Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 71

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Nog meer raad vir egpare en regters

71 Cyrenius sê: "Ja, Majesteit en Heer van bo! Iets is daar egter nog wat ek sou wou weet, en dan is die huwelik deeglik behandel.

[2] Gestel dat `n man wat heeltemal volgens die reëls leef, `n vrou het met `n baie wellustige natuur - soos wat daar ongelukkig genoeg baie sulke vroue is wat nooit tevrede gestel kan word nie. Dié wellustige vrou verlang daagliks van haar man selfs meerdere male bevrediging en kalmering van haar liggaamlike behoeftes. Die man sê weliswaar vir die vrou: 'Jy is verwagtend en het nou gedurende die tyd wat God daarvoor bestem het, rus nodig, sodat jy jou in jou geseënde toestand geen kwaad en onnodige lyding op die hals haal deur die nuttelose bevrediging van jou liggaam nie. '

[3] Maar die sinlike vrou wil niks hoor en weet van hierdie goeie raad nie en verlang onstuimig van haar man dat hy tot haar wens moet inwillig. As die man doen wat sy vrou wil, begaan hy duidelik ontug met haar en sondig hy volgens U Woord teen die goddelike orde. Wys hy haar egter af, dan sondig hy teen die wil van sy vrou en noodsaak haar tot allerlei onnatuurlike bevrediging of tot owerspel en hoerery met ander mans.

[4] Andersyds is daar egter ook sulke geil bokke van manne wat hul arme, fatsoenlike vroue dikwels selfs `n paar uur voor die bevalling nog nie met rus laat nie. Daaroor word dikwels luid gekla, maar hoe moet `n wyse regter nou `n uitspraak lewer wat regsgeldig en vir sowel vir God as vir elke regdenkend mens aanvaarbaar is?

[5] As die nougesette man of die fatsoenlike vrou ter wille van die goeie orde en die Ryk van God egskeiding aanvra, moet dit dan gegee word of nie?"

[6] Ek sê: "Ja, in daardie geval kan na `n versoek van die een of die ander party `n egskeiding uitgespreek word. Egter geen totale nie, maar tog méér as slegs van tafel en bed, naamlik ook van die wedersydse versorgingsplig en van die erfreg. Hierdie twee sake hou by `n geringere skeidingsrede eers op as die een party langer as drie jaar sonder deugdelike redes by die slegs van tafel en bed geskeide ander party weggebly het en hom nie meer oor die agtergelate party bekommer het nie, maar slegs eie plesier gesoek het.

[7] By die skeiding, wat moet volg op aanvraag van die goeie party in die geval wat deur jou genoem is, verval ook dadelik enige ander op watter gronde dan ook gebaseerde aanspraak op reg.

[8] Maar daar moet streng toegesien word dat die skeiding eers dán gegee word as die goeie party daarom vra en die slegte party daartoe toestem. As die laaste nie toestem nie, maar beterskap beloof, moet ook aan die goeie party geen skeiding toegestaan word nie, maar mens moet dit slegs amptelik aanteken en die klaer tot geduld maan.

[9] As eggenote wat só geskei is, weer eendragtig wil saamlewe, hoef hulle nie opnuut te trou nie, maar tree die ou verbintenis op versoek van beide partye weer volledig in werking en `n moontlike nogmaals gevraagde skeiding kan hulle nie weer skei nie, behalwe in noodgevalle van tafel en bed.

[10] As `n man egter `n vrou het wat baie van hom verlang en hy gee haar sonder hartstog, as hy daartoe in staat is, dit wat sy wil hê, dan begaan hy nie daarmee so `n groot sonde teen die orde van God nie, want die natuur van so `n vrou lyk soos `n droë stuk grond, wat die tuinier in die hitte van die somer meer dikwels moet begiet as hy sy plante wil behou. As die vogtige herfs dan kom, is die grond vogtig genoeg. Daarby moet hierdie man sy vrou ywerig geestelik bewerk en vorm, en sy sal vir hom goeie vrugte oplewer.

[11] Geduld is egter altyd beter as die beste reg.

[12] `n Fatsoenlike vrou het vanweë die groot geilheid van haar man méér reg om skeiding te eis as `n man vanweë die groot geilheid van sy vrou. Want `n eenmaal geseënde vrou het rus nodig gedurende die tyd wat God vir die natuur van die vrou voorgeskryf het. Vir die man is geen tyd voorgeskryf nie en hy het dus minder rus nodig vir sy natuur as die geseënde vrou. Daarom moet `n mens in `n regsaak eerder na `n geseënde vrou luister as na `n koel man.

[13] Ook moet daar by `n man rekening gehou word met die lewe wat hy vóór die huwelik gelei het, of dalk `n losbandige jeug wat hom deur baie te sondig koel en onbekwaam gemaak het. By `n erg veeleisende vrou is hierdie vraag egter bykans nie tersake nie. Want as sy reeds as jong vrou haar vanweë geld aan `n ontugtige lewe oorgegee het, sou haar natuur daardeur baie afgestomp word, en as sy dan later nog die eersame vrou van een of ander man wil word, sal haar luste baie afgekoel het. Maar as `n vrou in haar jeug heel ingetoë haar hetige bloed in toom moes hou, lê die uiteindelik strafbare rede nie in die tyd van haar ongehude jongvroustaat nie, maar slegs in die natuur van die vrou, waar in daardie geval die gereg nouliks iets mee te make het.

[14] Teen die geweld van die natuur is enige hóé wyse regterlike uitspraak, `n leë gebaar. Daarom sou by `n ontvlambare vrou ook passende middele van natuurlike oorsprong toegepas moet word en tewens passende lesse vir die hart van die vrou, en dan sal dit wel beter met haar gaan. - Kyk, so moet in hierdie geval gehandel word. Het jy dalk nog bedenkinge, sê dit dan!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205