|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 49
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die verskyning van die ou en die nuwe Jerusalem
49 Toe almal nou hulle oë omhoog rig, word die hemel gloeiend en bloedrooi gekleur, en mens sien die stad Jerusalem teen die gloeiende agtergrond, deur Romeinse soldate beleër, en uit die poorte van die stad stroom bloed. Spoedig daarna staan die stad in ligte laaie en waar mens ookal kyk, oral sien mens dik rookwolke. Kort daarna sien mens geen stad meer nie, maar slegs nog `n rokende puinhoop. Ten slotte verdwyn dit ook, waarna `n mens `n onvrugbare woesteny sien, waarop wilde hordes hulle woonplekke bou. Daarna verdwyn die visioen en hoor mens uit die stad `n enorme angsgeskreeu; Nikodemus dink toe dat daar nou `n kennelike oproer in die stad uitgebreek het.
[2] Maar Ek stel hom gerus en sê: “Sover nog nie; maar vanaf nou oor veertig of vyftig jaar sal dit wel in hierdie land gebeur en sal hierdie stad volledig vernietig word, sodat sy die tyd van haar baie barmhartige beproewing nie sal wil sien nie. Maar wag nou nog op die laaste! Eers daarna sal Ons na binne gaan en met mekaar daaroor spreek. Let nou nog verder op wat julle sal sien!”
[3] Na hierdie aanwysing van My kyk almal weer na die uitspansel, en die ligpilaar daal nogmaals uit die hoogte neer op aarde, maar nie meer op die plek waar hy vroeër uit twaalf heilige pilare ontstaan het nie, maar heeltemal aan die ander kant in die weste, en versprei nog veel meer lig as voorheen. Spoedig daarna verdeel hy homself, nou nie meer in twaalf pilare nie, maar in talloos baie dele, waaruit daar `n baie groot stad vorm, met mure wat uit die twaalf vernaamste edelgesteentes bestaan, wat na alle kante toe `n baie veelsoortige lig uitstraal. En daar word twaalf poorte sigbaar, waardeur talloos baie mense uit alle dele van die aarde geluksalig in en uit loop.
[4] Bo die stad, hoog in die lug staan, soos in robyn en smarag letters, `n oud Hebreeuse teks, waarvan die woorde as volg lui: “Dit is die nuwe stad van God, die nuwe Jerusalem, wat eens uit die hemel sal neerdaal na die mense wat rein van hart en van goeie wil sal wees; daarin sal hulle vir ewig met God woon en Sy Naam loof en prys.” Hierdie teks, netsoos die hele verskynsel was egter maar net sigbaar vir diegene wat met My op die berg was, en verder vir niemand in die hele land nie.
[5] Nadat alle aanwesiges in jubelende gejuig uitgebars het en My hardop wou aanbid, verdwyn die verskynsel; en Ek sê vir almal dat hulle vir God in die stilte van hulle harte moes aanbid en nie met luide, lawaaierige woorde soos die fariseërs, wat vir God geen waarde het nie. Toe staak hulle dit en hou in die stilte van hulle harte hulle beskouings.
[6] Na `n klein rukkie sê Ek: “Dit het nou middernag geword, laat Ons binnenshuis gaan om brood en wyn daar te nuttig. Daarna sal Ek kortliks vir julle die verskynsels uitlê wat naamlik plaasgevind het.”
[7] Na My woorde gaan elkeen die huis binne, waar die groot eetsaal nog baie goed verlig was.
[8] Toe Ons gou weer in goeie orde in die saal aan Ons tafels sit en Lasarus en Nikodemus langs My plaasneem, word daar aan alle tafels oorvloedig wyn en brood gebring en Ek raai almal aan om `n klein versterking vir hulle te neem. Almal neem nou brood en wyn en eet en drink gemoedelik.
[9] Nadat Ons Onsself versterk het, bekyk ons Nikodemus die verskillende gaste aan die tafels `n bietjie beter, sien die sewe tempeldienaars, wat met die slawehandelaars aan `n kleiner tafel sit en sê ietwat verleë aan My: “Heer, daar sien ek tempelpriesters, wat ek maar al te goed ken! Hoe kom hulle hier? Sal hulle ons nie verraai nie? Kan mens hulle wel vertrou?”
[10] Ek sê: “Vriend, diegene wat eenmaal by My is, het met die tempel daar benede niks meer te doen nie! Hulle was deur die tempel vermom hierheen gestuur om My en My doen en late na te gaan, maar hulle het die waarheid herken en het die tempel vir altyd verlaat. Oor `n paar dae sal hulle, saam met nog `n aantal ander, met die hoë Romeine daar, na Rome reis en daar onderdak vind, jy hoef dus van niemand te vrees dat hy jou miskien sou verraai omdat jy hier is nie; daarom kan jy nou wel volkome gerus wees.”
[11] Nikodemus bedank My vir hierdie uitleg, gryp nog `n stuk brood, eet dit onbesorg op en neem daarna die beker met wyn en drink dit heeltemal leeg.
[12] Nadat Nikodemus homself ook heeltemal versterk het, sê hy aan My: “Majesteit en Heer, omdat alles nou rustig is en U belowe het om ons in kort `n lig te gee oor die verskynsels wat hom vandag op wonderbaarlike wyse voorgedoen het, wil ek U wil vra om nou U belofte te vervul!”
[13] Ek sê: “Dit sal Ek ook doen, maar wanneer Ek daaroor uitgepraat het, moet jy My verder niks meer daaroor vra nie, maar dan moet elkeen vir homself oor die gebeure nadink, dan sal dit vir sy siel nuttiger wees as `n langdurige gevraery! Luister dus!”
|
|
|
|
|