Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 3
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 182

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248.

Die verganklikheid van die verstand

182 Nou kom Ek weer heeltemal wakker regop en sê met `n baie vriendelike gesig aan Philopold: "O, glad nie!

[2] Jou beskouing oor die verskil tussen `n engel en `n ware mens van hierdie aarde is baie korrek. Dit is presies soos wat jy dit verstaan het en ook so voortreflik uiteengesit het. My ligte sluimering was maar net `n gevolg van liggaamlike vermoeidheid, want ons het nou byna twee volle nagte gewerk!

[3] Maar omdat jy nou tog al so `n platoniese wyse is, gee jy dan nou maar die werklike verklaring vir My afdaling in die vlees na hierdie aarde!

[4] Wat My Gees is en ewig was, dit weet jy. Ek het egter ook `n liggaam van vlees en bloed, netsoos die ander mense, dit sien jy en voel jy net so goed soos almal hier aan tafel.

[5] Waarom het Ek `n sterflike omhulsel om? Waarom beklee die diepste grond van al die bestaan en lewe Hom met `n omhulsel van die duidelikste sterflikheid?! Moet dit so wees, of is dit maar net een of ander gril van die ewige, goddelike Gees, wat in My is, bly en werk? - As jy dit tot volle tevredenheid vir My kan uitlê, sal jy reeds in die lewe `n wysheidsprys uit die hemele te beurt val!"

[6] Philopold sê: "Heer, eerlik gesê, vermoed ek dit, en in my lewensnag sien ek die skemering soos baie vroeg in die oggend. Duidelik skenk U barmhartigheid dit vir my, o Heer! Ja, ek voel die eindelose grootsheid van wat aanskoulik gemaak moet word, maar woorde ontbreek my daarvoor!

[7] Eone aardse wysheidsvolsinne is nie in staat om dit te omskryf nie. Jy sou `n heilige, geestelike taal moet hê, wat almal sou moes verstaan, anders sou `n mens vir dowemansore spreek.

[8] Maar hoe sou jy ten eerste aan so `n taal kan kom en hoe sou jy ten tweede die mense se goeie begrip daarvoor kon bybring?! Kyk, o Heer, dit is na my mening baie belangrike voorwaardes, waarsonder `n uitleg op so `n hoë wysheidsvlak volkome onmoontlik sal wees!

[9] Desondanks voel ek baie lewendig die groot en heilige, wonderbaarlike waarheid in my. Daarnaas voel ek egter ook die totale onmoontlikheid om met ons armsalige woorde, hierdie grootste en mees heilige van alle waarhede ten behoewe van `n goeie begrip behoorlik te omskryf. Sou U, o Heer, hierdie rede goedgunstig wou aanvaar en my daarom ontslaan van so `n buitengewoon moeilike en diepsinnige, wysgerige beskouing!"

[10] Ek sê: "Ag, dit is niks nie. Daar is haas nie soveel daarvoor nodig soos wat jy dink nie! In die verstand, waar die siel gewoonlik haar wysheid opdoen, sal jy wel moeilik die geskikte woorde hiervoor vind, maar in jou hart, wat die draer van die gees uit die Hart van God is, sal dit beter wees.

[11] Soek daar en jy sal vind dat ook die grootste wysheid met die eenvoudigste en mees beskeie woorde van die wêreld baie beter en vir elkeen meer verstaanbaar uiteengesit kan word as met die verhewe woorde van Salomo se wysheid! Waarvoor maak die Hooglied sin, as jy na die duisendste keer wat jy dit gelees het, net so min daarvan verstaan as met die eerste keer?!

[12] Maar Salomo móes so skryf, omdat dit toe nog nie die tyd daarvoor was om die onbekwame mense, wat in hul harte nog totaal geen gees gehad het nie, die diepste geheime van die hemel heeltemal te onthul nie. In stede daarvan moes hy slegs baie bedekte sinspelings maak, om die siele attent te maak op dit wat moes kom. Maar daar was geen sprake van begrip nie.

