Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 79

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die rede waarom daar soveel verskillende talente is.

79 Die genoemde, uiterlike verlief raak op `n mooi voorwerp, is daarom op sigself beslis geen sonde nie, maar kan sonde - dit wil sê `n fout in die lewensorde - word as dit stuurloos altyd meer aan die uiterlike vorme bly hang. Daardeur word dit dan natuurlik moeiliker om so `n gees te skei van die mooi buitekant en hom na sy eie plek terug te bring.

[2] Die Heer laat in sulke gevalle allerlei pynlike vermanings en selfs geselings toe, waardeur `n gees wat so verdwaal het, na verloop van tyd tog weer in die ou orde terugkom en al die uiterlike laat staan, die edelere daarvan herlei tot sy orde en dit daardeur werklik nuwe lewe inblaas.

[3] Daarom is daar `n groot verskil tussen mense soos jy en mense soos Ribar. Wat jy jare lank sal probeer, kan `n mens soos Ribar in `n paar dae, ja dikwels binne `n paar uur bereik as hy die regte leiding daarvoor kry en dit self ernstig wil. - Verstaan jy dit?"

[4] Suetal sê, terwyl hy ietwat knorrig lyk: "Ja, ek verstaan dit goed, maar ek sien aan die ander kant nie die rede waarom die Skepper die een mens so ryp en geestelik ontvanklik en die ander so bot soos `n stuk hout op die wêreld geplaas het nie!"

[5] Die engel sê: "Ja, my beste vriend, as jy so aanhou vra, is ons nog lank nie klaar nie, want jou gees lê nog diep onder die vel van jou liggaam verborge, terwyl die gees van Ribar al ver buite sy vel deurgedring het, waardeur met hom maklik gepraat kan word. Jy sou net so goed kon vra waarom God op aarde soveel klippe geskape het en waarom nie maar net sagte, vrugbare grond nie, waarom soveel water op die wye vlakte waarop mens geen landerye en wingerde kan aanlê nie, waarom soveel doringstruike en soveel soorte distels waaraan werklik geen druiwe en geen vye kan groei nie. Maar ek sê vir jou dat dit alles in `n hoë mate nodig is en dat die een nie sonder die ander sal kan bestaan nie. Om jou kortliks en heel oppervlakkig die wyse redes daarvan te laat sien, sou `n periode van talle duisende jare verg, terwyl `n ontwaakte en ryp gees al daardie oneindig baie in enkele oomblikke heeltemal kan verstaan as hy hom daarvoor instel. Maar omdat `n volmaakte gees veel hoër en beter lewenstake te doen het as om na die oorsaak van die klippe, die water, die dorings en distels te soek, laat hy dit graag oor aan die wyse voorsorg van die Heer van die oneindigheid. "

[6] Suetal sê: "In daardie geval is dit ook nie my skuld as ek stadiger van begrip is as iemand soos Ribar nie, wat na my wete, ondanks sy meer oopstaande gees, die hemelse wysheid nog lank nie in pag het nie!"

[7] Rafael sê: "Mense soos jy moet `n skerp verstand hê, sodat hul baie ongevoeliger siel daardeur `n pad na hul gees het, wat ewenwel baie langer en hobbeliger is as die wat die liefdesgeeste moet gaan. Want `n gees van liefde is al as `n geopende lewenselement in en voor hom, wat die ongevoeliger siel eers ‘Per longum et latum’ (Op die lange duur) deur die regte gebruik van haar opmerkingsgawe kan bereik.

[8] Kyk eers watter moeite dit jou nog sal kos voordat jy die liefde sal bereik! Maar Ribar is al heeltemal liefde. Dit hoef maar ietwat gereël en georden te word en dan is hy klaar. Jy moet egter nog met behulp van jou trae verstand tot die liefde kom, om haar daarna te besit. Want slegs diegene wat haar besit, kan haar reël en orden! - Verstaan jy dit?"

[9] Suetal sê: "As dit so is, is God onregverdig en baie partydig!"

[10] Die engel sê: "In `n bepaalde opsig seker, maar natuurlik slegs gesien vanuit die gesigspunt van die kortsigtige menseverstand. Maar as jy `n huis bou, waarom grawe jy dan `n fondament en lê jy daar die grootste, swaarste en hardste klippe in?

[11] Wat het hierdie klippe dan gedoen dat jy hulle eerste in die donker bouput inskuif en bowendien nog die algehele las op hul rug lê? Het jy dan geen medelye met die arme klippe nie? Watter druk moet die gesteentes onder die enorme gewig van `n berg verduur?

[12] Of het jy geen medelye met die wortels van `n boom omdat dit altyd in die duister grond van die aarde moet wees nie, terwyl die takke van die boom so trots in die eteriese lug en in die alles verkwikkende lig pronk?

