|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 224
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Die bedankingswoorde van Murel
224 Murel sê: "Vriend, ek is nou ingelig, en wat ek gevra het wat ook maar onduidelik was, is vir my nou heeltemal duidelik. Maar ek sien nou ook in dat `n mens sonder die besondere hulp van God in der ewigheid niks daaroor te wete sal kom nie! Wie kan so `n helder kyk hê op die oneindige groot huishouding van God, as net `n gees uit die hemele?! Alleen die Gees van God kan sulke dinge oorsien en dit dan aan ons mense, wat in elk geval van die goeies moet wees, openbaar. Maar as die mense met hulle verstand iets te wete sou wou kom sonder `n openbaring van bo, sou hulle beslis van ewigheid tot ewigheid alleen maar dom en dwase onsin te wete kom. Maar JaHWeH God en ons aller Vader sorg vir Sy kinders en gee hulle al die goeie uit die hemele as hulle daarna dors!
[2] O, aan Hom sy daarom nou alle lof en my liefde, Hom die enige ware, goeie en heilige, groot Weldoener van die mense! Hoe verhewe en groot is die stralende gedagte, wat soos `n son uit die donker van die nag in my hart opgaan!
[3] Ons mense op hierdie aarde, is louter broeders en susters en die heilige, goeie Vader lei ons deur Sy almagtige, wyse besturing na `n baie verhewe, heilige doel!
[4] O, broeder Philopold, wat ek nooit kan vergeld in verdienste nie, het jy by my verwerf! Hoe kan, hoe moet ek jou dit beloon?! Vriend, as ek, vanaf nou gereken, nog soveel jare sou lewe soos Metusalem en alle tempels en katakombes van die aardse se menslike wysheid my ter dienste sou staan, sou ek uiteindelik van alle waarhede wat jy my nou net geopenbaar het, nouliks soveel weet as wat ek daarvan geweet het toe jy begin het om die wonderlike dinge aan my te onthul! Dit het nou net `n klein uurtjie geverg, en ek staan nou so deur en deur verlig daarby soos Moses op Sinaï, toe die vlamme van God se Lig hom hoog bo sy hoof omsluit het en hy letterlik met liggaam en siel deur en deur met die goddelike wysheid deurdrenk is!
[5] O, hoe goed voel ek my nou in die heilige-ware lig van God! Ja, maar hoe moet ek Hom dan loof en prys, wat jou eerstens so geweldig opgewek het dat jy nou ook in staat was om my so magtig en buitengewoon op te gewek het?! Is dit vir `n menslike tong wel moontlik, om woorde uit te spreek wat Hom waardig sou wees?! Nee, nee, nooit nie! Elke tong van `n sterfling moet versteen waar die lewende woord in die magtige vlamme van die nuwe ontwaakte liefde tot God, die heilige Vader, begin om op te laai!
[6] O, hoe oneindig groot en verhewe staan U, heilige Heer, nou voor ons! Wie kan U bevat, wie verstaan U heeltemal?! Nie ons mense nie, en die ewigheid ook nie!
[7] Omdat U, heilige Heer, die dinge weet, wat alleen maar die Een kan wees wat dit geskape het, sê ek: Ook al is U, mees heilige Vader, vir ons ook in die vlees verborge, tog herken my hart U! U is presies Die Een wat deur Moses op Sinaï U uitverkore volk die heilige lewenswette gegee het en dit deur die gestuurde en die heilige profete altyd tot die volk gespreek het! U is deur U Self beloof, en vervul nou die groot Godswoord van U ewige Vaderliefde aan U nou nog swak en onmondige kinders. O laat ons spoedig manlik en sterk word, dan sal uit ons hart en uit ons onsterflike mond U lof betuig word op `n wyse soos al die hemele U, o heilige Vader, nog nooit geloof het nie!
[8] O, aarde, ook al is jy as wêreld klein vergeleke met die groot wêrelde daarbo wat in die onmeetlike skeppingsruimte hulle eindelose groot en ruim bane beskryf, - hoe gróót is jy nou vergeleke met hulle daarbo, omdat jy alleen net vir Hom dra, wat hulle nie kan bevat nie!
[9] O, al julle broeders, wat aarsel julle nog om julleself te verhef en Hom bo alles te prys, terwyl julle nou tog net so goed soos ek moet weet wat julle aan Hom het?! En as julle dit dalk nog nie heeltemal weet nie, dan sê ek aan julle almal: Hier is Hy, die Heer, die ewige Vader. Hemel en aarde is vol van Sy groot en ewige Glansrykheid! Loof, loof Hom saam met my, help daarmee saam, julle wat reeds groot geword het in Sy groot Barmhartigheid en Erbarming!"
[10] Toe sê Ek vir Murel: "Dit is voldoende, dit voldoen volledig, My beste vriend Murel! Ek ken jou reeds lank en weet goed wat daar in jou verborge lê. Omdat jy soveel in so `n kort tydjie verstaan het, sal jy nog baie meer verstaan!
[11] Maar kom nou na My en drink die suiwerste wyn uit die beker waaruit Ek gedrink het. Daarna sal jy nog baie ander dinge duidelik gemaak word as wat vriend Philopold jou tot nou toe vertel het! Kom dan daarom na My toe!"
[12] Murel sê: "O die roep van die roeper, stem van die stemme, woord van die woorde, vir die eerste maal deur my domheid herken en verstaan ek! Wie kan U weerstaan, as hy U in sy hart herken het?! O, hoe verhewe, heilig, groot en lieflik en hoe byna huislik bekend klink U deur die heilige Vadermond wat so lank van U hart verdryf was, U swakke kind tegemoet! Hoeveel maal duisend en nogmaals duisend salighede stroom my tegemoet deur één sug uit die mond van die Een, wat eers die 'Woord geword het!' in die eindelose ruimte na buite donderend, waarop dit begin om te ontwaak en hom te beweeg in alle eindelose ruimtes, wat geen ewigheid kan meet en ooit sal meet nie!
[13] Laat alles in my nou sidder en beef wat my ooit sy kragte leen vir `n sondige handeling, maar jy, nuutgebore hart, verheug jou en jubel luid! Want sien, jou Skepper, jou God en Vader het jou geroep. Volg daarom die roep van hierdie stem, wat die lewe in jou vesels laat asemhaal!
[14] O, Vaderstem, hoe welluidend klink U in die oor van die kinderlike liefde in die hart vanuit die kind wat uit die doodslaap ontwaak het!"
|
|
|
|
|