Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 88

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die vrees van die Grieke vir die Heer

88 Nou rig almal hul oë op die natuurlike son, wat reeds sy halwe skyf agter die berge laat sak het. Op die oomblik toe die son ondergaan, verhef die skynson homself en straal met `n ewe helder lig oor hierdie omgewing en ook nog oor die volgende, aangrensende landerye en streke. Natuurlik reik so `n lig nie tot aan die sterre nie, daarom kan enige van die aanwesige gaste, veral in `n oostelike rigting, waar die uitspansel ietwat donker bly omdat die lig van die skynson slegs swak tot aan die verre, oostelike streke kan deurdring, `n aantal sterre van die eerste grootte sien en hulle verwonder hulle baie daaroor.

[2] Nou kom ook Ouran met sy dogter Helena in diepe eerbied na My toe en sê uit pure eerbied met `n ietwat stotterende stem: "As alles hier om my heen geen bedrog is nie en ek self ook geen drogbeeld is nie, dan is U die God van die elohim, van die geeste en van alle mense, alle diere, alle lande, alle seë, alle mere, alle riviere, spruite en fonteine, en alles wat daarin is en leef! Ook die winde, die blitse en die verskriklik rollende donder skyn U onderdanig te wees; ook son, maan en sterre luister na U wil.

[3] Maar as U, hoewel uiterlik `n mens soos ek, tot dit alles, slegs deur U woord en U almagtige wil, in staat is, dan vra ek tog aan alle wyses ter wêreld wat U nog makeer om die eerste en volmaakte God van die elohim te wees!?

[4] Ek, Ouran, `n klein vors uit die streek van die groot Pontus, erken U as sodanig. En selfs as Zeus en Apollo nou hierheen sou kom en `n belaglike 'nee' sou laat hoor, sou ek hulle persoonlik van erge domheid beskuldig!

[5] Geliefde dogter Helena, kom nou naderby en aanskou die God van die elohim - aanskou wat `n sterflike oog vroeër nog nooit gesien het nie!

[6] Kyk, by ons Grieke en ook by ander volke is `n heilige tempel gebou vir `n hoogste, onbekende god. Hierdie tempel word egter nooit geopen nie! Mens noem hierdie onbekende god by tye ook die ondeurgrondelike noodlot, waarvoor selfs die groot Zeus volgens ons leer beef soos `n populierblaar in die storm.

[7] En kyk, hierdie skrikwekkende God staan nou voor ons en gebied so-ewe vir Apollo om met die sonwa stil te hou, op die wens van hierdie eerbiedwaardige, gryse Romein, wat waarskynlik ook so `n klein vors van die een of ander gelukkige provinsie is!

[8] En kyk, dogter, Apollo wag tot hy weer `n geheime teken sal kry van die hoë onbekende God, waarvan mense sê dat slegs die dienaars van die tempel te Jerusalem hom beter ken - wat egter ook op sy beste gladnie waar kan wees nie. Want as hulle Hierdie Een nie as die enigste Ware Een erken nie, is hulle op die skandelikste dwaalweg ter wêreld!"

[9] Die mooie Helena sê: "Hulle sal waarskynlik wel iets naderby oor Hom weet, maar dan slegs in simboliese beelde. Maar dat hulle hierdie wonderdoener verseker nie sal beskou waarvoor u Hom beskou nie, en wat Hy ook na alle waarskynlikheid blyk te wees, daarvoor sou ek baie op die spel wou plaas! Die enigste wat ek nog nie so presies verstaan nie, is dat my hart steeds meer vervul word met ware, opregte liefde vir Hom, terwyl enige mens tog net `n God mag vrees, vereer en offers bring!

[10] U weet hoe streng ons priester, wat Apollo moet dien, my verbied het om `n god lief te hê. Want so `n liefde is ten eerste te algemeen vir `n oppergod soos Apollo, en ten tweede sou `n mens, as die liefde baie sou toeneem en werklik `n oppergod sou aantrek, dadelik die bestrawwende jaloesie van die godinne opwek en dan ongetwyfeld vir ewig moet deel in die harde lot van Europa, Dido, Daphne, Eurydice en Proserpina - en dit sou iets heel verskriklik wees.

