|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 147
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Die owerste val deur die mandjie
147 By die oewer sê die owerste aan sy kollegas: "Dit het julle goed gedoen, want julle skynbare optrede teen my, waarvoor ek julle met my swye die teken gegee het, het net in tyd gekom! Nou is hulle uitgetel en weet nie meer wat hulle moet doen nie! As die drie aangekondigdes nou maar net nie kom nie; hulle is die enigstes wat dit nog vir ons moeilik kan maak! Veronderstel dat hulle ook nog die beroemde Násarener by hulle sou hê! Ja, sou dit so wees, val ons reusagtig deur die mandjie! Dan help niks ons meer nie!
[2] Na my mening moet ons nou probeer om so vinnig moontlik op see te kom en lynreg na Jerusalem gaan, want as die aangekondigdes eenmaal daar is, kan dit dalk gladnie meer moontlik wees nie! Cyrenius het die bewakers teruggetrek, niks staan meer in ons pad nie! Laat ons dus `n paar honderd meter hoër langs die oewer op gaan, dan sal ons daar wel `n vaartuig van `n Griekse visser aantref waarop hy ons in veiligheid kan bring!"
[3] Die kritikus sê: "Maar die volkswagte uit die stad! Hoe sal ons hulle vryspring? Want hulle sal agter struikgewasse op ons loer, en as hulle ons pak, is ons ook verkoop!"
[4] Die owerste sê: "Ja, dit is `n wanhopige besigheid! Wat sou jy daarvan sê as ons brutaalweg `n geleide vir ons veiligheid sou eis van Cyrenius?! Gesien die keiserlike dokument kan en mag hy ons dit nie weier nie! Gaan jy daarheen en doen dit!"
[5] Die kritikus doen dit. Maar Cyrenius het voor die tyd al raad by My gevra en Ek vertel hom toe natuurlik alles wat die fariseërs aan die oewer gesê en besluit het. Cyrenius weet nou waaraan hy toe was, en wat hy in die eerste instansie moes gedoen en gereël het.
[6] Toe die kritikus sy eis so brutaal en gebiedend moontlik aan Cyrenius stel, sê Cyrenius: "Vriend, die oorkonde het my wel eers laat skrik, want ek het toe nog nie geweet dat dit vals was nie! Maar omdat ek nou baie ander inligting hieroor gekry het, is ek nou nie meer verskrik nie en sal ek volstrek nie aan die eis van u owerste inwillig nie!
[7] Gaan sê u aan die owerste dat hy die bewese oorkonde dadelik aan my moet uitlewer, anders sal dit met geweld van hom afgeneem word. As hy egter probeer om die dokument te vernietig, dan kan hy vandag nog reken op die kruisiging! - Gaan heen en sê dit vir hom!"
[8] Die kritikus buig daarna diep en verwyder hom, bewend oor sy hele lyf. Toe hy by die owerste aankom, stotter hy van angs: "Ons het ... verloor! Die vervloekte, valse dokument ... het die kroon ... gesit op ... ons skurkstreke! ... As dit nie vandag ... is nie, dan ... tog seker more ... aan die kruis! ... Oorhandig sonder slag of stoot die vervloekte dokument dadelik aan die opperstadhouer, anders hang jy vandag nog aan die kruis!...- `n duiwel moes jou verraai het! ... Cyrenius is met alles op hoogte!"
[9] Toe die swart geselskap, insluitend die owerste dit hoor, word hulle uitermate mismoedig en die owerste neem die dokument, gee dit aan die spreker en sê: "Hier, vat hier en bring dit weg. Ons het verloor, want hiermee het ons laaste hoop in rook verdwyn!"
[10] Die kritikus doen dit toe, bring die dokument na Cyrenius en sê: "Geëerde gebieder, hier is die dokument! Ons is baie groot en growwe misdadigers, en doen nou net nog `n beroep op u menslike hart!"
[11] Cyrenius vat die dokument, lees dit deur en sê na `n tydjie: "Kyk eers hier, dit is nou slinks! Sê my nou net met watter geleentheid die owerste aan hierdie Garta alba* gekom het!" (* blanco volmagt)
[12] Die kritikus sê: "Geëerde meester, ek weet baie, maar dit weet ek werklik nie! As owerste het hy hierdie dokument reeds van Jerusalem af saamgebring hierheen. Wie van hulle dit daar gekry het, weet ek nie!"
[13] Cyrenius sê: "Maar is u wel seker dat hy dit al van Jerusalem af saamgebring het?"
[14] Die kritikus sê: "Hy het ons dit laat sien en daaroor gepraat, en ons toe op die hoogte gestel van sy mag. Dit is alles wat ek weet, meer sal ook niemand van ons weet nie!"
[15] Cyrenius vra verder: "Hoe het hy hom dan verder as mens gedra?"
[16] Die kritikus antwoord: "Ek weet van niks sleg oor hom nie. Hy het sy amp altyd streng en volgens die Judese gees vervul. Dat hy wel sy invorderings nou nie juis op `n baie barmhartige wyse opgeeis het nie, is bekend, maar daar is bykans geen geval aan my bekend waar hy hom ooit te hard teenoor iemand gedra het nie. Dit kan wees dat hy vroeër baie op sy gewete gehad het, wat hy ons natuurlik nooit vertel het nie, maar sedert sy aanstelling hier is niks aan ons bekend nie, behalwe dat hy gister tydens die wonderlike voorval werklik te veel aangedring het op offers. Die volk het egter self die meeste aanleiding daartoe gegee!"
[17] Cyrenius vra verder: "Het die owerste al dikwels van die dokument misbruik gemaak?"-
[18] Die kritikus antwoord: "Tot op hede het ons niks daarvan gemerk nie."
[19] Cyrenius vra: "Is dit alles die suiwer waarheid, wat u my nou vertel het?"
[20] Die kritikus sê: "Geëerde meester, ek sal sterf as daarvan volgens my wete ook maar één jota onjuis is!"
[21] Cyrenius sê: "Goed dan! Gaan en sê aan die owerste dat ek hom nou wil spreek, en dat hy daarom hierheen moet kom, want ek wil eers sien wat daar in dié geval nog vir u gedoen kan word!"
[22] Die keer gaan die kritikus al met meer moed en minder koors na die owerste toe terug en dra die boodskap aan hom oor. Die owerste dink `n bietjie na en sê dan: "Wel, wat kan ons nog meer hier doen - die speletjie met `n vriendelike gesig saamspeel?! Dit is altyd beter om `n bietjie te verloor as alles!"
|
|
|
|
|