|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 75
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Die twaalf verstaan dit nog steeds nie
75 Wat Rafael gesê het, beval die twaalf nie en daarom begin hulle moontlikhede te bedink om heimlik te vertrek en tog maar weer, sy dit dan onverrigter sake, na Jerusalem terug te keer, "want" sê Suetal, "ons het tot op hede nog niks strafbaar teen die tempel onderneem nie. Wat die gesag met ons doen, daarvoor is ons nie aanspreeklik nie, en ons diepste gedagtes kan geen tempeldienaar ooit te wete kom nie, dus moet die tempel ons weer gewoonweg opneem. Daarby sal ons sekerlik in sy guns styg as ons die een en ander vertel oor die buitengewone dinge wat ons op ons gevaarvolle reise meegemaak het! Die leiding sal met baie aandag na ons luister en baie welwillend teenoor ons staan en dan is ons koste gedek. Miskien sal ons dan weer na die vreemde uitgestuur word, maar dit sal ons nie hinder nie, want ons is behoorlike slimme snuiters en weet nou presies wat ons moet doen en vir wie ons die volk moet bewerk!
[2] Maar hier in die wonderlike geselskap van towenaars of gode is dit werklik nie uit te hou nie! Daar word altyd oor liefde gepraat, soos wat dit ook uit die baie wyse toespraak van die Griek uit te maak is, maar vra `n mens iets aan so `n wonderdoener, dan gee Hy altyd `n ontwykende antwoord en word tewens so grof soos `n stoppelveld! Nou, Hy moet nog maar net by my begin oor nederigheid, sagmoedigheid en liefde, dan kry Hy só van my op Sy kop dat Hy nie baie terug sal sê nie!
[3] Wie sy broer tot nederigheid maan, moet eers self nederig wees, of hy moet eers `n ellelange preek oor nederigheid vir homself hou vóór hy één van sy broers tot nederigheid maan! Kyk nou so `n jong, welgemanierde wonderdoener, hoe grof hy ons uiteindelik behandel het! Wat gaan sy kuns om wonders te doen ons aan, en wat het ons daaraan as ons dit hom nie kan nadoen nie?! Moet hy daarom so grof teen ons word?
[4] Dat ek vanweë die meisie die baie natuurlike en seker nie haatlike opmerking gemaak het oor iets wat elke mens wat sy oë nie in sy sak het nie, self hier kan sien, dit kan tog geen verstandige mens beledig nie. Want wat ek sê, is in elk geval in óns oë `n heel gewoon menslike verskynsel en mis enige profetiese tint. Ek dui slegs op die duidelike kontras dat hier, wat die dade betref, goddelik wonderlike dinge gebeur, maar wat die sedelike lewensfeer betref, elke gewone mens hier maar net gewone en natuurlike dinge sien. En hierdie heel onskuldige opmerking van my verwond daardie toonbeeld van nederigheid en sagmoedigheid só, dat hy ons ten eerste erg beledig en ten tweede die rug toekeer, sodat ons niks kon terug sê nie! Helaas, sulke gedrag hoort duidelik tuis in `n malhuis, maar nie onder mense met enige ontwikkeling nie, en die allerminste in die geselskap van louter liefde-, nederigheid- en sagmoedigheidspredikers! Daarom wil ek werklik nie lank by hierdie geselskap bly nie, want daar is niks vervelender as om by mense te wees wat jy nooit heeltemal kan verstaan nie en van wie jy ook nie weet waar jy met hulle aan of af is nie en in hoeverre jy hulle kan vertrou nie! Helaas, van hierdie meesters sou ek vir niks ter wêreld die domste leerling wou wees nie! - Het ek gelyk of nie? Hoe dink jy nou daaroor, broer Ribar? Wat meen jy - moet ons gaan, of nog bly, want ons is nou vry en kan van nou af aan na die vreemdelingelegioen of ook huis toe gaan?!"
[5] Ribar antwoord: "Ek meen dat ons tog moet bly, want ons is nie deur `n bebaarde man nie, maar deur die heel baardlose wonderseun - waarskynlik vanweë jou aandrang dat ons die groot Heer nou gewis eers wil sien - `n bietjie tereggewys!
[6] Ek dink die volgende daarvan: Die jongeling het van sy Heer seker ook nog die verbod gekry om onder geen omstandighede sy Heer voortydig bekend te maak nie. Maar nou het jy hom daaroor die vuur na aan die hakskene gelê en toe het hy hom, omdat jy hom ietwat lastig geval het, uit die situasie gered deur ons almal die rug toe te keer. Daarom meen ek tog dat ons moet bly en moet sien of ons nie kennis kan maak met die groot Heer nie!
[7] Sekerlik word jy hier heel wonderbaarlik gestem as jy jou dink dat jy jouself aan die een kant byna onder louter gode bevind, en dit egter aan die ander kant tog weer baie natuurlik en menslik skyn te gaan! Van vas vir die sabbat is natuurlik geen sprake nie, want bykans die meeste aanwesiges is Romeine en Grieke. Ook word daar min gebid. Maar wat daar gesê word, stroom dikwels oor van wysheid, groter as dié van Salomo. Kortom, alles loop hier wonderlik deurmekaar. Ons bevind ons hier by mense wat deur God geroep skyn te wees om hemel en wêreld nader aan mekaar te bring en na verloop van tyd vir die mense van hierdie wêreld meer moontlikhede te verskaf vir die ontwikkeling van hul geestelike kragte, en die daartoe vereiste liggaamlike kragte! Ek kan daarom, ondanks al sy grofheid, nie kwaad word vir die jongeling nie, want so `n opstopper is meestal gladnie so sleg nie omdat `n mens daardeur dikwels gouer tot insig kom as deur honderd beskeie lesse. "
[8] Suetal vra ietwat peinsend: "Hoe bedoel jy dit nou presies?"
[9] Ribar sê: "Dit sal ek jou nou dadelik haarfyn uitlê!"
|
|
|
|
|