Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 182

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

`n Merkwaardige sonsopgang

182 Die volgende oggend op die Sabbat, ongeveer `n kwartier voor die son opkom, staan Ek op uit My stoel en gaan dadelik na buite. Petrus, Jakobus en Johannes merk dit onmiddellik en kom ook na buite nog voordat die son opgekom het.

[2] Ons begewe Ons na die top van die heuwel, maar was nie lank alleen nie, want die sewe Opper-Egiptenare kom Ons baie gou agterna en die eerste Opper-Egiptenaar sê: “Heer, vergeef ons dat ons U onmiddellik gevolg het; op hierdie aarde sal ons U wel nooit meer in lewende lywe kan volg nie en hierdie aarde sal ook nooit meer die eindeloos seldsame geluk ten deel val, dat haar Skepper haar ooit nog met Sy liggaamlike voete sal betree nie! Maar ons het die onbeskryflike geluk om oog- en oorgetuies te wees van die wonder, wat die grootste van U eindelose ewige wonderdade is. En daarom sou dit wel `n growwe sonde wees, om U ook maar `n enkele oomblik uit die oog te verloor en nie elke woord uit U mond te verneem nie.”

[3] Ek sê: “Wie My volg gaan nooit die verkeerde weg nie, en heil aan elkeen wat dink netsoos julle. Maar, netsoos julle maklik kan sien, is daar nog vele wat nou nog baie diep slaap, ofskoon die son op die punt staan om op te kom. Maar Ons laat hulle laat rus, - hulle sal ook nog wel op `n regte uur van die dag wakker word! Maar vele sal eers ontwaak op hulle lewensaand en die ontwaak in die nag van hulle lewe sal hulle weinige troos gee.

[4] Diegene wat nog sal ontwaak in `n heldere sterrenag is nog altyd goed daaraan toe! Maar nie so goed sal dit gaan met diegene wat sal ontwaak tydens `n in digte wolke gehulde aand nie; want hulle sal `n lang, duistere en baie troostelose nag wakend moet deurbring. Ook al sal hulle wil slaap tydens die duister nag, daar sal geen slaap oor hulle kom nie. Dit sal `n slegte tyd wees op hierdie aarde! Maar wie ook tydens die mees duistere nag tot aan die einde van sy aardse dae bly waak, sal salig word!”

[5] Hier vra Petrus My: “Heer, dan sal dit daar sleg uitsien vir diegene wat graag lank wil slaap terwyl die dag al begin het, of wat netsoos sommige, deur hulle slaapsug, selfs die hele dag slaap! Kan sulke mense dan nie nog op tyd gehelp word nie?”

[6] Ek sê aan hom: “Maar Simon Juda, hoe lank sal Ek jou in jou domheid nog moet verdra?! Spreek Ek dan oor die natuurlike slaap van die liggaam? Kyk eens na hierdie sewe heidene! Hoe gereeld sal hulle jou, aartsJudeër, nog beskaam? Hulle het My baie goed begryp, - waarom jy dan nie, terwyl jy tog al so lank by My is?”

[7] Petrus sê: “Heer, wees tog geduldig met my nog groot onbegrip in soveel dinge!”

[8] Ek sê: “Dit het Ek wel, maar tog sal jy Petrus bly; maar My gees - en nooit jou vlees - sal jou tot `n hoër insig bring wanneer Ek opgevaar het!

[9] Maar kyk nou almal goed na hierdie sonsopkoms, wat vandag baie besonder sal wees vir dié gebied op aarde! Laat elkeen hom afvra of hy hom ook in geestelike sin begryp het! Want alles wat daar op hierdie natuurlike wêreld gebeur, kan nie anders gebeur as wanneer dit uit God se hemel na binne stroom nie. En wat daar deur die hemel van alle engele die natuurlike wêrelde binnestroom, gaan oorspronklik van My uit. Let daarom nou goed op; want ook die natuur moet in julle teenwoordigheid van My getuig!”

[10] Toe Ek hierdie woorde gespreek het, rys die son bo die horison en toe hy ongeveer `n halwe graad bo die horison staan, kom daar `n tweede son op bo die horison, maar één graad noordeliker, volkome gelykend op die eerste en ware son. Dit was naamlik `n geheel ontwikkelde newelson, - wat egter tot die selde voorkomende verskynsels behoort.

