Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 22

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die wanhoop van die geneesde besetenes

22 Een van die vyf sê: "Ja, daar gaan vir my nou `n lig op! Dit wil wel voorkom asof ek `n bose droom gehad het, en uit hierdie droom herinner ek my nou dat ek deur `n roofbende saam met nog vier ander gevang is. Ons is in `n donker grot ingebring en daar in die hande van duiwels oorgelewer. Dié het ons eers van buite af bewerk om roofmoordenaars van ons te maak, wat húlle ook was. Omdat ons onsself baie daarteen verset het, het die duiwels besit geneem van ons liggame. Toe verloor ons ons eie bewussyn heeltemal en `n duiwelse hunkering en aandrif het hom van ons harte meester gemaak en ons was vir onsself so goed as verlore. Wat ons toe in hierdie verskriklike toestand alles uitgevoer en onderneem het, daarvan weet ons niks nie. Ek kan my nog net herinner dat ons kort gelede deur Romeinse krygsliede gevange geneem is. Wat egter daarna met ons gebeur het, is vir my in elk geval glad nie bekend nie en ek weet beslis nie hoe ons hier gekom het en eintlik waarom nie! Mense moes ons erg mishandel het, want ons is nog vol wonde en swere wat, sover ek kan voel, in elk geval nou geen pyn meer veroorsaak nie. Ag, God, dit moes tog baie sleg met ons gegaan het!?"

[2] Die tweede sê: "Weet julle wat ons oorspronklik was? Wel, ons het eintlik aan die tempel behoort en was as apostels na die Samaritane gestuur om hulle weer tot Jerusalem te bekeer. Ons was egter deur die Samaritane tot ander insigte gebring en gaan toe terug en wou in Juda mense vir Gerasim bekeer. Kort daarna is ons op die grens deur die duiwels gevange geneem, wat ons vervolgens beheks het sodat ons nie meer geweet het wat en wie ons was en wat daar met ons gebeur het nie. Maar hoe ons sondermeer hier gekom het, is vir my totaal onbekend! Ja, ja, wat daar met ons gebeur het, dit het ons alles aan die tempel te danke! Hulle verstaan die kuns om `n mens so ongelukkig as moontlik te maak, maar daar is sover ons weet geen enkele geval bekend waar die tempel iemand gelukkig gemaak het nie! Slegs die owerstes en die hoë fariseërs en die oudstes van die skrifgeleerdes is die gelukkiges in die tempel, maar alle ander is armsalige knegte en hongerige handlangers van die tempel!"

[3] Die derde sê: "Ja, nou kan ek my ook herinner hoe ons in die tempel met vas en allerlei ander boetedoeninge geplaag was! O God, al ons ongeluk het ons tog wel aan ons ouers te danke! In die wet van Moses staan: 'Eer jou vader en jou moeder, sodat jy lank mag lewe en dat dit met jou goed mag gaan op die aarde!' Ons het tog altyd ons ouers geëer deur alles wat hulle van ons verlang het, stiptelik uit te voer; op hul wens was ons ingelyf by die tempel, alhoewel ons gladnie uit die stam van Levi gebore was nie. Maar dit het nie saak gemaak nie, want met geld kan jy nou eenmaal alles word wat jy maar wil, maar dan net vir báie geld! Maar deurdat ons by die tempel gevoeg is, het ons van dag tot dag deur allerlei oefeninge en proewe ongelukkiger geraak, totdat ons as apostels na Samaria uitgestuur is en ons almal daar deur bose towenaars beheks is! Wat daar vanaf daardie oomblik tot op hede met ons gebeur het en wat ons gedoen en uitgevoer het, hoe ons hier in hierdie onbekende streek oor hierdie see gekom het en wie ons so erg toegetakel het, dit alles is vir my onbekend. Slegs baie vaag kan ek my herinner dat ons, toe ons geen roofmoordenaars wou word nie, deur die bose towenaars oorgelewer is aan `n baie verdorwe en duistere geselskap, wat ons só behandel het dat ons baie gou ons sinne kwytgeraak het en tot op dié uur dit nie weer kon terugkry nie! Maar nou het dit, goddank, weer teruggekom! Ons weet nou weer dat ons bestaan en wie ons is! Maar wat moet ons nou doen? Moet ons weer na die tempel teruggaan, of moet ons iets anders gaan doen? Die beste is dat ek nou eerder dood moet wees, want hierdie slegte wêreld het vir my alles laat verloor wat dit vir my werd gemaak het om verder op haar bodem te lewe! Wie kan daarvoor instaan dat ons nie gou wéér in die hande sal val van sulke duiwels soos die laaste keer nie?! Wie sal ons dán uit hul kloue red?"