[13] Kyk, is dit nie louter 'onregverdighede' nie, reeds in die onderste lae van die geskape natuurlewe?! Hoe kon so `n wyse God, as Skepper, teen alle gesonde verstand in, so onbewoë en gevoelloos daaroorheen stap?

[14] Presies so sou jou voete hulle ook diep teenoor jou hande kon bekla en sê: 'Waarom is juis ons, wat net so goed soos julle van vlees en bloed is, veroordeel om julle rond te dra, terwyl julle jul sonder moeite so vrolik in die vrye lug kan beweeg?'

[15] En so sou nog `n aantal ander liggaamsdele hulle skynbaar tereg kon bekla ten opsigte van die hoof, maar wie sou die domheid van sulke klagtes nie onmiddellik insien nie?

[16] Kyk, op soortgelyke wyse het die Heer nou ook die mense van hierdie aarde verskillende gawes gegee, `n aantal groot en `n aantal minder groot. Maar vir niemand is die poort van die groot tempel van die voleinding geslote nie, inteendeel, aan elkeen is die weg gegee, en niemand kan hom daarom bekla en sê: 'Heer, waarom gee U dan ook nie aan my die talente waaroor my broer hom tereg so buitengewoon verheug nie?!' Want dan sou die Heer aan hom sê: 'As jy aan iets tekortskiet, gaan dan na jou broer toe en hy sal jou uit die nood help! As Ek dieselfde aan alle mense sou gegee het, dan sou daar niemand ten opsigte van die ander iets gemis het nie, niemand sou ooit sy broer nodig gehad het nie! Hoe sou die alles tot lewe bringende naasteliefde dan in die mens gewek en versterk kon word?'

[17] Wat sou die mens egter sonder die naasteliefde gewees het, en hoe sou hy dan sonder die naasteliefde die suiwer liefde tot God kon vind, waarsonder aan `n ewige lewe van die siel gladnie te dinke is nie?!

[18] Kyk, sodat die een mens die ander kan dien en vir hom daardeur sy liefde kan verwerf, moet hy tog iets kan presteer wat `n ander nie so maklik kan doen nie omdat dit hom die nodige talente daartoe ontbreek. Daardeur het die een mens die ander nodig, en deur die wedersyds benodigde diens word die liefde vereers gewek en deur die goeie van sulke wedersydse dienste steeds meer versterk.

[19] In die krag van die naasteliefde bevind hom altyd die mees innerlike openbaring van die suiwere, goddelike liefde en daarin die ewige lewe.

[20] As jy nou van jouself kan beweer dat in `n sekere sin niks jou liefde kan opwek nie, nóg `n mooi gestalte nóg `n besonder goeie handelswyse, dan sou ek self gewis eers van jou wou verneem deur watter derde, aan my heeltemal onbekende middel, die mens liefde in sy hart kan opwek en waarmee hy dit kan versterk om tot die krag van die openbaring van die goddelike, suiwer liefde in die hart te kom!?

[21] As hierdie egter nie in woord en daad tot uitdrukking kan kom nie, sien dit daar met die ewige lewe van die siel na die liggaamlike dood tog sekerlik ook nog baie duister en droewig uit!

[22] Kortom, as daar in jou hart nog énige twyfel oor die voortlewe van die siel na die liggaamlike dood bestaan, dan het die lewensopenbaring nog nie plaasgevind nie. Aan wat die mens nie het nie, twyfel hy altyd of hy dit ooit sal kry ook as hy dit sou wou hê. Maar as jy eenmaal die ewige lewe van die siel deur die openbaring van die suiwer, goddelike liefde in jou hart so gevind het soos `n verlore geldstuk, dan sal jy daarna ook geen twyfel meer hê aan die volle besit van dit wat jy in alle waarheid en werklikheid besit nie!

[23] Dit kan egter slegs deur die naasteliefde bereik word, en daarom is Ribar baie nader aan die ware lewensdoel as jy. Want jy het jou brein wel verlig met die natuurlike lig van hierdie wêreld, maar daarvoor laat jy jou hart sonder vuur en lig ronddwaal soos `n wilde dier in die duistere kreupelhout van die moerasbosse van Europa!

[24] Ek raai jou daarom aan om goed rekening te hou met dit wat ek jou nou gesê het, anders sal jy met al jou verstand tot niks kom nie en die goue vrug aan jou lewensboom sal lank voordat dit ryp is, deur die wurms aangetas word. En die wurms heet twyfel, wat hulle uiteindelik deur jou hele brein heen sal vreet. En jou lewensvrug sal tot stinkende aas word wat as smadelike voedsel sal dien vir die roofvoëls! - Het jy my verstaan?!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205