|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 110
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Die soeke na God
110 Na hierdie woorde gaan Ek, Mathael en Jarah, wat voortdurend by My bly, na Helena en haar vader Ouran.
[2] As Helena My na haar toe sien aankom, bars sy in vreugdetrane uit en sê na `n tydjie: "Ek twyfel al baie daaraan of my die barmhartigheid ten deel sou val om U, die Heer van my lewe, by my te sien en met U te praat! Maar nou is alles reg! Want U, wat my hart en my verstand pas híér so oneindig wonderbaarlik leer ken het, het Self na my toe gekom! O, jubel nou luid my arme hart, want Hy wie se Gees jou polsslag van die wieg tot die graf vooraf getel het, staan voor jou, en bring jou die heilige krag waardeur eendag jou dood soeter sal smaak as heuningseem!"
[3] Dan swyg sy weer en Ek sê aan haar: "Helena! Harte wat so liefhet soos díé van jou, hoef ewig geen dood te vrees nie, en sal dit nooit smaak nie, nie soet en nie bitter nie!
[4] Want kyk, Ek Self is die lewe en die opstanding, en wie in My glo en My liefhet soos jy, sal ewig die dood nie sien, nie voel en nie smaak nie!
[5] Wel sal eenmaal die sware liggaam van jou afgeneem word, maar dit sal nie pynlik vir jou wees en jou nie wesenlik raak nie, maar deur My gees van die liefde, wat in jou is en groei tot `n volkome gelykheid met My ewige Gees, sal jy in een oomblik oorgaan van hierdie sware, onvrye lewe na die stralendste sielelewe! - Liewe Helena, verstaan jy dit nou al?"
[6] Maar Helena kan deur ontroering geen woord uitkry nie, en huil terwyl haar hart hom in `n staat van hoogste verrukking bevind. Dit duur geruime tyd en nog steeds is Helena so ontroer van vreugde omdat Ek na haar toe gekom het, dat trane van vreugde haar die spraak belet sodra sy verder wil gaan om My te bedank.
[7] Ek sê toe weer aan haar: "Liewe dogter, sê maar niks, want die taal van jou hart is vir My baie beter as die mooiste woorde!
[8] Want sien, daar is nou reeds hulle op aarde, en hulle sal in die toekoms meer word, wat aan My sal sê: 'Heer, Heer!' En Ek sal hulle dan antwoord: 'Waarom roep julle, vreemdelinge?! Ek ken julle nie, en het julle nog nooit geken nie! Want julle is nog altyd kinders van die vors van leuen, hoogmoed, boosheid, nag en van alle duisternis! Gaan daarom weg van My af, julle onverbeterlike boosdoeners!' En Ek sê vir jou dat by hulle dan baie gehuil en tandegekners sal wees!
[9] Hulle sal hul god in die eindelose, onbereikbare vertes en dieptes soek en hom nie vind nie, omdat dit vir hulle te eenvoudig was om My by hulself te soek, naamlik in hul hart!
[10] Helaas, wie God nie soek soos jy Hom gesoek het nie, dié sal Hom nie vind nie, ook nie in ewigheid nie!
[11] God is Self die reinste en eindeloos magtigste liefde, en kan daarom slegs deur die liefde gevind word!
[12] Jy word dadelik al deur die liefde gedryf, hoewel jy meen te sondig deur My lief te hê , en kyk, jy vind My. - Ek kom jou en ook jou vader Ouran meer as halfpad tegemoet. Op soortgelyke wyse sal in die toekoms almal wat My wil vind, My óók moet soek en hulle sal My vind soos jy My gevind het.
[13] Maar wie My met hul hoogmoedige verstand sal soek, sal My in ewigheid nie vind nie!
[14] Want wie My met die verstand soek, lyk na `n mens wat `n huis koop waarvan hy hoor dat daaronder `n groot skat verborge lê. Toe die huis syne is, begin hy daaronder nou eers hier, dan weer daar te grawe, maar hy span hom nie werklik in nie, grawe slegs oppervlakkig en vind daarom die skat, wat diep begrawe lê, nie. Toe dink hy: 'Aha, ek weet wat ek gaan doen, ek gaan buite om die huis heen grawe en op dié wyse sal ek seker gouer op die spoor van die begraafde skatte kom!'
[15] Dus begin hy buite die huis te grawe en vind die skat natuurlik nie omdat dit in die middel onder die laagste deel van sy huis lê, en hoe verder van die huis hy nuwe gate graaf om die skat te vind, des te minder vind hy die skat, wat tog die rede was waarom hy die hele huis gekoop het. Want wie dáár iets soek waar dit nie is nie, en nooit kan wees nie, kan die gesogte ook onmoontlik vind.
[16] Wie vis wil vang, moet met die net die water in, want in die lug swem geen visse nie. Wie goud wil delf, moet nie met `n net in die see soek nie, maar na die dieptes van die berge gaan.
[17] Met die ore kan mens nie sien en met die oë nie hoor nie. Elke sintuig het sy kenmerkende bou en is daardeur vir `n bepaalde soort werk bestem.
[18] So is die hart van die mens, wat die meeste aan God verwant is, alleenlik bestem vir die soeke en ook die vind van God, om daarna by die gevonde God `n nuwe, onverwoesbare lewe te kry. Wie God egter met `n ander sintuig soek, kan Hom net so min vind soos `n mens met sy ore, neus of oë die son kan vind of sien, wanneer hy homself stewig geblinddoek het.
[19] Die ware en lewende sintuig van die hart is die liefde. Wie hierdie innerlike lewensintuig op die regte manier opwek en daarmee God gaan soek, sal God net so seker en sigbaar vind soos wat enige mens, tensy hy volledig blind is, met sy oog die son vind en sy skynende vorm sien.
[20] Wie `n wyse woord wil hoor, moet sy ore nie toestop en met sy oë wil hoor nie. Want die oog sien wel die lig en al die verligte vorme, maar die meer geestelike vorm van die woord is nie sigbaar nie, en is slegs maar met die ore te hoor. - Verstaan julle dit alles goed?"
|
|
|
|
|