Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 127

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Onverborge gevoelens

127 Dan swyg Mathael en dink in stilte na oor wat Jarah gesê het, en Helena en Ouran staar, in opperste verbasing, sonder om een woord te sê na Jarah; maar Jarah kyk na die nog fel brandende stad en wag met groot verlange op My terugkoms. Dit is nou volkome stil op die berg, slegs in die huis van Markus is mense bedrywig vir die aangekondigde gaste, naamlik vir Cornelius en Festus, en die oggend word altyd ligter.

[2] Byna `n uur lank bly dit so heel rustig op die berg, afgesien van die reeds genoemde geluide uit Markus se huis waar mense druk besig was in verband met die aangekondigde, nuwe gaste, maar ook vir die stellig te verwagte nuwe aankomelinge uit die verwoeste stad.

[3] In die stilte raak daar ook `n aantal teen die more aan die slaap. Selfs Cyrenius, Julius, Josoë, en die hoë staatsdienaars wat vroeër met Cyrenius hier aanwesig was, het aan die slaap geraak. Maar die dertig jong fariseërs, wat opmerksaam die brand van die stad gadeslaan, bly wakker en spreek onderling baie oor dit wat hulle gesien en gehoor het, en dit doen ook die twaalf waaraan Suetal, Ribar en Baël behoort.

[4] Helena, Jarah, Ouran en Mathael met sy vier metgeselle Rob, Bos, Miga en Sahr bly ook wakker en was vol diepsinnige gedagtes, maar hulle verswyg alles en dink na oor dit wat Jarah so pas aan hulle gesê het, en hulle durf haar nie nog meer vrae te stel nie. Maar Jarah dink ook daaroor na of sy hierdie mense nie soms te veel, te vinnig op een slag vertel het nie.

[5] Skielik na `n hele tyd, toe die horison al rooi verkleur het, open die anders baie swygsame Rob sy mond en sê: "Beste vriende, ek kan ondanks al die nadenke nog geen rus vind nie. Alles is hier so buitengewoon merkwaardig, dat jy altyd by jouself dink dat jy droom en jy kan doen wat jy wil, maar jy kan jou met alles wat jy gesien en gehoor het, tog nooit so vereenselwig dat jy jou daarby tuis voel nie! En dat jy altyd meer vreemd voel is op sigself nog die gewoonste waarmee die gedagte van `n denker hom kan besig hou. Ons belewe niks as `n opeenvolging van wonders van die kolossaalste orde nie!"

[6] Broer Mathael, jy het hier koning van `n groot land geword en ons is jou konsuls! Die groot, heilige Heer hoef slegs oor die groot aarde te kyk, en hulle bewe soos `n kind vir die roede! Daarby kom die jong hooftowenaar nog uit die hemele en doen dinge waarvan ons hare werklik ten berge rys! Nou kom die meisie nog en vertel ons weer dinge waarvan jy met die grootste gemak in die wêreld volkome in die war sou kon raak! Sê my eers of dit wel moontlik is om met hierdie dinge op enigerlei wyse vertroud te raak! –

[7] Maar waar sou Hy nou eintlik so lank bly? Dit sal nou wel drie uur gelede gewees het dat Hy ons verlaat het en nog kom Hy nie terug nie!"

[8] `n Ander van die vier metgeselle van Mathael, wat Bos heet, en ook nooit baie sê nie, antwoord Rob: "Wat jy voel, voel ek ook, en ek kan my vir niks ter wêreld ook meer hier tuis voel nie! Alles wat gebeur, kom so onverwags moontlik en dit is op sigself dan altyd so buitengewoon fantasties, dat jy jou niks fantastieser kan voorstel nie; iedere daad, elke woord en elke vertelling maak alles wat die menslike oor tot op hede gehoor het, en die oog ooit gesien het, so totaal onbeduidend, dat daar selfs van Moses en al sy wonderdade niks van oorbly nie.

[9] Daar is geen twyfel daaraan dat die hele rykdom van die goddelike oergees werksaam is deur die baie merkwaardige, goeie en groot Heer, wat gebore is uit Nasaret en liggaamlik `n seun is van die plaaslike timmerman. Maar watter mens kan hom tuisvoel langs so `n grootheid? As Hy praat, praat nie Hy nie, maar die Ewige Gees van God in Hom, en as Hy iets doen, sou ek wel van die grootste geleerde wou hoor wat God meer sou kan doen as wat vir Hom moontlik is! Hy is volmaak God in woord en daad, Sy Wil heers aktief in die hele oneindigheid en tog loop Hy slegs as mens voor ons en langs ons, en eet en drink net soos ons!