[13] Want Salomo het van sy Hooglied net so min soos jy verstaan. As hy begrip sou gehad het, sou hy nie gesondig het nie en geen volleerde afgodedienaar en duisendvoudige egbreker geword het nie.

[14] Maar dit wat hy deur die Gees van God, wat op sekere oomblikke sy siel verhelder het, geskryf het, is tog suiwer God se Woord, - maar nie gegee om verstaan te word deur die verstand nie, maar in die hart deur die goddelike Gees wat daartoe in staat was. Dit was egter eers in hierdie tyd, sedert My koms, by wyse van uitsondering in die harte van `n beperkte aantal mense gelê, dat hulle My moes herken, verstaan en verstaan terwille van hulleself, en ook van vele ander mense wat nog geesloos was.

[15] In jou hart het die genoemde gees ook al as `n embrio in die moederskoot gelê. Jy hoef dus maar net `n bietjie in jou hart rond te kyk, dan sal jy die goddelike gees alreeds in jou vind, en dit sal jou dan wel woorde leen waarmee jy maklik hier aan hierdie tafel sal kan verklaar wat Ek vir jou gevra het."

[16] Philopold sê: "Heer! Dit kan alles wel korrek wees, en dit kan ook wel so wees dat ek die sleutel daarvoor in my hart sal vind, maar vir U, o Heer, sou dit tog baie min moeite wees om vir ons die groot geheim te onthul, en ons sal beslis baie aandagtig daarna luister. Vir my sal dit egter `n ontsettende swaar vrag wees en uiteindelik kan ek dalk nog welverdiend uitgelag word!"

[17] Ek sê: "O, glad nie. Ten eerste hou My orde in dat as iets vir julle `n lewensdoel moet hê, dit juis ook deur julle mense ten opsigte van My vry moet ontwikkel, en aanskoulik gemaak moet word, en ten tweede is die saak seker nie so moeilik soos wat jy dit vir jou met jou verstand voorstel nie.

[18] Ek sou vir jou en die ander beter kan vertel en julle sou My desnoods ook verstaan, maar julle siel sou dit dan, netsoos al die ander dinge, vernaamlik in jou harsingspaleis opslaan, waar dit dan vir die gees in julle bykans geen nut sou hê nie. Want wat die siel in haar harsingspaleis bewaar, sterf en vergaan mettertyd tesame met die harsings. Watter nut kan die gees dan ontleen aan dit wat vergaan is en nie meer bestaan nie?!

[19] As jy egter jou hart gebruik om dit te ontwikkel, bly dit ook vir ewig in dit wat self ewig is, naamlik in jou gees, en deur hom ook eweneens vir ewig in jou siel. Wat die verstand egter in hom opneem, vergaan, en van alle wêreldse kennis bly daar niks in die siel oor as sy eenmaal die liggaam verlaat het nie.

[20] Daarom moet julle almal van nou af aan alles in die hart opneem, en alles ook in die hart ontwikkel en uitwerk, want wat die verstand produseer is net geskik vir die verganklike lewe van hierdie wêreld, en vir die sterflike liggaam.

[21] Siel en gees het dit alles nie nodig nie. Hulle het geen aardse bekleding, geen woonplek, geen akker en geen wingerd nie. Alle sorg, voortvloeiend uit die kennis van die verstand, is gerig op die voldoen aan die liggaamlike behoeftes, wat by die mense, jammerlik genoeg, so `n hoë graad bereik het dat hulle (siel en gees) deur die grootste deel van die mensdom nooit getel en nog minder bereik kan word.

[22] Die aardse harsingverstand kan daarom onmoontlik ooit iets suiwer geestelik opneem en verstaan, omdat dit maar net vir die mens gegee is vir die noodsaaklike versorging van sy liggaam. Slegs die goddelike gees in die hart kan dit doen. Hy moet daarom al vanaf die begin geoefen word. As hy net eenmaal `n vastigheid bereik het, is die regte lewensorde al so goed as heeltemal daarmee ingestel. Probeer jy dus nou maar om dit wat Ek van jou verlang te ontwikkel en dan sal jou gees daar baie voordeel daarvan hê!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205