|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 14
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Hoe pas aardse skatte in ons lewe
14 "Kyk na My! Moet Ek nou nie met die wêreld omgaan nie? Ek eet en drink en die wêreld dien My, soos die vloed eens die bouwerk van Noag gedien het! Sy gaan wel hewig te kere onder die stewige wande van My Bouwerk - maar verswelg kan sy hierdie Ark in ewigheid nie!
[2] Jy kan niks daaraan doen dat daar op `n gegewe oomblik `n Romeinse ryk ontstaan het nie. Dit is nou eenmaal daar en jy kan dit nie laat verdwyn nie! Die ryk het ewenwel goeie wette, wat baie goed deug vir die instandhouding van die orde en vir die nederigmaking van die mense. As jy dink dat jy `n meester is wat bo die wet verhewe is en daarom `n kroon kan dra, is jy vir jouself op die verkeerde weg, ofskoon nie ten opsigte van die mense wat die eenmaal uitgevaardigde wet sonder meer moet hou nie, met alle voor- en nadele daaraan verbonde nie. Stel jy jouself egter ook onder die wet en sien jy jouself slegs as die amptelike en noodsaaklike leier en tussenpersoon daarvan, dan neem jy die regte standpunt in. Dan timmer jy vir jouself uit die geestelike materiaal van die wet `n ark wat jou oor al die storm beweegde waters van die wêreldsonde heen moet dra!
[3] As jy daarby ook nog in al jou dade die eenvoudige grondbeginsels van My leer toepas, wat met julle wette baie goed in ooreenstemming gebring kan word, doen jy, gesien jou moontlikhede, voldoende vir jou siel en jou gees. En as Ek sê dat Ek dit voldoende vind, noem My dan eers iemand wat dit onvoldoende sou kon vind!"
[4] Cyrenius sê: "Maar dink eers, o Heer, aan die prag en die luukse waarin ek vanweë my amp moet lewe en dink eers aan wat U so-ewe oor die prag en die luukse van die wêreld gesê het!"
[5] Ek sê: "Hou jy dan in jou hart van die wêreldse prag en luukse?"
[6] Cyrenius antwoord: "O, nie in die minste nie; vir my is dit alles `n ware kwelling!"
[7] Ek sê: "Wel, waarom bring die voorgeskrewe prag en luukse jou dan in die war? As jy in jou hart geen liefde daarvoor voel nie, kan geen prag of praal nadelig vir die siel en gees wees nie! Maar as jou hart aan iets stoflik hang, al sou dit op sigself hoé gering wees, dan kan dit net so skadelik vir siel en gees wees as die swaarste kroon van die suiwerste goud met die kosbaarste edelstene.
[8] Daarom kom alles slegs neer op die gesteldheid van die hart; want anders moes, belaglik genoeg, ook die son, maan en al die sterre die mense van hierdie aarde as sonde toegereken word, omdat hulle skitterend straal en glans en omdat die mens tog werklik genot daaruit put. So kan ook jy, My liewe Cyrenius, ware vreugde belewe van jou praal voor die mense, solank dit maar net geen ydele en daarom domme vreugde is nie, want daardeur raak die siel bedorwe en uiteindelik dood!
[9] Dit word Salomo tog ook toegestaan, en selfs beveel, om hom met so `n prag te beklee soos wat geen koning vóór hom gedra het nie en ná hom ook geen koning ooit weer sal dra nie. Solank hy geen domme, ydele vreugde daaraan verbind het nie, maar `n korrekte vreugde en wat op wysheid berus was, was die vreugde verheffend vir sy siel en sy gees. Toe hy egter later vanweë die groot praal ydel word en die hoogmoed van hom meester word, verdwyn al sy praal voor God en al die beter mense en hy verval in al die sonde van die wêreld van oorvloed en sy werke en dade word deur die beter mense gesien as dwaashede en voor die aangesig van God was dit ware gruwels.
[10] Ek sê vir jou en ook aan alle ander, dat dit selfs goed en nuttig is vir die mens wanneer hy, as hy met `n ryp siel en gees reeds op hierdie aarde die prag van die hemele naboots en sy hart op die regte wyse daaraan verwarm. Want dit is lofliker om te bou as om te vernietig. Maar slegs mense wat heeltemal na siel en gees ryp is, sou so iets kan doen, sodat die onrypes kan uitvind wat `n ryp mens alles tot stand kan bring.
[11] Maar wie vir eie eer en roem `n paleis vir homself bou en uiteindelik homself in sy prag op `n voetstuk plaas, begaan `n groot sonde teen sy eie siel en sy goddelike gees en hy bederf homself en al sy nakomelinge, wat hulle dan al vanaf die geboorte baie hoër ag as die ander mense.
[12] Wanneer die harte van die bewoners van die paleise egter bedorwe raak deur die prag van die paleise en daarby vervul word met hoogmoed en veragting vir die mense wat geen paleise kan bewoon nie, dan is dit weer beter om die paleise plotseling te verwoes.
[13] So is dit ook gladnie teen die goddelike orde om `n stad te bou waarin die mense in vrede en eendrag as één familie in één huis saamlewe nie, werk en handel en mekaar so met alles makliker kan ondersteun as wanneer hulle ure ver verwyderd van mekaar af sou woon nie. Kom daar dan egter in `n stad hoogmoed, luukse, die sug na prag, nyd, haat, vervolging en selfs doodslag, en swelgsug, ontug en traagheid, dan moet so `n stad plotseling weer in `n puin- en stofhoop verander word, anders word sy `n broeiplek van allerlei duiwelskwaad wat na verloop van tyd die hele aarde deur en deur sou verpes, net soos Hanog van voor die sondvloed, en Babilon, en die groot stad Ninevé van na die sondvloed! Hoe groot was hierdie stede eens en nou staan daar in hul plek slegs `n paar verarmde hutte! Waar Hanog eers gestaan het, is nou `n see, net soos op die plek van die ou Sodom en Gomorra en die tien kleinere stede in die omtrek van die twee grotes, wat elk groter was as die huidige Jerusalem wat ook nie meer so groot is as in die tyd van Dawid nie.
[14] Wat egter met hierdie stede gebeur het, sal ook met Jerusalem gebeur en hier is diegene wat hierdie gruwel van die verwoesting sal aanskou en sal meemaak! Want, soos gesê, dit is beter dat sulke stede nie meer daar sal wees nie en in hul plek eerder algeheel lewende siele, as wat daar `n stad is waarin die mensesiele vir die tydelike en die ewige heeltemal ten gronde gerig moet word!
[15] Dus, liewe Cyrenius, jy mag ook maar alles hê wat pragtigs en wonderbaarlik mooi deur die aarde op haar uitgestrekte bodem gedra word, en jy kan jou daarin, God lowend en prysend, verlustig. Maar verpand jou hart nooit daaraan nie; want al hierdie aardse prag moet eendag, sowel vir haarself as vir jou, vergaan as jy die tydelike met die ewige sal verwissel! Want alle materie is uit die aard van die saak niks anders as maar net dit wat ek jou al vroeër helder en duidelik genoeg uiteengesit het. - Sê eers, beantwoord dit jou vraag en verstaan jy dit so soos wat dit voor God en vir die hele wêreld verstaan moet word?"
|
|
|
|
|