Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 140

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Verontrustende berigte uit Césarea

140 Cyrenius staan verbaas oor die wysheid van die owerste en sê aan Mathael: "Vriend, met hom is dit nie goed om kersies te eet nie! Al die stele sal jy in jou gesig kry! Wat `n verborge kennis lê daar by hom opgeslaan, en hoe skitterend weet hy om sy huidige situasie te verdedig! Ag, dit is ongehoord! Uiteindelik sal jy nie eers vir hom kwaad word nie! - Maar in elk geval moet hulle uit die stad nou hier wees, en dan sal dit wel blyk wat hulle almal bo die water sal uitbring."

[2] Mathael sê glimlaggend: "Gladnie, dink ek, want hierdie ortodokse is te veel met die wol geverf, en vind oral `n gaatjie om te ontsnap! Kortom, as `n mens hierdie mense in `n hoek wil dryf, het `n mens méér as’n menslike krag en menslike verstand nodig! Ek ag myself in staat om honderde Grieke en Romeine in één dag te genees van hul domheid, want wat ek vir hulle sal bring sal nuut vir hulle wees, en hulle sal dit selfs baie dankbaar en graag aanvaar. Maar vir hierdie mense kan jy niks nuuts vertel nie. Meestal is hulle in alle kennis ingewy, en weet hulle om `n verhaal so geraffineerd te vertel dat daar baie moeilik iets daarteen in te bring is.

[3] Ek dink dan ook dat die Heer Homself daarom ietwat op die agtergrond hou, omdat Hy dit al vantevore gesien het dat met hierdie Selote sleg te onderhandel en te praat is! En daarom is my opvatting ook dat die aanklaers en getuies uit die stad met hul mededelinge net so min sal bereik as ons."

[4] Cyrenius sê: "Nou, dan belewe ons nou tog `n baie gedenkwaardige sitting, wat waarskynlik onder sulke omstandighede geen tweede keer op aarde sal plaasvind nie! As die plaaslike bestuurder nou maar eers net wil kom!"

[5] Toe kom daar, buite asem, `n boodskapper aan en sê aan die hele geselskap, sonder om rekening te hou met Cyrenius: "Vriende, sorg daarvoor om so gou moontlik weg te kom, want daar het `n verskriklike oproer uitgebreek. Almal is op soek na die ortodoks-joodse spitsboewe en fariseërs wat gevlug het, en die Romeine en Grieke moor alles uit wat maar enigsins soos `n Judeër lyk! Ek is `n arme Griek en het uit nood `n Joodse kleed om my naakte lyf gehang, en daarmee het ek maar ternouernood lewend daar uitgekom!"

[6] Cyrenius sê: "Kêrel, ek is die opperstadhouer! Lê dit eers beter uit! Hoe en waarom het daar `n oproer uitgebreek?"

[7] Die boodskapper antwoord ietwat verleë deur die onverwagte aanwesigheid van die opperstadhouer: "Geëerde en almagtige vors van die vorste! Dit is eenvoudig so: Gister het die son, of `n ander ligbron, die aand ongeveer `n paar uur langer verlig as wat normaalweg die geval was, waarna dit egter plotseling van die uitspansel af verdwyn het- `n weliswaar seldsame, maar tog geen nuwe verskynsel op hierdie groot en uitgestrekte aarde nie -. Toe begin die Judese priesters, dit wat hulle net so goed soos ons op grond van menslike ervarings en kennis verstaan het, in plaas van om aan hul gelowiges deursigtige wyn te skink, aan die blinde, bygelowige volk te vertel dat wat nou plaasvind, volgens hul mistieke profeteboeke te make het met `n reusagtige strafgerig van God. Daardeur het daar `n vreeslike gehuil by die dom Judeërs ontstaan. Hulle besweer hulle priesters, wat hulle beskou as hul vriende en dienaars van God, om by God ten alle koste iets te doen sodat Hy Sy straffende regterhand barmhartiglik sou terugtrek.

[8] Toe die slimme Judeërs hulle so `n geweldige aanbod in die skoot gewerp sien, antwoord hulle in hul priesterlike mistieke, geswolle woorde: 'As julle die harde laaste oordeel van God, wat nou onverbiddelik werklikheid sal word, van julle afgewend wil hê, moet julle nou alles wat julle aan goud, silwer, edelstene en pêrels besit, benewens julle beste vet, gemeste osse, die koeie wat die meeste melk gee en die vetste kalwers, as offer na ons toe bring, sodat ons dit dan op waardige wyse aan God kan offer!'

