Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 5

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Julius dreig die fariseërs

5 Maar die jong fariseër het met hierdie geleentheid iets oor die genesing van die vyf roofmoordenaars gehoor en omdat dit hom nogal opgeval het, vra hy dadelik baie bedeesd aan die hoofman: "Verhewe gebieder! Is dit dan tóg nie miskien die beroemde Verlosser uit Nasaret, of anders sy vernaamste afgesant nie? Want ons hoor dat Hy leerlinge aanneem en hulle, ten minste as hulle begrip daartoe het, as afgesante na ander plekke toe stuur om volgelinge vir Sy nuwe leer te maak, waarin hulle meestal ook slaag. As dit die Verlosser uit Nasaret is, dan is ons in die moeilikheid!"

[2] Julius vra ernstig aan die jong fariseër terwyl hy hom streng aankyk: "Waarom dan? Waarom sal julle in die moeilikheid raak as hierdie Man dan tog die beroemde Verlosser uit Nasaret Self sou wees? Helaas, die vraag kom my ietwat verdag voor! Ek eis `n goeie verklaring vir hierdie verleentheid van julle, anders sal dit met julle nie so goed gaan nie!"

[3] Hierdie ietwat streng teenvraag van Julius vervul die jong manne met `n behoorlike porsie vrees en die jong fariseër wat die woord voer, word nou ook baie verleë en weet skielik nie wat hy die nou so streng geworde Julius moet antwoord nie.

[4] Maar Julius sê: "As julle my die waarheid kan en wil vertel, hoef julle gladnie daaroor na te dink hoe en wat julle sal sê nie. Probeer julle my egter met skynbare waarhede te sus, dan vergis julle julleself deeglik, want ek sal maar al te goed die verskil tussen `n slinkse verdigsel en die suiwer waarheid kan uitken. Daarom wil ek julle waarsku: Pas op dat julle nie uitgevang word nie! Op die een of ander manier kry ek nog altyd die indruk dat `n mens julle nog lank nie volledig kan vertrou nie, want julle is, so lyk dit vir my, vir eens en vir altyd gesalf met alle satansalwe. Wie op julle woorde vertrou, maak homself maklik tot verraaier van sy eie saak. Alles wat julle gesê het, word gesien as uit `n deur en deur slegte inbors, en is maar slegs `n maskerade. Maar wee julle dan, want van nou af sal ek alles self skerp ingedagte hou! Spreek nou dus die reine waarheid, of dit sal met julle slegter gaan as die vyf roofmoordenaars wat buite aan die oewer van die see aan stewige pale vasgebind is! Kom dus sonder draaitjies met die volle waarheid vorendag!"

[5] Met die bevel van Julius dat hulle moet antwoord, word al dertig bleek en bewe van angs, want alhoewel hulle eintlik ernstig van plan was om met die tempel te breek, was hulle daarby tog ook bedag daarop om hulle vir die tempel skoon te was. Want die jong fariseërs het die kuns buitengewoon goed verstaan om hulle in geval van nood van alle skuld vry te pleit. As hulle die vuur na aan die skene gelê word omdat hulle by die tempel hoort, belaster hulle die tempel soos geen ander nie. Kom hulle egter weer terug in die tempel en die mense hou hulle verantwoordelik dat hulle teen die tempel uitgevaar het, dan het hulle dadelik `n aantal goeie redes byderhand om aan te toon dat hulle slegs vir die skyn teen die tempel te kere gegaan het.

[6] Daarom het Ek dan ook reeds in die begin gesê dat mens hulle nie te veel moet vertrou nie, want sulke mensesiele is soos getemde diere, wat mens ook nooit heeltemal mag vertrou nie, omdat die wildheid, sodra die geleentheid hom voordoen, graag weer sy kop uitsteek.

