|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 142
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248. |
|
|
Voortsetting van die regsaak teen die fariseërs
142 Herme sê: "Vors van die vorste, daar, op ongeveer tien treë van hierdie tafel staan `n Man met `n wonderlik vriendelike, en tewens baie wyse gelaat, wat `n meisie by Hom het. Die meisie, wat baie lief en hartlik daar uitsien, is met Hom in gesprek en as Hy iets sê, gee sy blyke van `n onbeskryflike, salige vreugde daaroor! Wie is die wonderlike Man? Ag, wat `n waardigheid straal daar gewoonweg uit Sy héle wese! Hoe edel sien die menslike vorm tog daaruit by so `n wonderheerlike Gestalte! En bykans almal kyk na Hom! Te oordeel aan Sy kleding moet hy `n Galileër wees! Kan u my iets oor hierdie Man vertel? O gode, hoe meer ek die Man sien, hoe meer word ek letterlik verlief op Hom! Ek neem my vrou en my drie dogters nie kwalik as hulle nouliks hul oë van Hom kan afwend nie! Ek sal my lewe daarop verwed dat hierdie Man `n goeie, edel en wyse Mens is! Maar wie, wie, wie en wat is Hy! Vors van die vorste, vertel my dit en daarna kan ons dadelik die spitsboewe onder hande neem! O, vryspring sal hulle in geen geval meer nie, ons moet egter net nie ernstig op hul getuienisse ingaan nie!"
[2] Cyrenius sê: "Vriend Herme, wat die Man betref, sê ek jou eersterangs maar net dat Hy onder ons mense, sê maar `n God is! Voorlopig is Hy slegs `n geneesheer uit Nasaret, - maar wat `n geneesheer! So Een het hierdie aarde nog nooit gedra nie! Alles anders sal jy wel later uitvind! - Maar nou gaan ons begin, en sê jy in die vervolg nie meer ‘Vors van die vorste' nie maar 'vriend en broer' aan my!"
[3] Herme sê: "Uitstekend, ek hou my by elke opdrag en vir hierdie sou ek wel van dank wou sterwe uit hoogste agting en liefde vir u! Maar, geëerde vriend, sê my vooraf nog wie tog die besonder mooi jongman by die Geneesheer is! Is dit dalk Sy seun en die meisie Sy dogter?"
[4] Cyrenius sê: "Ja, ja, vriend, jy het dit korrek beoordeel, - maar nou gaan ons werk!"
[5] Na hierdie woorde laat Cyrenius die owerste van die fariseërs weer kom en vra hom of hy die boodskapper ken.
[6] Die owerste sê: "Wie sou nie die beroemde sanger en siterspeler ken nie?! Ons het reeds `n wonderbaarlike genot ervaar uit sy liedere! Dit is net baie jammer dat hy nie oorgehaal kan word tot die geloof van ons vaders nie; waarlik, hy sou ons groot Dawid oortref het! Hy is `n uiters eerlik, regskape en gevoelige mens, hy hou hom net gladnie met ons op nie, wat ons hom graag vergewe, omdat ons tog nie kan verlang dat hy ons instellings, wat wel baie onmenslik skyn te wees, met sy verstand aanvaar en verstaan nie!"
[7] Cyrenius sê: "Hierdie Herme is egter julle belangrikste aanklaer en hy het my nou vir die tweede keer maar al te duidelik dit bevestig wat `n geloofwaardige getuie vroeër oor julle verklaar het! Dit is vir my rede om u te beskou as erge en gemene misdadigers, terwyl u daarby nog die skandalige brutaliteit besit het om skadevergoeding van my te vra omdat u deur u eie bose hebsug, veragtelike en verfynde moordenaars en brandstigters geword het! - Wat het u daarop te sê?"
[8] Die owerste sê baie bedaard: "Meneer, ons koester heeltemal geen wrok ten opsigte van Herme nie. Ons weet reeds lank dat `n mens wat nie die minste begrip van `n saak het of enige ander kennis besit nie, nie anders kan oordeel as wat sy beperkte beoordelingsvermoë hom toelaat nie. Wie kan ooit `n wrok koester teen `n mens wat van die dak val, en deur sy val `n mens wat onder die dak sit, doodmaak?! As die brawe sanger Herme nou ook ons vyand wil wees, dan is daar niks daaraan te doen nie, tog sal ons geen vyand van hom word nie! Eintlik is alles wat hy oor ons gesê het, ook heeltemal korrek. Maar in Europa is daar by Sicilië `n gevaarlike plek wat in die see lê, wat `n mens Scylla en Garybdis noem; wie voorspoedig verby Scylla vaar, word vervolgens deur die draaikolk by Garybdis verswelg! Ons het ons vannag ook in `n werklik morele Scylla en Garybdis bevind en ons vra u nou: Wat moes ons dan eintlik gedoen het wat vir u as Romeine volkome sou tevrede stel?"
