|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 169
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Erns is beter as lag
169 Cornelius val My na hierdie toespraak alweer om die hals en sê diep ontroerd: "Ja, die woorde kan maar net `n God, en nooit `n mens tot die mense spreek nie!"
[2] Ek sê: "Ja, jy het volkome gelyk dat jy `n waar getuienis oor My gee, en dit sal ook baie vrug vir jou dra! Jou vlees en bloed het jou dit nie ingegee nie, maar jou gees, wat netsoos Myne uit God is, en daarom is jy ook `n ware vriend en broer van My.
[3] Maar omdat ons onsself in die vlees bevind, volg ons nou die roep wat van die vlees uitgaan om te voorsien in die uiterlike behoeftes!"
[4] Almal gehoorsaam en ons gaan aan die tafels, waarop goed voorbereide visse van die edelste soort op ons wag.
[5] Aan die tafel waaraan Ek plaasneem, sit regs van My Cyrenius, langs hom Cornelius, en teenoor ons sit Faustus, Kisjonah, Julius en Philopold. Links van My sit Jarah, dan Rafael, die jong Josoë en dan Ebahl. Die onderste, lang vleuel verder na links word beset deur My leerlinge, en die boonste regtervleuel deur die koninklike familie Ouran met Mathael, Rob, Bos, Miga en Sahr.
[6] `n Ander, baie lang tafel gee plek aan die vyftig fariseërs. Hierdie loop in dieselfde rigting as Myne, en staan in My gesigsveld, en Stahar en Floran sit sodanig in die middel dat hulle My gesig kan sien.
[7] `n Derde tafel, agter My, gee plek aan die dertig jong fariseërs en leviete. Hul vernaamste sprekers Hebram en Risa sit net agter My rug, maar met die gesigte daarnatoe.
[8] Skuins teenoor die linkervleuel van My tafel, dus agter My leerlinge, staan ietwat na onder toe `n kortere tafel met die twaalf, waaronder hul sprekers Suetal, Ribar en Baël, en aan die boonste vleuel vlak agter Ouran is nog `n klein tafel waaraan die arme Herme sit, die bekende boodskapper uit Caesarea Philippi, met sy nou deftig geklede vrou, drie eie dogters en `n vierde pleegdogter. So sit nou al die wat by My hoort, op die regte plek.
[9] Die bediendes het hul tafels ietwat meer aan die buitekant, en is ook baie goed versorg, soos ook die honderde soldate, wat in hul kamp self vir hul onderhoud moes sorg, soos dit by die Romeine altyd gebruiklik was.
[10] Almal sorg nou vir die nodige versterking van ledemate en ingewande, en almal prys My vir so `n uitsonderlik versterkende onthaal.
[11] Die visse, die brood, allerlei goeie en soet vrugte - soos vye, pere, appels, pruime en selfs druiwe - vul die tafels en daar is nêrens gebrek aan heerlike wyn nie. Daar is aan geen enkele tafel ook maar iemand wat geen goeie eetlus het nie, en die ou Markus, beide sy seuns, en ook `n paar van sy ouer dogters, beweeg heen en weer en sorg dat daar op geen tafel iets ontbreek nie!
[12] Die wyn maak langsaam maar seker die tonge los, en hier en daar klink die stemme harder en harder aan die tafels. Ook aan My tafel word op allerlei maniere verbasing uitgespreek oor spys en drank, ja selfs My Jarah word lewendiger en het geen woorde en bewondering genoeg vir die soet druiwe, omdat dit nou eintlik nog geen tyd was vir druiwe nie.
[13] Ook My leerlinge begin aardig spraaksaam te word, wat selde die geval was. Net Judas Iskariot swyg, want hy was nog te druk besig met `n groot vis, en die aansienlike wynbeker voor hom hou hom ook te veel besig om nog tyd te hê vir `n gesprek. Thomas het hom al wel `n paar keer aanstoot gegee, maar Judas Iskariot merk niks op nie en dit was maar ook goed so, omdat hy andersins gou iets ongepas sou gesê het.
