Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 108

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die voorspelling van Judas

108 Toe sê Simon Juda: "Ek bewonder die werklik groot wysheid van Mathael en die daarin verborge kennis van die oudheid! Ja, die wysheid is in hierdie tyd net so nodig as die diepe insig in die uit God se mond komende lewenswaarhede! Helaas, ons sou ons tong wel kon verslyt vir die hardhorende ore van `n volk wat al sedert meer as duisend jaar kwyn, terwyl dit begrawe lê onder die mees sinlose bedenksels van die duistere bygeloof! Elke woord, hoe mooi ook al, is op hulle verspil. Die eie domheid en blindheid herken hulle nie, en die gepredikte, heerlike en suiwer waarheid nog minder.

[2] Wat moet mens met so `n volk dan nog verder begin? Wonders doen? Daardeur word die volk nog dommer en bygelowiger! - Straf? O, so `n volk is tog al genoeg gestraf!

[3] Nee, mens moet die mense uit die volk, wat daar bietjie meer voor oopstaan, nader, en Mathael se manier gebruik om teen die heidendom te predik en dan bestaan daar, met God se genade, binne hoogstens honderd jaar geen afgodstempel meer nie!

[4] Broers, sê julle nou maar eers of ek reg gepraat het of nie! Die eenvoudige logika van `n kind is meer werd as die verstand van alle geleerdes van die aarde, maar hier is die verstand tog ook heeltemal op sy plek. - Wat is julle mening daaroor, beste broers?"

[5] Almal behalwe Judas sê: "Daar is ons dit heeltemal mee eens en daar is niks teen in te bring nie!"

[6] Toe stap Judas na vore en sê: "Tog, tog, nog genoeg!"

[7] Simon sê: "Wat dan? Praat! Ek sou werklik nie weet wat daarteen in te bring sou wees nie!"

[8] Judas sê: "Wen eerste die magtiges, dan kan jy met die onmagtiges ook sónder die kennis heel goeie resultate bereik!

[9] Mathael sê toe, terwyl hy hom ietwat verontwaardig tot Judas wend: "A ha, jy sou dus graag die mense wat aan geestelike en aardse goedere arm is, die hemelse vredesboodskap met vuur en swaard wou verkondig! Jy is werklik `n seldsame mens! Jy kom my tog al voor soos `n vreemde wese uit die onderwêreld, vandaar ook hierdie mening van jou, wat vir `n duiwel nie onvanpas sou wees nie! Jy is `n heel vreemde duiwel!

[10] Hoe is dit moontlik dat jy hierdie so hemelse geselskap kon binnedring!

[11] Ek sê egter vir jou: As jy as duiwel met mense wil gesels en omgaan, moet jy jou tog beter in skaapsklere vermom, sodat mens daaronder nie in één oogopslag die verskeurende wolf ontdek nie!

[12] Sorg dat jy uit my sig verdwyn, anders sou ek in die versoeking kon kom om dinge oor jou te vertel wat jy nou juis nie so graag sou wou aanhoor nie, want my gees ken jou nou deur en deur!"

[13] Nadat Judas vir Mathael dit hoor sê het, rek sy oë en hy sê: "Jy vergis jou met my, Mathael, want ook ék behoort by die aantal uitverkorenes. Ek is in die Naam van die Heer al uitgestuur en is net soos my broers pas `n paar weke gelede deur die engele deur die lug gedra!"

[14] Mathael sê: "O, dit weet ek alles, en tog neem ek geen lettergreep terug van my eenmaal uitgesproke woorde nie! Jy hoort wel by die twaalf, maar my gees sê vir my: 'Eén daarvan is `n duiwel!' - en weet wel: die duiwel is jy!

[15] Met hierdie getuienis wat my gees my oor jou gegee het, kan jy dit voorlopig doen - as jy egter nog meer wil, kan daarvoor gesorg word, want ek ontdek sopas `n groot ruimte vol ongunstige inligting oor jou, en jy hoef maar te kik, dan kry jy alles te hore! Want jy is óók `n dief! - Verstaan jy my?!"