[4] Die vierde en die vyfde sê: "Dit is ons heeltemal met jou eens! Gee ons maar `n goeie, vinnige dood en dan ewiglik geen lewe meer nie! O, hoe goed is die ‘nie-wees’ vergeleke met `n ‘wees’ soos wat ons meegemaak het! Dus, slegs maar ophou om te bestaan! Maar wel heeltemal ophou! Want ons ervaring het vir ons die bestaan vir ewig onverdraaglik gemaak! Waarom moet ons eintlik bestaan? Ons het tydens ons ‘nie-wees’ vóór die geboorte tog nooit gevra om te ‘wees’ nie! Of kan `n wyse skepper ooit plesier daarin skep om sulke ontsettende ongelukkige wesens te sien rondwandel onder Sy ongetwyfeld salige Almag? Maar wat kan ons magtelose wurms dan doen?

[5] Elke dier is beter af as die mens, wat homself beskou as verhewe meester van die skepping! Julle Romeine kan met julle skerp swaarde wel die woede van die leeu bestry en tiers, luiperds en hiënas moet vlug vir die luide gekletter van julle skilde en lanse, maar as julle êrens deur bose demone oorval word, met watter wapens kan julle dan hierdie onsigbare vyande te lyf gaan? Julle kan miskien weinig daaroor praat, hoewel `n Delfiese spreuk dikwels meer krag het as `n hele leër! Maar ons het met so `n geheime krag en mag te doene gekry en kon ons nie daarteen verdedig nie! Ons moes duiwels word en omdat ons dit nie wou word nie, het die slegte demone ons ons hele bewussyn ontneem, het die liggaam wel laat voortbestaan as `n masjien en het hierdie masjien toe God weet waarvoor gebruik! Dat dit beslis nie vir iets goeds gebruik was nie, sien julle gewis aan die ellendige uiterlike van ons vel! Daarom wil ons maar net doodgaan, maar wel die totale dood! Na die graf geen lewe meer in watter vorm dan ookal nie!"

[6] Die eerste sê weer: "Ja, as dit moontlik sou wees, sou hulle wat ons met sekerheid so `n dood kon gee, ons gewis die grootste weldaad bewys! Want waarom sal ons onsself op hierdie ellendige wêreld nog meer laat martel! Om as duiwels `n nog groter plaag vir die mense te wees, wil ons in elk geval nie! Maar as jy dit nou op die een of ander manier nie wil doen nie, dan het jy steeds `n vervloekte, ellendige bestaan op hierdie beroerde wêreld! Jy kan nie daarby verbykom nie! Om jou nou eers te verberg vir die mense wat nou merendeels uit louter satansknegte bestaan? Wat gebeur dan?! Die duiwels vind die verborgene gou en hy kan hom nie teen hulle verweer nie. As hy doen wat hulle wil hê, dan is hy sondermeer van die duiwel; as hy hulle egter nie vrywillig volg nie, dan doen hulle hom die mees verskriklikste geweldadighede aan en daarna word hy nog meer van die duiwel!

[7] Gaan en raak weg met so `n vervloekte wêreld en met so `n vervloekte ellendige bestaan! Dit is selfs vir die ergste duiwels te sleg, laat staan vir `n naïewe, onskuldige mensesiel! `n God bo alle sterre kan wel lag, maar die arme, onmagtig geskape mens moet ly, huil, vloek en twyfel! Waar is die Verlosser dan wat ons hierdie ellendige bewussyn, om vrye mense te wees, teruggegee het? Helaas, Hy hoef nooit daarvoor op ons dank te reken nie, want Hy het ons daarmee maar net aan `n nuwe ellende oorgegee! Vir so `n weldaad sal ons Hom in der ewigheid nooit dankbaar wees nie, ten minste as ons hierdie vervloekte lewe ewiglik moet deurmaak! Maar as Hy ons met sekerheid die ewige, totale dood kan gee, dan sal ons by voorbaat so dankbaar wees as wat maar enigsins moontlik is!

[8] Wie is julle mooi uitgedoste Romeine nou eintlik? Dit gaan met julle op hierdie wêreld sekerlik beter as met ons! Julle sien goed daaruit! Ja, ja, wie na die satan luister en alle pronkery goed dien, met hulle gaan dit goed in hierdie wêreld! Wie nie deur duiwels gekwel wil word nie, die moet self `n duiwel word, dan het hy geen las van die duiwels nie! Om dienaars van God te wees, is gewis die mees absurde van alles wat belaglik is! `n Mens moet God se hulp begeer en God met al sy krag liefhê! O, mooi woorde en tog is daar geen vonkie waarheid daarin nie! Ons was tog met liggaam en siel dienaars van God en het net soos die voëls van kindsbeen af geroep: 'JaHWeH God van die Skeppingsleërmag, help ons en alle mense wat van goeie wil is!' En kyk na ons, hoe die liewe JaHWeH God van die Skeppingsleërmag ons gehelp het! Ook julle het mag in die hande, naamlik die van die duiwel en julle kan nou met ons doen wat julle wil; maar dít smeek ons julle, gaan tog `n bietjie mensliker met ons om as die vorige duiwels, wat ons één strook deur gekwel het! As julle ook weer duiwels van ons wil maak, maak dan dadelik maar liewer hele as halwe duiwels van ons! Ons sal dan sien of ons as heel duiwels beter kan lewe as gedwonge halwes!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205