[9] Cyrenius sê: "U weet tog baie goed wat die oorsaak was van die verskynsel wat gister plaasgevind het. Waarom lê u vir u gelowiges dan nie die ware toedrag van sake uit nie, waardeur alle gemoedere sekerlik gerusgestel sou gewees het?! Waarom lieg u vir die volk, waardeur u die basis lê vir die groot ontsetting en verwarring, en die huidige opstand teen u?! Waarom pers u van die volk die mees ongehoorde en tirannieke offers af, terwyl u tog weet wat die oorsaak van die verskynsel was en dat dit niks te make het met die voorspelling van Daniël nie?!
[10] Lê dit vir my uit en verdedig die skandalige gedrag van u kant teen die arme blinde, en deur u dom en bygelowig gemaakte volk!"
[11] Die owerste sê: “Ek het u sopas gewys op u Scylla en Garybdis, maar u kan dit blykbaar nie verstaan nie! Kyk, toe die son gister, net soos ten tye van Josua, die aand ongewoon lank verlig het, het dit baie van ons vooraanstaande geloofsgenote opgeval. Hulle het na my toe gekom in die sinagoge, my gevra vir `n uitleg en het my ook vertel dat al die Judeërs baie ontsteld daaroor was. Ek het vir hulle so goed as moontlik die saak al by die eerste besoek uitgelê, en het aan hulle verklaar dat die verskynsel baie natuurlik was in hierdie periode waarin die lengte van die dag en die nag aan mekaar gelyk word. Hulle het toe gegaan, maar het nie geweet hoe om die volk tot ruste te bring nie. Mense het in die ooste vallende sterre gesien, en het die wat die volk tot ruste wou bring, dadelik attent gemaak op die voorspelling van Daniël. Tewens het die volk hulle gewaarsku om so iets nie vir hulle verborge te hou nie! Maar na `n tydjie het die son verdwyn, of die lugverskynsel plotseling en het dit ontsettend donker geword! Toe was dit egter ook klaar met al tot ruste gemaan! Nou moes en sou die einde van die wêreld daar wees, elke teenspraak van ons kant sou ons onmiddellik die lewe gekos het!
[12] Kyk dit was Scylla! Die omstandighede het ons genoodsaak om die verhaal van Daniël as waar te verkondig, en gesien in die lig van die omvang van die dreiging ook die swaarste boetedoening te eis, om sodoende die volk in hul hart tenminste hoop te laat vestig op God se medelye! Ons het egter baie goed ingesien dat ons op die huidige, klare oggend in die Garybdis tereg sou kom. Maar as `n mens tussen twee booshede moet kies, kies `n mens liewer die eerste en kleiner boosheid as die tweede, wat dadelik die ondergang teweeggebring het. Ons het dus volgens die omstandighede gehandel, wat ons nie veroorsaak het nie, baie korrek en regverdig omdat dit onmoontlik was om anders te handel. Hoe kan u as regverdige Romein ons nou daarvoor wil oordeel? Lê u dit nou eers vir ons uit!"
[13] Cyrenius sê: "Ja, ja, dit klink nie so gek nie, maar dit is die vraag, wat sou u met al die ontvangde offers gedoen het! Want die einde van die wêreld, ter voorkoming waarvan u die offers gevra het en geneem het, het vandag nog nie gekom nie, soos nou blyk! Sou u alles weer aan die arme volk teruggegee het?"
[14] Die owerste sê:" Geëerde gebieder! Dit is werklik `n vreemde en baie oorbodige vraag! Dit spreek tog vanself, hoewel dit met baie wysheid en versigtigheid vanweë die blindheid van die volk moes gebeur het. Maar vra u nou ook eers aan die vuur wat alle offers, en al ons voorrade verslind het, wat dit naderhand sal doen!
[15] Die deur die omstandighede en nood vereiste prediking van die voorspelling van Daniël hoef gladnie tot gevolg gehad het dat ons huise en sinagoges verbrand word nie, wat u wyse geloofsgenote weens `n ou wrok teen ons bewerkstellig het. Ons kom daarom nie net vir ons nie, maar ook om vir ons volk te vra, omdat ons nou buite ons skuld bedelaars geword het. Hoe wil of hoe kan u ons nou daarvoor, in plaas van om te help, wil veroordeel en selfs straf?! Kyk nou eers na die hele stand van sake, die oorsaak en die feite, dan moet u tog met meer as sewevoudige blindheid geslaan wees as u ons hier skuldig wil verklaar!"
|
|
|
|
|