|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 176
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Die lot van die Goddelike leer
176 Cornelius sê: "Ja, Heer, wat U sê is `n algehele waarheid, wat daar volgens suiwer menslike maatstawwe nog nooit was nie. Want as dit ooit êrens uitgespreek sou gewees het en sou bestaan het, sou daar seker `n aantal mense gewees het wat hierdie as sodanig aangeneem en streng daarvolgens geleef het, en die uitwerking daarvan sou seker nie weggebly het nie.
[2] Maar, hoewel ek baie weet, het ek nog nooit daarvan gehoor nie. By ons heidene is daar juis van die teendeel sprake, en daarom moet `n mens baie bewondering hê vir groot geeste soos Plato, Plotinius en Phrygius, soos ook vir `n aantal hoogstaande manne uit Rome, wat slegs met meer as heroïese moeite en inspanning, pal teen die wette van die veelgodedom in, dit tog sover gebring het om behoorlik op U, die een en alleen ware God, se spoor te kom.
[3] Plato het ontdek dat die enige en alleen ware God, al was Hy dan ook onbekend, die suiwer liefde moes wees. Hoe meer hy oor die onbekende God nagedink het, des te warmer het dit in sy hart geword, en toe hy merk dat hierdie aangename warmte toeneem, en `n dokter vir hom sê dat dit `n siekte was, het Plato gelag en gesê: 'As dit `n siekte is, sou ek graag nog meer van die siekte in my hart wou hê, want dit doen my ondenkbaar meer goed as enige hoog geroemde gesondheid!”
[4] En Plato begin die onbekende altyd meer lief te hê en vertel self hoe hy tydens die hoogtepunte van sy liefde vir die onbekende God, hierdie God gesien het, en hom volledig met Hom verenig gevoel het, en watter onbeskryflike geluksaligheid hy daarby ondervind het.
[5] Ook die ander groot wyses het iets dergeliks vertel en hul leer sou sekerlik baie heilsaam vir die mense gewees het, as die bekende dienare van die gode hulle nie met alle moontlike gruwels teen die uitbreiding daarvan weerstand gebied het nie.
[6] Maar dit was nog altyd so en dit sal waarskynlik ook nog altyd so bly, dat die suiwer waarheid nooit algemeen ingang sal vind nie, omdat in die loop van die tyd haar direkte dienaars, gelei deur lae belange, haar self die weg sal afsny, haar in `n doolhof sal sit, en die aanvanklik heeltemal korrekte en oop weg in duisend en meer boë sal verwring, wat, omraam en omgewe deur duister messelwerk, die soeker nooit die sentrum sal laat vind waar die ou tempel van die waarheid gestaan het nie.
[7] Heer, ook met U leer sal dit eendag niks beter mee gaan as daar ook maar net één priester daarby opduik nie! Leraars moet daar wel wees, maar vir elke tien is daar verseker één skurwe, wat die ander maar al te gou aansteek, waardeur die waarheid dan weer in die gedrang kom!
[8] Moses, die groot wyse van Kahiro, die aangenome seun van die dogter van die Farao wat in alles ingewy was, het die goddelike waarheid geskryf op marmer tafels en gebooie vol goddelike krag, met baie streng strawwe om alleen dit te verkondig en die volk aan te spoor om volgens die leer te lewe en te handel. Na hom is daar nouliks duisend jaar verstreke, en hoe sien die heilige leer van die marmer tafels nou daar uit?! Behalwe die naam kan geen spoor meer daarvan gevind word nie! Waar is die ou ark van die verbond, wat so wonderbaarlik en so indrukwekkend en lewegewend was? Waar is die oorspronklike tafels, deur Moses met eie hand vir die ewigheid beskryf? Kyk, dit alles het Moses se opvolgers ten behoewe van hul ellendige, wêreldse belange vernietig!
[9] Daarom sê ek, sonder om ook maar `n profeet te wees: Soos dit altyd was, so is dit nog, en sal dit altyd wees, as U, o Heer, beheer van U leer in die hande van mense gee. Binne `n duisend jaar sal dit vir die leer beslis baie sleg daar uitsien, en die mense sal daarin, op die manier van Diogenes, op klaarligte dae die waarheid moet soek en tog nie heeltemal vind nie.
[10] Ag, die volle waarheid sal baie in die verborgene wel by enkelinge bewaar bly, maar oor die algemeen geneem, sal daar niks méér daarvan oorbly as wat die kinders van Abraham in hierdie tyd oorgehou het van Moses nie, naamlik die omhulsel, en niksseggende name nie! Wie verstaan nog iets van die gees van die Mosaiëse insettinge?
[11] Daarom sê ek en bly ek daarby: "So was die mense nog altyd en met geringe afwyking sal hulle ook altyd so bly.
[12] Iets nuuts sal hulle altyd nuuskierig maak en besiel, maar as die mense ook maar eers daaraan gewoond is, word die verhewenste vir hulle ook maar gou alledaags, waardeloos en onbelangrik! As dit nog iets besielend vir hulle moet inhou, dan moet dit meermale met allerlei opvallende dinge opgefris word, sonder om daarby die hoofsaak ingrypend te verander. Anders sal die mensdom onder voortdurende bliksem en donder uit pure verveling opnuut goue kalwers maak en vrolik daaromheen dans.
[13] Ja, daarom is selfs baie priesters te verontskuldig omdat hulle die volk in stede van die egte geloof, die slegste glans as iets suiwer goddelik laat aanprys. Want as die stroom van die duisternis eenmaal uit homself te sterk geword het, het dit ook onmoontlik geword om daarteen te swem, en die welmenendste priester, ook al het hy in stilte vir homself `n korrekte waarheidsliggie, moet Nolens seu volens (of hy wil of nie) met die stroom saamswem, anders gaan hy sonder meer ten gronde!
[14] Heer, so oud as wat die mensdom hier op aarde is, solank is die kwaad ook onafskeibaar langs haar, dit kan beslis nie ontken word nie. Sou die mensdom dan nooit as te nimmer heeltemal van hierdie ou kwaal genees kan word nie? Ek sien nie in waarom die mensdom altyd en elke keer weer opnuut daaraan ten gronde moet gaan nie!"
|
|
|
|
|