[7] Toe, na `n rukkie se angstige stilswye, is dit weer Julius wat meer nadruklik begin aandring daarop en Ek sê aan hom: "Vriend, gee hulle geleentheid om tot verhaal te kom en dan te praat! Want met leuens kan hulle ons tog onmoontlik bedrieg nie, ook al sou hulle dit miskien wou doen. Want Ek is tog hier en vir My kan mense nie belieg nie, en Rafael is ook hier, wat mense ook nie kan belieg nie. Wat sou die dertig bevreesde mense dus met `n leuen teen ons kan doen, wat ten eerste nie belieg kan word nie en ten tweede alle mag en krag in die hande het?!"

[8] Julius sê: "Ek sien wel dat U, o Heer, soos altyd, ook hierdie keer weer volkome gelyk het en dus sal ek geduldig die antwoord van hierdie dertig afwag. Ek sal net daaraan wou toevoeg wat my, as die antwoord te lank vat, dan te doen staan!"

[9] Daarop open die jong fariseër skielik ietwat moediger sy mond en sê: "U het ons tot wanhoop gebring omdat u so hardnekkig `n antwoord op u vraag vereis. Maar ons het u vroeër baie vriendelik, hoewel ietwat opgewonde, oor die verhewe Man daar gevra, wie Hy is, en of hy nie dalk die Verlosser uit Nasaret was nie. En ons het gesê dat sou dit Hy wees, ons daardeur in groot moeilikheid sou kom. U het dit opgemerk en u het dadelik agterdogtig teenoor ons geword en wou skielik met die dreigendste gesig ter wêreld van ons verneem wat die rede daarvoor is. Dat ons toe bang geword het, is maklik te verstane omdat ons u strengheid al ondervind het.

[10] Maar noudat ons in hierdie grootse Man, wat ons eintlik heimlik die meeste vrees omdat die gedagte altyd by ons opkom dat hy wel moontlik die Verlosser uit Nasaret kan wees, `n verdediger van ons verleentheid gevind het, kan ons ook goed praat; want ons is nou nie meer bang nie en kan vry en openlik ons woord spreek.

[11] Dat ons die Verlosser uit Nasaret grondig vrees, het `n baie eenvoudige oorsaak omdat ons hier staan as uitgestuur deur die tempel, as openlike vervolgers, al was ons dit eintlik nooit in ons harte gewees nie. Ons het vir die wêreld ook al baie skynmaatreëls teen Hom moes tref, wat sekerlik nie vir Hom aangenaam was nie, al kon dit Hom ook tot op hede geen direkte skade berokken het nie.

[12] Ons het egter nou al heelwat staaltjies hier gehoor en gemerk dat dit met `n vervolger van die Verlosser bepaald nie so goed sal gaan nie. Daarom het ons u dan ook gevra, toe ons iets verneem het van die vasgestelde genesing van die vyf roofmoordenaars môre-oggend, of hy nie sélf die beroemde Verlosser uit Nasaret is nie.

[13] As dit werklik Hy is, bly daar vir ons tog sekerlik niks anders oor as om onsself voor Hom in die stof neer te werp en om Hom om vergifnis te smeek vir alles wat ons in opdrag van die tempel aan Hom moes kom doen nie. En kyk, dit is die benarde situasie waarin ons onsself sou bevind sou Hy werklik die Verlosser uit Nasaret wees! Maar omdat ons nou die edelmoedige hart van hierdie Man gesien het, mag hy dan tog die Verlosser uit Nasaret wees, want deur Hom sal ons sekerlik nie in die moeilikheid kom nie! - Dit is nou die eerlike antwoord wat u so dreigend van ons verlang het, maar gee u ons nou ook die regte antwoord op ons vraag!"

[14] Julius sê: "Nou, weet dan, dat dit HY IS aan wie die hele natuur en alle magte van die hemel diensbaar is - HY IS die beroemde Verlosser uit Nasaret! Oor Hom het die meisie vroeër getuig, en die engel was gehoorsaam aan Sy wenke toe hy julle die voorbeeld van sy mag getoon het. Maar noudat julle dit weet, moet julle eers vir my sê wat julle nou wou en sou doen!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205