[11] Die Opper-Egiptenare wis dadelik wat daar aan die gang was en die eerste Opper-Egiptenaar sê: “Heer, dergelike verskynsels kom by ons selde so helder voor! Self het ek daar slegs eenmaal een gesien na die reëntyd en dit is veertig jaar gelede. Vanuit my innerlike sienswyse sou ek ook die geestelike betekenis van die verskynsel kan uitlê.”

[12] Ek sê: “Dit weet Ek goed; want julle bevind julle nog volledig in die ou gemeente van Noag, waarin die mense nog tot in Abraham se tyd vas in verbinding gestaan het met die engele - met uitsondering van die nakomelinge van Nimrod, wat hom in die eerste plek met die wêreld besig gehou het en daardeur geval het; - daarom het julle ook `n egte openbaring in julle en begryp julle die innerlike betekenis van die verskynsel. Maar met My leerlinge is dit nog nie die geval nie! Hulle is vol geloof en goeie wil, maar die volle lig sal hulle eers kan kry sodra al sewe geeste uit God in die volle orde in hulle aanwesig is.

[13] Daarom moet Ek hulle ook tot heil van alle volkere as `n leraar van buite af leiding gee, sodat hulle hulle handelings geheel uit eie wil volgens My ewige orde kan verrig; en daarom wil Ek hier dan ook slegs van hulle hoor wat hulle oor dié verskynsel te vertel het. En daarom, Simon Juda, kan jy nou spreek!”

[14] Petrus sê: “O Heer, as ek dit nou vanuit myself moet verklaar, sal dit waarlik nie vir my goed afgaan nie! Ek sien nou twee volmaakte sonne en weet nie eens welke die egte is nie! En daar benede op straat staan ook `n hele boel mense na die verskynsel te kyk; hulle weet ook nog minder as ek. Ek, wat nou tog reeds as `n wyse beskou kan word, begryp niks daarvan nie, - hoe moet die verskynsel dan nie oorkom vir die mense daar benede nie?!”

[15] Daarmee wil Petrus My vraag ontwyk; maar Ek sê: “Die mense daar benede gaan Ons nou niks aan nie! Ek het hier nou alleen met jou te make en sien dat jy die verskynsel nie begryp nie. Daarom moet Ek dit aan My Jakobus vra!”

[16] Ook Jakobus sê: “My Majesteit en Heer! Ek bring dit daar ook geen haar beter vanaf as my broer Simon Juda nie! Ek weet ook nie welke van die twee sonne eintlik die egte is nie; want die een is netso groot soos die ander en hulle gee beide ewe veel lig. Ook die voëls in die lug blyk dit merkwaardig te vind, want hulle swyg en laat geen enkele geluid hoor nie en dit lyk asof hulle daarmee wil sê: “Welke is die egte? Want `n onegte wil ons nie met ons gesang begroet nie!"

[17] Ek sê: “Wat jy sê was goed, ofskoon jy dit self nie begryp het nie. Maar as julle al hierdie verskynsels nie begryp nie, - wat sal julle dan wel sê as daar gunter, verder suidwaarts, nog `n derde son te voorskyn sal kom? Kyk maar, in aanleg is sy al in die vorm van damp in die lug aanwesig en so dadelik sal daar ook `n derde son, wat presies dieselfde lyk as hierdie twee sonne, per verrassing te voorskyn kom! - Kyk, sy straal reeds!”

[18] Daar was nou ook nog `n derde volkome ontwikkelde son te sien. Die mense in die strate begin bang te word en vele slaan op die vlug en loop die naaste huise binne. Diegene wat nie so baie bang was nie, staan egter na die seldsame natuurverskynsel en kyk. Die voëls in die lug word baie onrustig en mens sien ook al spoedig `n hele boel adelaars en groot roofvoëls rondswewe. Hulle agtervolg mekaar. En toe die duiwe en ander klein voëls die vele magtige vyande bo hulle ontdek, slaan ook hulle op die vlug en verberg hulle so goed hulle kon.

[19] Hier merk die Opper-Egiptenaar op: “Dit is werklik merkwaardig! Toe ek veertig jaar gelede dieselfde verskynsel in my woonplek aanskou het - maar dan met slegs één newelson - was daar ook dadelik `n groot aantal van dergelike roofvoëls in die lug te sien wat met mekaar geveg het, wat andersins uiters selde die geval is. Vandag sal ook die leeus en luiperds weer oorlog met mekaar voer. Maar wat die verskyning van die derde son beteken, begryp ekself ook nie heeltemal nie, ofskoon ek tog wel `n sekere vermoede in myself bespeur.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205