[11] Ek het - soos u weet - na die werklik wyse lesse van ons Apollo-priester, dit sover in my hart gebring dat ek van `n moontlike verskyning van selfs die allermooiste god net so ontsteld sou wees as van die sien van die verskriklikste hoof van `n Medusa, Gorgo of Megaera!

[12] Van liefde vir `n god kan dus in hierdie omstandighede geen sprake meer wees nie! En kyk, ek beken openlik aan u dat ek, ondanks al my innerlike stryd en ondanks die vreeslikste voorstellings wat ek altyd maar vanweë die ontwaakte liefde vir `n god in my geheue opgeroep het, hierdie God tog steeds meer liefhet! Ja, ek sou uit liefde vir Hom die bitterste dood ondergaan, as Hy my daarvoor slegs één vriendelike blik sou waardig keur!

[13] O hemel van die hemele! Hoe onuitspreeklik vriendelik is Hy ondanks Sy erns! O, daar het die gode geen goed gedoen nie, dat hulle ons mense verbied het om hulle lief te hê!"

[14] Ouran sê: "Ja, my dogter! Die gode is baie wys en weet wat hulle die mense kan toestaan! Ons moet ons deur ons lewe op hierdie aarde eers so suiwer maak dat daar aan ons siel geen tekortkoming meer te vinde is nie, ook nie by die skerpste ondersoek van die drie onverbiddelike regters Aakus, Minos en Rhadamanthys nie. As hierdie drie ons voor die ore en oë van alle gode heeltemal rein verklaar het, sal dit ons eers in die ewige Elisium*  as hoogste van aller salighede toegestaan word om die oppergode, ten minste heel in die geheim, lief te hê! (*verblyfplek van die saliges volgens die Grieke)

[15] Maar hier op die wêreld in die onreine vlees moet jy jou vóór alles daarvoor behoed om juis op hierdie allerhoogste en allereerste God selfs maar verlief te raak! Dit sou tog gewis die verskriklikste van die allerverskriklikste wees! As jy werklik al `n soort liefde vir Hom voel, dan is dit gerade vir ons om so vinnig as moontlik hiervandaan weg te gaan!"

[16] Helena sê: "Dit sal my baie min meer kan help, want my hart is al té veel van Hom vervul en ek kan Hom nie meer daaruit kry nie! Maar kyk eers na daardie baie jonge meisie, wat Hom ook blyk baie lief te hê, en tog gebeur daar met haar, uiterlik gesien, niks ten kwade nie!"

[17] Ouran sê: "Liefie, jy weet dan nie of sy nie dalk een of ander godin is nie? Dan sou jy nie so seer vir Hom nie, maar des te meer vir haar moet vrees! Wie weet of sy nie minstens tien maal so erg is as Juno nie?!"

[18] Helena sê, baie bedroef en met trane in die oë: "Ja, ja, u kan dalk heeltemal gelyk hê! O, hoe gelukkig is die gode tog en hoe ongelukkig is die mense daarenteen! `n Hart wat nie mag liefhê nie, is gewis die ongelukkigste van wat `n mens in die wêreld ook maar ooit ongelukkig kan noem! As my oog my kwaadmaak, kan `n mens dit blindmaak, as my hand my kwaadmaak, kan ek dit laat afsny, so ook `n voet, en pla my sagte en blanke vel my, dan kan ek dit met roedes laat kasty en vervolgens met modder besmeer. Maar wat kan ek met my hart doen as sy my te veel begin pla? As `n mens `n drukkende gevoel in die maag gehad het, dan het Aesculapius daarvoor aangeraai om die sap van die aalwyn in te neem en dan gaan dit gou beter met die maag, maar teen `n drukkende gevoel in die hart het hy, na my wete, geen middel aanbeveel nie!

[19] Maar nou skiet iets my te binne: Weet u, hierdie God is tog ook `n Geneser van alle genesers! As ons Hom daarom sou smeek, sou Hy my miskien kan help?! Want Hy het ons immers gehelp toe ons Hom nie daarom kon vra nie omdat ons Hom nie geken het nie. Dan sal Hy my nou ook kan help, noudat ons Hom ken en Hom daarom vra en sekerlik bereid is om Hom enige gevraagde offer te bring!?"