[16] Toe Judas die dondertoespraak van die wyse Mathael hoor, gaan daar `n geweldige huiwering deur hom heen en hy trek hom heel beskeie terug, en kry by die teruggaan ook van Thomas nog enige sagte porre met die woorde: "Het jou hel jou weereens opgestook?! Gaan maar so voort, dan sal jy nog wel meer te hore kry! Teen Mathael, wat deur die Heer na liggaam, siel en gees so wonderbaarlik genees is, sal jy, arme sukkelaar nooit iets kan inbring nie!

[17] Kyk, selfs die engel van die Heer waag dit nie om in sy buurt te kom nie, en jy wil met hom stry oor dit wat hy in sy groot wysheid, `n wysheid soos wat na Moses nooit weer voorgekom het nie, na vore gebring het?!

[18] Sien jy so `n ten hemele skreiende domheid van jou eselagtige hart nog nie in nie?! Kan jy dan nie rustig wees, luister en maar net leer nie?!

[19] Hier is alle wysheid van alle hemele en alle aardes op één plek byeen. Ons sit hier in die sentrum van die goddelike hart bymekaar. Woorde en dade gaan aan ons verby wat selfs die engele buitengewoon verbaas, en jy, die grootste esel van ons almal, kan die drang nie weerstaan om nie slegs saam te praat nie, maar ook nog teen te spreek, en daarmee jou eie domheid aan die nou so goddelike daglig te bring! O esel der esels!"

[20] Judas sê koppig: "Ai - laat staan my tog! As ek dan `n esel is, dan is ek dit vir myself, en nie vir jou nie! En ook al het Mathael my nou ook hóé hard daarvan laat kry, ek verwed tog wat jy maar wil dat hierdie op sigself só suiwere, goddelike leer nie met sagte, vredeliewende woorde nie, maar met die swaard en allerlei dodelike projektiele aan die arme heidene verkondig sal word!

[21] Die mense sal niemand vra of hy dit verstaan het nie, maar die mense sal hom laat sweer aan die nuwe geloof! En as hy later van die geloof wat hy nooit begryp het nie, af sal val, word hy skuldig verklaar aan skandelike meineed en daarvoor op sy minste lewend verbrand!

[22] As die mense by die verdere verspreiding van hierdie op sigself só goddelike leer, nie vóór alles toesien om eerste die maghebbers daarvoor te wen nie, dan sou ek werklik, ondanks dat ek `n duiwel is, die aantal martelare nie graag wou tel wat onder die swaard van die hoë, heidense maghebbers sal doodbloei nie! Goddelik hier, goddelik daar! Die duiwel is ook goddelik! Mettertyd word selfs die suiwerste en  mees verhewe goddelike ook duiwels!

[23] Kyk byvoorbeeld maar eers na die goddelike leer van Moses! Wat is nou nog daarvan oor in die tempel van die eens so hemels wyse Salomo?! Daarom sê ek as Mathael se duiwel, en as jou esel der esels nog `n keer: Mathael het gelyk, en ek waardeer sy wysheid net so goed soos jy, maar so goed as Mathael gelyk het, het ek dit ook!

[24] Ek sê vir jou: Hierdie hemelse vredesleer sal binne nie al te lange tyd nie oor die hele aardbodem die grootste onvrede saai en volkere onderling in die grootste, onversoenlikste rusie, onenigheid en oorlog stort!

[25] Liggaamlik sal julle dit nog nie so belewe nie, maar julle gees sal eendag ‘n des te sekerder getuie wees van alles wat ek julle nou gesê het, en dan sal julle eers toegee dat die duiwel en dief Judas óók eens geprofeteer het! - Nou vra ek jou of jy my goed verstaan het!?"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205