Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 161

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die getuienis van Floran

161 Ons kom nou stadig by die vyftig aangestap, wat hulle dadelik so diep as moontlik voor ons buig. Ek sê vir hulle om soos manne regop te staan, wat hulle dadelik doen.

[2] En Ek vra aan hulle: "Glo julle dat Ek die Een is waaroor alle profete geprofeteer het?"

[3] Almal sê: "Heer, daar twyfel nie één van ons aan nie. Maar as U die Een is, waarom vra U dit dan vir ons, terwyl U tog ons geheimste gedagtes ken nog voor ons kan begin om te dink?"

[4] Ek sê: "Laat geeneen van julle daaroor aanstoot aan My neem nie, want dit gaan hier nie oor dit wat My natuurlik al van ewigheid af bekend is nie, maar oor dit wat julle nou sê! Julle kan My nie vroeër in julle opneem, as wanneer dit wat in julle sit, ook na buite kom nie!

[5] Julle kan My wel met julle oë sien en My stem met julle ore hoor, maar julle hart kan My dan nog nie in gees en waarheid hoor en verstaan nie! En daarom stel Ek `n vraag aan julle, en die antwoord wat julle My gee, het `n heel ander uitwerking op julle hele lewe, as `n antwoord wat julle aan een van julle eie mense sou gee.

[6] Daarom vra Ek julle nou nog `n keer of julle wel heeltemal sonder om te twyfel glo dat Ek die Een is waarvan Moses en die profete geprofeteer het! Sê nou sonder vrees wat julle in julle harte daarvan dink!"

[7] Floran sê: "Heer, U verstaan ons aard beter as ons! Dit het alles so plotseling gebeur, soos gister se nason en haar skielike verdwyning. Die gevolge walm nog en die hele omgewing is in rook gehul. Ons het verliese, - ons het nog geen berig van lewe van ons vroue en kinders gekry nie! Ons het hierheen gevlug, is bygedam en voor die gereg gebring. Toe die wonders van die engel en nou U Self, - en dit alles binne agtien uur! Dit is werklik geen grap nie, en daaroor kan jy tog nie somaar net oorstap nie!

[8] Dit kom vir myself, en ook sekerlik al my metgeselle, voor soos `n droom! Dit is `n volkome realiteit, en nooit kan alles wat hier gebeur het, ontken word nie. Maar daar het hier in `n kort tyd soveel buitengewone dinge gebeur, dat dit nie op één slag verwerk kan word nie. Ons glo sonder twyfel alles wat hier is en gebeur het, en dat U die Messias is waaroor alle profete geprofeteer het, dit is net so seker as die feit dat die ou Romein opperstadhouer is oor heel Asië, tenminste vir sover dit deur die Romeine verower is. Maar voordat alles tot ons deurgedring het, sal dit nog wel `n tyd duur!

[9] Met één slag kap `n mens geen boom om nie, en ons kan dit alles nie heeltemal op één slag verwerk nie. Maar ons sal verseker alle moeite doen om alles wat hier, veral wat ter wille van ons gebeur het, en wat ons beleef het, beslis volledig tot ons te laat deurdring! Iets aangrypender en meer verhewe kon geen mens op hierdie aarde belewe het nie!

[10] Dus, ons glo almal vas en verseker dat U die beloofde Messias is ondanks U, volgens aardse norme, baie onaansienlike stamboom, wat min of meer aan ons bekend is. U aardse ouers is arm en U vader was, na ons wete, `n timmerman uit Nasaret. Die afkoms van U moeder ken ons nie, en daarom is dit des te meer buitengewoon dat `n Redder, wat reeds aan die eerste mens van hierdie aarde voorspel was, onder sulke buitengewoon nederige en armoedige omstandighede in hierdie wêreld moes kom, terwyl Hy geestelik tog al in ewigheid alle voordele van `n moontlike, vorstelike geboorte ten dienste gestaan het.

[11] As U uit die skoot van `n keiserin in die wêreld gekom het, en dan hierdie tekens sou doen, watter volk op hierdie aarde sou hom dan nie heeltemal aan U onderwerp het nie!? Maar om as eerste en grootste mens, ja as die enige God Self so nederig in `n mensedaante in die wêreld te kom, is iets wat vele baie ergernis sal gee! Vir ons maak dit natuurlik niks meer saak nie, en ons het vrede daarmee, maar alle mense sal nie so dink soos ons nou nie, - veral nie die trotses uit Jerusalem nie, en nog minder die uit die tempel! Want vir hulle ken ons! Hulle ken op die wêreld maar één mens wat hulle liefhet en hoogag - al die ander is vuil - en die mens is sonder uitsondering vir elke tempeldienaar - hyself! Hy alleen word deur elkeen van hulle bo alles liefgekry en geag, elke ander, al sou hy ook `n God wees, ontsettend verag. Slegs `n buitengewone, uiterlike prag kan hulle soms nog ietwat imponeer.

[12] As U, o Heer, vandag na Jerusalem sou gaan en dit sou bekendmaak, dood hulle binne drie dae U liggaam. Hulle kan weliswaar mekaar se bloed goed drink, maar omdat hulle mekaar almal gebruik om hul eie selfsugtige doel te bereik, duld hulle mekaar onder die vermomming van gehuigelde vriendskap.

[13] Hulle vertrou mekaar slegs sover hulle mekaar sien, maar tog huigel hulle sodat hulle mekaar onvoorwaardelik glo. As hulle mekaar vir een of ander saak nodig mag hê, verlang hulle van die ander `n reeks borgtogte om hulle te verplig om eerlik te handel. Maar selfs die borgtogte maak geen sin nie! As diegene wat die saak moet afhandel, by die doen van sake kans sien om meer te verdien as die gegewe borgtogbedrag, dan laat hy die borgtog rustig vaar, en steek hy die groter voordeel baie eenvoudig in sy eie sak.

[14] Mense sou ek baie daaroor kan vertel, maar omdat U, o Heer, tog al alles weet, sou elke verdere woord uit my mond ydel en dwaas wees, en ek sê vir U dat ons ook daarom volkome in U glo. Want U moes kom om aan alle oneerlike gruwels vir altyd `n einde te maak."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205