Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 94

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Oor die doodstraf

94 Toe sê Agricola: “Majesteit en Heer! U buitengewoon ware, heilige woorde het ek nou diep in my hart gegriffel, en self sal ek soveel moontlik daarvolgens handel; maar tog vra ek U of mens die doodsstraf wel in alle gevalle moet ophef.”

[2] Ek sê: “O vriend, ek weet wel wat jy nou aan My wil sê! Kyk jy het van één van My leerlinge gehoor dat ook Ekself `n jaar gelede in die omgewing van Caesarea Philippi aan die meer van Galilea `n soort standreg (summiere vonnis) toegepas het op `n aantal oerslegte geregsdienaars wat na My gespeur het, en daarom het jy My die vraag gestel!

[3] Ja, Ek sê vir jou: As jy netsoos Ek aan `n misdadiger kan sien dat hy as mens in die liggaam reeds `n volmaakte duiwel is, netsoos Moses dit ook deur My gees kon sien, spreek dan maar dadelik die doodstraf oor hom uit; maar as jy dit nie netsoos Ek en Moses kan sien nie, dan moet jy nie te vinnig wees met die doodstraf nie!

[4] Wel kom aan My van ewigheid die reg toe om die hele menslike geslag wat die liggaam betref, te dood, en Ek is sodoende altyd skerpregter van alle stoflike skepsele in die hele ewige oneindigheid; maar wat Ek na die materie dood, maak Ek geestelik weer vir ewig lewend.

[5] Sodra jy dit ook kan, kan jy wie jy wil en kan, op die regte oomblik dood; maar omdat jy dit nie kan nie, moet jy ook nie dood nie, behalwe in uiterste noodsaak, byvoorbeeld in `n verdedigingsoorlog of in `n deur God beveelde strafoorlog teen onverbeterlike, slegte volkere, of ook in geval van noodweer teen `n boosaardige moordenaar of struikrower. In alle ander gevalle mag jy nie dood of laat dood solank jy nie My volle lig in jouself het nie! - Het jy dit goed begryp?”

[6] Agricola sê: “Ek dank U, Majesteit en Heer! Dit is vir my nou ook weer heeltemal duidelik, en ek sal my as regter so goed moontlik daaraan hou, hoewel ek die keiser self niks kan voorskryf nie, maar af en toe sal hy wel goeie raad onder vier oë aanneem.”

[7] Ek sê: “Dit kan jy wel doen, hoewel jy nie veel daarmee sal bereik nie. In Rome het julle weliswaar `n aantal uitstekende wette, maar daarnaas `n groot aantal slegte, verkeerde gebruike, waarnaas iets wat goed en waar is, bykans nooit volledig wortel kan skiet nie.

[8] Ek sê vir jou: Rome is en bly Babel, `n wêreldhoer, ondanks alle besoekings wat oor haar sal kom, hoewel daar in haar ook baie ywerige volgelinge van My leer sal wees.

[9] Julle het weliswaar op roof, moord en doodslag en nog op sommige ander misdade die doodstraf gestel; maar by julle groot feesdae moes ter vergroting van julle genotsug bepaalde gladiators om lewe en dood stry, en die oorwinnaar word dan geëer. Kyk, dit is sleg en strek geen volk tot seën nie! Ook hou julle allerlei gevegte met wilde diere, waarby mense baie gereeld hulle lewe op gruwelike wyse moet verloor, en tog vind julle dit baie vermaaklik! En kyk, ook dit is `n groot boosheid! Daarop rus bykans nooit `n seën van bo nie; en as dit ontbreek, het geen staat en geen volk `n vaste en duursame bestaan nie, dit kan jy beslis van My aanneem.

[10] As jy egter iets daaraan kan en wil doen, dra dan daartoe by dat dergelike dinge, wat vir julle stad en julle groot ryk baie skadelik is, verhinder word, en dat, in elk geval, julle wat nou siende geword het, nie daaraan deelneem nie, en nog minder hierdie jeug, wat jy saam na Rome sal neem, dan sal jy jou altyd en oral in My seën kan verheug.

[11] Ek het julle almal slegs die twee gebooie van die liefde gegee, wat julle getrou in ag moet neem; maar om hierdie gebooie te hou, mag mens geen behae skep in die wilde gevegte nie.

[12] Want in die hart van iemand wat onverskillig kan toekyk wanneer `n mens of ook `n dier ellendig omkom, is weinig liefde te vind. Waar ware en lewende liefde aanwesig is, is ook egte medelye en ware ontferming. Hoe kan iemand wat hom verlustig in die pynlike sterfte van sy medemens, naasteliefde hê? Weg daarom met alles wat onwaardig is vir die hart van `n goeie mens!

[13] As jy jou naaste sien huil, moet jy nie lag nie; want as jy lag, gee jy hom te verstane dat sy pyn jou totaal onverskillig laat en ook jou lydende medemens, wat tog jou broer is.

[14] As jou broer egter vrolik is en hom verheug oor sy geluk, gun hom dan die kort vreugde oor sy geringe aardse geluk! Vererg jou nie, maar wees bly saam met hom, dan word jou hart nie slegter daardeur nie, maar slegs edeler!

[15] As jy `n hongerige mens sien, terwyl jy meer as genoeg het, dink dan nie dat die hongerige hom wel netso behaaglik voel as jy met jou vol buik nie, maar dink daarby dat hy baie honger is en gee hom te ete, dan sal jy daarna `n groot tevredenheid in jou hart voel, wat vir jou nog veel behaagliker sal voorkom as jou vol buik; want `n vol hart maak die mens baie gelukkiger as `n vol buik.

