|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 189
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Skip in nood in volle see
189 Ek roep egter die engel en terwille van die gaste en leerlinge sê Ek hardop aan hom: "Daar bevind hom op see `n taamlik groot oordekte skip met twintig manne en vroue, die agt skippers nie ingereken nie, in groot nood. Die skip het toe die storm opgesteek het, aan die ander oewer gelê, nie ver van Genesaret af vasgemeer nie, maar toe die storm draai en in krag toegeneem het, het hierdie skip wat vir die afvaart gereed gelê het, los geslaan van die oewer af en het dit met onweerstaanbare krag na die oop see gedryf. Die skippers en die reisigers het gedoen wat hulle kon, en het daarby bykans tot die einde van hul kragte gegaan om nie te sink nie. Nou staan dit op die punt om deur die see verswelg te word. Staan dus op en red hulle, - maar nie op `n manier wat vir hulle te onverstaanbaar sal wees nie! Maak `n boot los en vaar soos `n bedrewe loods die skip wat in nood is te hulp, en bring dit hierheen, want die skip was tog al vir Caesarea Philippi bestem!"
[2] Na My woorde verlaat die engel oombliklik ons geselskap, maak `n boot los - wat vol water gestaan het, maar dit het Rafael gou tot die laaste druppel oorboord gegooi - en vaar daarna so vinnig soos `n pyl die geweldige orkaan tegemoet, en bereik binne `n paar oomblikke die skip wat in nood verkeer.
[3] Toe die erg in nood verkerendes die loods sien, val hulle op hul knieë, dank God en sê: "O, dit is geen normale loods nie! Dit is `n egte engel wat God in antwoord op ons gebede gestuur het om ons te red! Hy sal ons almal sekerlik red!"
[4] Rafael vra hulle vir die skyn: "Waar wil u heen in hierdie storm?"
[5] Die in nood verkerendes sê: "Ons wil na Caesarea Philippi, maar eers na die storm! Die storm het die skip egter weg van die oewer af geslaan en het ons met groot krag hierheen gedryf. Ons weet nie waar ons onsself bevind nie, want deur die digte reën sien ons aan geen enkele kant `n oewer wat vir ons bekend voorkom nie. Moet ons nog ver gaan om ons doel te bereik?"
[6] Rafael sê: "Nie met hierdie wind nie, maar omdat die reën en die storm seker bykans nog `n halfuur kan aanhou, en u eers nog die hoë branding moet deur, waarin u reddeloos verlore sou wees, kom ek, die mees ervare en moedigste loods, om u en u skip na veiligheid te bring. - Is daar baie water in die skip?"
[7] Die skippers sê: "Behoorlik baie!"
[8] Maar na `n paar tellings het die water wat die skip binnegedring het, tot die laaste druppel verdwyn, en die skippers sê aan die vriendelike loods: "Maar dit is tog baie merkwaardig! Kyk eers, edele jong loods, ons het ons sover vergis, daar het geen druppel water in ons goed oordekte skip gedring nie! Eers het ons gedink dat ons, vreemd genoeg, wél water in ons skip ontdek het, maar dit sou wel `n vergissing gewees het as gevolg van ons verstaanbare angs, want nou ontdek ons nêrens ook maar `n druppel water nie, wat tog werklik heel merkwaardig is. Ja, ja, alles wat JaHWeH doen, is wel altyd `n wonder, maar dit is tog wel ietwat vreemd dat daar nou met hierdie reënvloed geen druppel water in ons oordekte boot te vinde is nie, en u oop boot nouliks nat is!"
[9] Toe sê die reisigers aan die groep skippers: "Praat tog nie soveel verniet nie! Dit is tog oorduidelik God se barmhartigheid, waarvoor ons Hom allereers `n baie welgevallige dankoffer moet bring, en die jong, moedige loods is `n hemelse loods! Kyk net hoe die reën nog bakkevol uit die hemel val, en die golwe soos berge om ons heen oprys, terwyl ons skip sowel as sy boot so rustig voortswewe asof die see so glad is soos `n spieël, en nóg op ons skip, nóg op sy boot val daar ook maar één reëndruppel nie! Ook die bliksems suis en knal soos vrolike eendagsvlieë om ons heen, en geeneen van die blinkende en krakende bringers van die dood doen iets aan ons nie! Kyk, dit is `n barmhartigheid, `n deur ons almal heeltemal onverdiende barmhartigheid van bo!"
[10] Die skippers sê aan die reisigers: "Ja, ja - dit is so. Dit is `n wonder, dit is `n egte barmhartigheid van bo! Ons is gered! Kyk daar! Ons sien die oewer al digby! `n Groot aantal mense staan ondanks die geweldige reën aan die oewer, en kyk, almal swaai ons al `n baie vriendelike welkom toe! O JaHWeH God! Hoe groot en heerlik is U ook in die storm vir diegene wat U altyd geëer en geprys het, en U altyd met vreugde die voorgeskrewe offer gebring het! Ewige eer aan U heilige Naam alleen!"
[11] Na hierdie woorde vaar hulle langsaam na die oewer, en Ek gebied nou in die geheim die storm om homself in te hou en heeltemal op te hou.
[12] En vinnig hou alles op en dit word so rustig asof daar nooit `n storm was nie. Die skip bereik die oewer maklik en die reisigers word aan land gebring.
[13] Toe die reisigers aan land kom, ken hul verbasing geen grense nie toe hulle alles daar sien nie.
[14] Van die storm en die wolkbreuk is niks meer te herken nie, die oppervlak van die see is so glad soos `n spieël en die hemel is wolkloos, slegs baie klein skapiewolkies tooi hier en daar in die rooi lig die blou agtergrond van die hemel. Want die son het reeds agter die berge verdwyn, en het op die aarde, daar waar ons onsself bevind het, slegs `n heerlike aandskemering as aandgroet agtergelaat.
[15] Die oewer waar die reisigers aan land kom is heeltemal kurkdroog. Al die gaste wat by My aanwesig was, sien baie opgewek en vriendelik daar uit, en ons ou Markus ontvang hulle uitermate vriendelik, en vra ook dadelik of hulle dalk iets wou drink of eet, omdat hierdie stormagtige oortog hulle wel baie vermoei het.
[16] Kortom, dit het so `n geweldige invloed op die reisigers gehad dat hulle van pure verbasing glad nie kon hoor of sien van wat daar om hulle gebeur nie.
|
|
|
|
|