[10] Waar is al die wyse woorde van Salomo nou, wat by die inwyding van die tempel gepraat het: 'JaHWeH, ek weet dat hemel en aarde U nie kan omspan nie - waar elke skepping opgehou het, is U nog ewig en oneindig magtig - maar tog het ons, o JaHWeH, `n huis gebou om ons met suiwer en berouvolle harte te versamel om U, o JaHWeH, vir al U weldade en seëninge te dank en U in teenspoed, ons nood en ons ellende voor te lig!' (1Konings 8:12 en verder)

[11] Miskien is dit nie woordeliks wat daar staan nie, maar dan is dit tog wel in kort die inhoud van wat die wyse bouer van die tempel by die inwyding met grootse, wyse woorde gesê het. Sou hy ook so gespreek het as hy ons uit Nasaret gebore Heer gesien en gehoor praat het, en Hom net soos ons leer ken het?

[12] Vir Sy persoon is die tempel wel enige duisende kere te groot en die oral aanwesige, almagtige wil van ons Heer is nie God die Heer Self nie, maar slegs `n onbegryplike Krag van die Een Heer, wat ons sien, hoor en kan spreek, maar waarby ons tog Sy persoonlike grootte net so goed ken soos die van ons. Hoe is dit moontlik dat Sy Wil oor die hele oneindigheid en ewigheid heers, en Sy oog en Sy oor oral in optima forma teenwoordig is? Kyk, dit alles is sake waar geen gees heeltemal uit wys kan word nie, en die gevolg is dat `n mens hom ook nie daarin tuis kan voel nie!

[13] Ja, as die persoon van die geestelik groot, goddelike Heer soos die van `n Simson of Goliat sou lyk, was dit vir almal ietwat meer verstaanbaar, want dan kon `n mens sê: So `n almagtige gees moet ook `n liggaam hê wat daarmee ooreenstem. Maar ons Heer is, wat persoon aanbetref, eerder klein as groot te noem, en tog speel Sy Gees met die oneindigheid soos `n seun met `n appel! Dit is die onbegryplike, en alle wyses met hul teorieë oor die wese van God, ly hier op `n geweldige manier skipbreuk, maar tog kan ons onsself nou, hoewel ons hier in die praktyk iets anders geleer het, nie skielik op ons gemak voel nie!

[14] Kortom, ek droom eintlik ook nog meer as dat ek my heeltemal wakker en tuis voel. My siel besef nou wel baie, ja, ek oorsien die hele vorm van die aarde, my blik dring tot in haar diepste dieptes; ek oorsien die maan as `n baie treurige, armsalige, klein wêreld, bestem vir nog kleinere en armsaliger mense en ander skepsels; ek sien Mercurius, Venus, Mars, Jupiter, Saturnus, en ek sien daarbo nog soortgelyke, klein en groot hemelliggame. Saturnus sien baie wonderlik daaruit, sy is baie, baie groter as ons aarde en sweef presies in die middel van `n reusagtige ring, waarbo so `n sewe mane, groter as die van ons, rond dartel soos bye om hul korf; ek sien ook die wonderbaarlik skone, ver uitgestrekte streke van die groot son; maar by al die dinge voel ek my nog lank nie so vreemd soos hier in die merkwaardige, vreemdsoortige nabyheid van die Skepper van al die tallose wêrelde en hul wonders nie!

[15] Miskien voel julle jul meer tuis, omdat julle waarskynlik hierdie situasie nie so rustig en diep aanvoel soos ek en broer Rob nie. Wanneer jy egter begin om dit alles heel rustig en so indringend moontlik te beskou, dit vergelyk met alles wat `n mens in hierdie wêreld ooit gesien het, gehoor en in ou boeke gelees het, dan word dit vir `n mens altyd onheilspellender en vreemdsoortiger as wat hy vermoed het. Ja, jy verloor op die laaste so heeltemal kontak met jou eie bestaan, wat vir jou soos `n voelbare leegte voorkom! - Sê my, of ek dit juis het of nie!"

[16] Miga sê dan: "Julle het beide gelyk en ook ek het dieselfde gevoel, maar vir my stem dit juis baie gelukkig."

[17] Rob en Bos sê: "Ja, daaroor het ons dit nie! Ons voel onsself ook baie en selfs buitengewoon gelukkig hier, maar dit hef die 'hom volledig vreemd voel' beslis nie in hierdie situasie op nie! God is en bly God, en ons kan dink en voel wat ons maar wil, maar die kloof kan ons nooit oorbrug nie!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205