[16] As jy `n sak vol goud en silwer by jou dra, terwyl jy tuis nog veel meer besit, en jy kom `n arm man teë wat jou groet en met jou wil praat, kyk dan nie in die ander rigting nie en laat hom nie op die een of ander wyse voel dat jy ryk is en hy arm nie, maar wees vriendelik met hom en help hom met baie vreugde uit die nood! As jy dit sal doen, sal jou hart vervul wees van blydskap, dan sal die arme vir altyd `n vriend van jou bly en nooit jou ware vriendelikheid vergeet nie.

[17] Ware naasteliefde is derhalwe dat `n mens vir sy naaste dit doen waarvan mens redelikerwys kan wens dat `n ander dit ook vir hom sal doen.

[18] As `n arm kindjie vir iets vra, wys hom dan nie af, maar seën hom en verkwik sy hart, dan sal ook jy eens in die hemel deur My engele verkwik word! Want dan sê jy saam met My: Laat die kleintjies almal na my toe kom en verhinder hulle nie; want die hemelryk is immers vir hulle! Waarlik, dit sê Ek aan julle almal: As julle nie in julle hart sal word soos kinders nie, dan sal julle nie in My ryk kom nie! Want Ek sê vir julle, dat die hemelryk vóór alles juis vir hulle is.

[19] Ek weet egter dat die slegte gebruik by julle bestaan om baie arm kinders gereeld in die geheim vreeslik te martel, sodat as gevolg van daardie marteling `n kwaadaardige, giftige speeksel uit hulle mond begin stroom, waaruit die verdorwe priesters en towenaars van julle `n gevaarlike gif berei. En vriend, dit gebeur in Rome nog tot op datum! Waar sulke gruwels nog heeltemal koelbloedig begaan kan word, daar is die volledige hel nog baie aktief, en van My barmhartigheid is daar weinig te bespeur. Wyse en regverdige regters sou daarom reeds lank aan so `n ten hemel skreiende boosheid met groot vasberadenheid moes opgetree het; maar in die opsig het daar nog maar weinig of niks gebeur nie.

[20] Ek sê vir julle: Ek sal diegene wat so `n misdaad teen diere sou begaan, met toornige oë aansien; want ook diere is My skepsele en het lewe en gevoel, en `n verstandige mens moet nie sy kwade wil op hulle laat botvier nie. Maar hoe eindeloos veel hoër staan selfs die armste kind as alle diere van die aarde! Wie hom dus so aan `n kind vergryp, is `n duiwel en is vervloek!

[21] Ek sou jou nog baie sulke slegte Romeinse gewoontes kan noem, wat nie vir julle onbekend is nie en wat by julle teen betaling van `n bepaalde skatting heimlik geduld word; maar dit is julle taak om sulke, meer as goddelose misbruike, af te skaf. As julle dit ernstig wil, sal dit julle nooit as te nimmer aan hulp van My ontbreek nie. Maar eers moet jy dit self baie ernstig wil; want My wil loop op hierdie aarde, netsoos Ek julle al voldoende uitgelê het, nooit vooruit op die van `n mens nie, behalwe by `n oordeel, waaraan egter altyd vele waarskuwings vooraf gaan. Dit sal by julle wel baie stryd verg; maar `n goeie saak is ook altyd `n ernstige stryd werd. - Het julle My heeltemal begryp?”

[22] Agricola sê: “Ja, Majesteit en Heer, ek dit het goed begryp, en helaas is dit meestal so, soos wat U, o Heer, dit so pas beskryf het; maar ons beter Romeine het dit al baie lank in `n hoë mate afgekeur en het die priesters in bedekte terme verbied, en veral die geheime en bose bereiding van gif. Maar desondanks kom daar nog steeds dergelike gevalle voor, en mens kan maar weinig teen ons priesters onderneem, omdat hulle die gewone volk op hulle hand het en, wanneer hulle dit wil, die volk maklik teen die keiser en ook teen Ons kan oprui.

[23] Ja, ons stier- en dieregevegte is makliker af te skaf, en die gladiator gevegte, wat by die ou Romeine nog baie in swang is, neem by ons al baie sterk af, omdat niemand hom meer so maklik vir die gevegte wil beskikbaar stel nie. Wel vind so-iets nog gereeld by groot feesmaaltye plaas, maar meer pro forma as op die ou gruwelike manier. Slegs die stiergevegte bestaan nog en is `n gunsteling skouspel van die Romeine; maar ons sal alles doen om voortydig daarvoor te sorg dat hulle ten minste minder gereeld plaasvind en in plaas daarvan moet ander sake kom wat die sedes verbeter.

[24] Dat sulke ou misstande en misbruike nie ineens as `n gordiaanse knoop met één slag deurgehak kan word nie, en dat vir die skoonmaak van `n ware Augiasstal die krag van `n Hercules nodig is, is wel seker. Hoewel ons Romeine nou egter ook geen Herculesse en Alexanders meer is nie, sal ons mettertyd tog nog iets goed tot stand bring. Aan erns en vasberadenheid sal dit nie ontbreek nie.”

[25] Hierdie belofte gee die ander Romeine ook en Ek sê: “Dit is goed, en waar julle werklik in My Naam byeen sal kom, sal Ek in die gees by julle wees en julle al die goeie en ware help uitvoer! Maar wat Ek julle sê, is en bly ewig waar; want waarlik, waarlik, Ek sê vir julle: Hemel en aarde sal vergaan, maar My woorde en hulle vervulling nooit in der ewigheid nie! Handel daarom almal altyd in My Naam, dan sal Ek julle altyd help en julle die ewige lewe gee!”

[26] Nadat Ek dit gesê het, bedank almal My vir hierdie troosvolle belofte, hef toe hulle vol bekers op en drink op die toekomstige heil van alle mense en hulle kinders.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205