[14] Jarah aan My linkerkant was egter op `n geleentheid lus om haar onwelgevallige leerling eers goed op sy plek te sit, maar Judas Iskariot was die keer vir geen prys van sy onverstoorbare, gulsige eet en drink af te bring nie.
[15] Toe hy egter klaar was met sy groot vis, maak hy aanstaltes om `n tweede, nie minder groot nie, te gryp. Maar Rafael was ietwat vinniger en was Judas Iskariot net voor. Wel - dit het natuurlik aanleiding gegee tot `n ietwat onderdrukte vrolikheid, en Jarah kon maar met moeite voorkom om hardop te lag.
[16] Ek het Jarah gevra wat met haar aan die gang was.
[17] En die meisie sê: "O Heer, My liefde, waarom vra U iets aan `n mens, as U innerlik duideliker sien, soos ons die buitekant van hierdie drinkbeker?! O Heer, het U dan nie gesien dat die leerling Judas Iskariot al vroeër die allergrootste, seker tien pond sware vis vir homself uitgesoek het nie en ook die grootste beker?! Daarna het daar nog heelwat groot stukke brood in sy buik afgedaal!
[18] Nou wou hy nog die tweede groot vis ingesleep het, maar Rafael, wat die teregte ergernis van die leerlinge opgemerk het, was die gulsige Judas Iskariot een voor, en red so die vis voor die vraatsug van Judas Iskariot. Wel, dit is die rede waarom ek haas my lag nie kon inhou nie!
[19] Ek weet nog goed van Genésaret af dat `n mens eintlik nooit moet lag nie, behalwe uit liefde en vriendelikheid, maar die geval was helaas so komies dat ek byna begin lag het. Ek glo, dat dit tog nie so erg is om te glimlag oor `n gulsige vrek se misgryp tydens `n egoïstiese saak nie. Want jy kan jou daarby ook voorstel dat so `n streek hom ietwat sou kon verbeter - en dan moet dit tog wel geoorloof wees om fyntjies te glimlag!"
[20] Ek sê: "My liefste Jarah, dit is nie presies sonde nie, maar as mens dit kan nalaat, doen `n mens tog beter. Kyk, as `n mens so `n vrek met `n sekere erns aansien, roep hy homself tot orde en laat sy vrekkige voornemens vaar. Glimlag `n mens egter oor hom, dan word hy kwaad, en doen dan alles om sy voornemens dubbel vrekkig uit te voer!
[21] Judas Iskariot is `n vrek en miskien ook `n dief, want wie sy naaste altyd wil bedrieg, en hom ook bedrieg is `n dief.
[22] Sien hy by `n egoïstiese handeling glimlaggende gesigte, dan dink hy dat `n mens sy skurkestreek wat soos `n grap lyk, laakbaar vind, en dan gaan hy nog intensiewer deur met sy gemene streke. As hy egter, soos Ek hier al opgemerk het by sy streke, en reeds met die eerste aansit daartoe, met `n sekere erns van alle kante aangesien word, dan laat hy sy slegte voornemens vaar, en wag daarmee tot `n moontlike ander keer. Want op algehele verbetering hoef jy by `n vrek nie so gou te hoop nie! Maar tog is dit goed om hom so veel moontlik te hinder by die uitvoering van die een of ander selfsugtige onderneming. Hy verloor daardeur altyd meer van die verkreë moed vanweë die altyd optredende mislukkings, en laat die kwade na, wel nie uit afsku daarvoor nie, maar dan tog uit ergernis.
[23] Kyk, My allerliefste dogtertjie, om hierdie redes wat Ek jou nou vertel het, is dit dus beter om nie vir iemand te lag wanneer die een of ander voorgenome boewestreek misluk nie!"
|
|
|
|
|