[9] Die Judese, priesterlike spitsboewe het dit kwalik gesê, of daar was al letterlik `n wolkbreuk van gevraagde offers! Dit sien óns priesters, wat eweneens nie op hul agterkoppe geval het nie, en hulle gaan soek of hulle nie ook hulle volk met handige sêgoed óók kon beweeg tot sulke rojale offers nie. Ook vind hulle in die ou leer van die gode iets wat hulle goeie dienste verleen om te laat offer. Hulle laat Apollo verlief word op die een of ander nuwe Daphne en om met haar `n onderonsie te hê. Dit het sy vyand, Pluto, dadelik in die gate, en hy steel intussen die son, waardeur Gea, Apollo en sy nuwe skone hulle dadelik in die vreeslikste narigheid bevind! Dat daaruit `n afskuwelike godeoorlog moes ontstaan kon elke Griek en Romein wel verstaan! Miskien, as die magtige Zeus eers goed benader word met offers en smeekbede, kon hy dan hierdie gevaarlike situasie nog bylê! Die idee het ook behoorlik by óns priesters opgekom, maar lank nie soveel soos die goddelike oordeel wat deur die Judese priesters aan hul skape verkondig word nie.

[10] `n Wyse Griek, wat hart en hoof op die regte plek gehad het, gee die uitleg aan sommige nugterdenkendes, en hulle gee, so goed as wat dit in die groot verwarring moontlik was, uitleg aan die benoude Grieke en Romeine oor hierdie natuurverskynsel. Hulle wys hulle op die voor die hand liggende, gewone hebsug van die priesterkaste, wat tog werklik geen begeerte meer sou gehad het om offers te vra en aan te neem, as daar ook maar één woord waar sou wees van hul onheilspellende preke nie. Wat beide verkondig het, naamlik die formeel besweerde Judese, en die Grieks-Romeine moes maar eers met mekaar vergelyk word, dan sou hulle tog wel insien dat die twee nie kon saamgaan nie! Want of dit wat die Judese priesters, of dat wat die Grieke aangekondig het, sou moes gebeur! Die gode sou tog nie so dom wees om nou vir elke volk `n persoonlike wors te gaan braai nie, terwyl hulle andersins tog hul hemelse gawes altyd op dieselfde wyse oor alle gelowige en ongelowige mense verdeel het!

[11] Hierdie en soortgelyke lesse het die volk dadelik tot besinning gebring. Ook die meer gegoede Judeërs het probeer om dit aan die mense te vertel, maar dit was verlore moeite. Hierdie kalwers van God uiter inteendeel nog bedreigings, en beskuldig die heidendom daarvan dat hulle die oorsaak was van die komende kwaad!

[12] Dit het gou gelei tot handgemeen raak. Die Grieke en Romeine steek by die dom Judeërs toe `n jongste oordeel bo hul hoofde aan, en eis van die priesters die teruggawe van die offers wat tydens hierdie benarde toestand op baie onregverdige wyse afgepers is. Toe daar nie aan `n baie beskeie versoek voldoen wou word nie, het die mense geweld gebruik, veral teen die Judese priesters, wat hulle daarna teruggetrek het van die geweld, en hulle in die rook van die op alle Judese hoeke brandende stad uit die voete gemaak het.

[13] Die wyse, Romeinse stadsbestuurder het dadelik daarop nog baie belangrike, uitgebreide inligting ingewin oor die Judese, priesterlike, ortodokse spitsboewe, en die volk vervolgens aangetoon dat hulle die enigste oorsaak was van hierdie verwoestende katastrofe. Toe begin ons dadelik met die opstand teen alles wat Judeër is, en dit het intussen `n afskuwelike bedryf geword, want die Judeërs word nou stuk vir stuk vermoor, en in die stad stroom al haas meer bloed as melk en wyn.

[14] Ek het die indruk dat die ontsnapte Judese priesters daar onder die groot sipres staan! Nou, goeie dag, hulle sal straks sleg vergaan as hulle nie oombliklik die hasepad kies nie, wat ek die groot skurke seker nie sal aanraai nie! Met hierdie werpspies het die mense my, van mening dat ek `n Judeër was, nagewerp toe ek hierheen vlug, maar het my gelukkig nie getref nie, maar ek sal daarmee self nog `n paar neerpen! Die twee ruiters het ek by die stadspoort ontmoet en hulle sal wel moeite doen om by die stadsbestuurder uit te kom! Vors van die vorste, nou weet u alles, en wat ek u vertel het, is die suiwer, naakte waarheid, waarvoor ek met my lewe borg staan!"

[15] Cyrenius sê: "Ek is jou baie dank verskuldig vir die berig, jy het goeie werk gedoen! Maar bly nou hier, en as jy honger en dors het, neem brood en wyn! Ek sal intussen `n paar soldate na die stad stuur om die opstand te onderdruk, daarna sal jy vir my as getuie kan dien teen die Judese priesters!"

[16] Die boodskapper neem die aanbod baie graag aan omdat hy al baie honger en dors was, en Cyrenius wink slegs na die aanwesige Julius, wat al weet wat daar moet gebeur, omdat hy ook die hele relaas van die boodskapper aangehoor het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205