hulle hulself nou in die nabyheid van God bevind het. Hulle bedank Cyrenius vir hierdie dubbele barmhartigheid, maar geeneen van hulle durf iets te sê of om iets te vra nie.

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205