[20] Ouran sê: "Kyk, dit was `n goeie gedagte van jou, en dit sal vir ons miskien ook goeie vrugte oplewer! Maar omdat die hoogste God Self die wyse Mathael vir ons toegewys het om ons te onderrig, kan ons onsself maar net via hom tot hierdie God wend! Maar Mathael blyk self ook ten minste `n baie magtige half-oppergod te wees, net soos die jongman, wat ek, weet jy Helena, weliswaar heimlik, tog sonder meer as die god Mercurius beskou. "

[21] Helena sê: "Ja, ja, ja, dit sal wel so wees, die jongeling is Mercurius! Maar, nou skiet iets my weer te binne! Miskien het ons op aarde reeds gesterf, goed deur die groot gerig heengekom en het ons uit die Lethe* gedrink en daardeur die herinnering verloor dat ons op aarde geleef het en miskien eers kort gelede gesterf het?! Ons is miskien al in die Elisium, maar die gode wil ons dit nie dadelik openbaar nie en wil ons dit deur allerlei omstandighede self laat ontdek!? (*Rivier in die onderwêreld waarvan die water vergetelheid gebring het; vergetelheid)

[22] Kyk maar eers na hierdie onbeskryflike mooi omgewing! Ek vra u, kan die Elisium nog mooier wees?! Die een son gaan onder en `n ander kom op dieselfde plek op, en ook die sterre ontbreek nie op die heerlike, ewige oggend nie! In daardie geval, vader, sou my liefde geen sonde meer wees nie!"

[23] Ouran sê: "Kind! daar is baie vir jou opmerking te sê, hoewel ek dit nog nie dadelik as `n volle waarheid sou wou onderskryf nie! Kortom, Mathael is ons nie verniet ter beskikking gestel nie, hy sal ons wel die regte helderheid gee!

[24] Mag ons alreeds in die Elisium wees, dan is ons daar as nuwelinge en in hierdie nuwe wêreld nog nie bekend nie, maar ons begeleier, Mathael sal ons twee wel help! Nou sien dit hier beslis baie elisies (geluksalig) daar uit, maar voorheen tydens die algehele sonsverduistering het dit bepaald nie baie elysies daar uitgesien nie, maar eerder ietwat orkies (Orkes is die doderyk in die Griekse mite). Maar nou sal ek dit beaam, hoewel, soos ek gehoor het, hierdie elisiese verligting nouliks nog twee uur sal duur - en dan, hoewel jy dit nie kan weet nie, sal dit hier wel weereens heel gewoonweg aards kon uitsien!? Maar laat ons ophou, ons het tog vir Mathael - hy sal ons wel van alles die regte en waarheidsgetroue uitleg gee! Maar Helena, vra jy dit vir hom, want ek durf dit nog nie aan nie! Met julle vroue gaan dit altyd beter af as met ons mans!

[25] Hy is nou egter in diepgaande gesprek met die ou vors, en die God praat ook met `n Romeinse hoofman! Soos gesê, op hierdie oomblik durf ek dit nog nie aan nie en `n mens sou dit my uiteindelik tog ietwat kwalik kon neem, maar jy is `n vrou, `n mens sal jou `n geringe opdringerigheid gladnie kwalik neem nie - beproef jy dus nou maar eers jou geluk!"

[26] Helena sê: "Dit word vir my nou ook ietwat angstig te moede en ek weet nie hoe ek dit so verstandig moontlik sal inklee nie. Maar gun my nou maar eers die tyd, dan sal dit wel geluk!"

[27] Ouran antwoord: "Haas jou langsaam!- is `n ou spreuk van die orakel van Dodona, en die wyse Plotinius, wat nog vóór Homerus moes geleef het, skyn dit uitgedink het, daarom moet jy jou by alles tyd gun!

[28] Wat `n mens ook doen, moet hy met verstand doen en daarby altyd bedink watter gevolge dit kan hê. Enige oorhaastige stap moet `n mens daarom vermy, dan ontwyk jy ten beste die valkuile! `n Werk stadig maar seker volbring is altyd beter as om in oormoedige haas oor `n diep te sloot spring waarvan `n mens die breedte nie vooraf goed geskat het nie, en waardeur `n mens in die diepte stort! O, die ou Ouran is op sy manier ook verstandig en wys en tot op hede het hy nog geen stap hoef te betreur nie. Miskien sal die goeie beskermgeeste hom ook in die toekoms daarvan bewaar!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205