Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 85

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die ware vas en bid

85 Omdat die tollenaars Ons al gou na die oggendmaaltyd verlaat het, was daar nou vanselfsprekend meer ruimte in die saal, en daarom kon `n aantal van die ietwat ouer en ernstiger slaweseuns ook na Ons saal gebring word en hulle middagmaal in Ons groot geselskap nuttig. Dertig van hulle eet in Ons saal en hulle kry die vermoë om Ons taal te verstaan en ook te praat, met die doel om vir hulleself en vir hulle metgeselle te verstaan wat daar tydens die middagmaal tussen Ons bespreek word.

[2] Ons eet en drink nou baie opgewek, en toe die wyn die tonge van die gaste steeds losser maak, begin die bekende Judese Grieke onder mekaar oor die Judese vaswette te praat en een van hulle maak die volgende opmerking: “Vanaf die tyd van Moses, het die Judeërs elke jaar bepaalde dae en ook wel hele weke gehad, waarin hulle moes vas. Die profete moes baie vas, omdat hulle liggaam minder aandag daardeur gekry het en hulle gees oper en helderder geword het. Ook moes die sieners baie en gereeld vas om helder drome en gesigte te kry. Wie `n besondere barmhartigheid van God wou verkry, moes aan God `n gelofte doen, dat hy gedurende `n bepaalde tyd sou vas en bid totdat God hom sou verhoor, en wie die gelofte wat hy aan God gedoen het, hou en gestand doen, kry ook altyd die gevraagde barmhartigheid van God, - wat ons uit die Skrif weet.

[3] Maar nou is daar by ons, onder hierdie nuwe omstandighede, geen sprake meer van vas nie. Dit lyk asof die Majesteit en Heer die ou vasgebod nou heeltemal wil ophef, netsoos die doen van geloftes. Want ons is nou tog al geruime tyd steeds by Hom en om Hom heen en ons het al baie suiwer goddelike leringe van Hom ontvang en veel wonders deur Hom sien verrig; maar oor die ou vasgebod het Hy nog geen enkele spesiale mededeling gedoen nie, en ons en ook Sy eerste leerlinge het nog nêrens gevas en ook nooit spesiaal gebid nie. Dit sou dus tog wel goed wees om uit Sy mond te hoor hoe dit met die ou vasgebod gestel is.”

[4] Na hierdie opmerking rig één van hulle hom tot My en vra hoe dit met die ou vasgebod staan.

[5] Ek kyk hom aan en sê: “By `n vroeëre geleentheid het Ek ook al eens iets daaroor gesê, julle het dit net - soos soveel ander dinge - weer vergeet, en dus sê Ek vir julle nou nog `n keer; Ek hef die ou vasgebod nie op nie. Wie in die regte gesindheid vas, doen op sigself weliswaar `n goeie werk - want deur opreg te vas en tot God te bid word die siel vryer en geesteliker; - maar salig word niemand deur die suiwer vas en bid nie, maar slegs deur in My te glo en die wil van die Vader in die hemel te doen, netsoos Ek dit aan julle verkondig en verkondig het. Maar dit kan elkeen ook doen sonder die genoemde vas en sonder om hom te weerhou van sekere spyse en drank.

[6] Diegene wat baie besit en die ware naasteliefde beoefen, vas eg, en daardie vas is God welgevallig en is nuttig vir die ewige lewe van die mens. Wie baie het, laat hy ook baie gee, en wie weinig het, laat hy ook die weinige deel met sy naaste wat nog armer is as hy, dan sal hy daardeur vir homself skatte in die hemel versamel! Gee op sigself is al beter as neem.

[7] Wie egter waaragtig voor God wil vas sodat dit dienstig sal wees vir die ewige lewe van sy siel, moet die sonde uit liefde tot God en sy naaste nalaat; want die sonde belas die siel, sodat sy haar moeilik tot God kan verhef.

[8] Wie netsoos die fariseërs en ander ryk mense swelg- en braspartye hou en doof is vir die stem van die armes, sondig teen die gebod van die vas, en dit doen ook elke hoereerder en egbreker.

[9] As die weelderige vorm van `n jong meisie of selfs van die vrou van `n ander jou aantrek en jou in verleiding bring, wend dan jou oë af en onthou jou van die luste van die liggaam, dan het jy daardeur werklik gevas!

[10] As iemand jou beledig en kwaad gemaak het, vergeef hom dan; gaan na hom toe en kom met hom tot ooreenstemming, dan het jy daardeur geldig gevas.

[11] As jy aan diegene wat jou kwaad gedoen het, goed doen, en diegene wat jou vervloek seën, dan vas jy waaragtig.

[12] Wat by die mond ingaan om die liggaam te voed en te sterk, verontreinig die mens nie; maar dit wat gereeld by die mond uitgaan, netsoos laster, kwaadsprekery, vuil praatjies, agterbaksheid, vloek, valse getuienis en allerlei leuens en godslastering, verontreinig die mens en wie dit doen, breek werklik die ware vas.

[13] Want waaragtige vas beteken om jouself in alles te verloën, die las wat aan jou toegewys is, geduldig op jou skouers te neem en My na te volg; want Ekself is van ganser harte sagmoedig en geduldig.

[14] Maar of iemand nou die een eet om hom te versadig of die ander, is nie belangrik nie; wel moet elkeen daaraan toesien dat die spyse rein en ook goed eetbaar is. Veral met die eet van vleis moet julle versigtig wees, as jy liggaamlik lank en aanhoudend gesond wil bly. Die vleis van gewurgde diere is vir geen enkele mens gesond nie, omdat dit kwade geeste in die senuwees van die liggaam verwek. Die vleis van die diere wat as onrein aangegee is, kan maar net dan in gesondheid gebruik word, wanneer dit so voorberei is soos wat Ek al vir julle aangegee het.

[15] Wanneer julle in My Naam uittrek in die wêreld en te midde van allerlei vreemde volke sal lewe, eet dan wat mense julle sal voorsit! Maar eet en drink nooit oormatig nie, dan sal jy op die korrekte wyse vas; al die ander is egter bygeloof en `n groot domheid van die mense, waarvan hulle verlos moet word, as hulle dit self wil.

[16] Wat die bid nou betref, - op die wyse waarop die Judeërs dit doen, dit het nie net heeltemal geen waarde vir God nie, maar dit is vir Hom `n gruwel. Watter doel het die lang lippegebede tot God die Alwyse, veral as daar betaal moet word aan bepaalde bevoorregte bidders, wat vir ander bid, omdat net hulle gebede kragtig en doeltreffend sou wees? Ek sê vir julle: As duisend sulke bidders duisend jaar lank hulle gebede vir God sou opdreun, dan sou God dit nog minder verhoor as die gebalk van `n hongerige esel; want so `n gebed is geen gebed nie, maar net `n gekwaak van paddas in `n moeras, omdat dit geen sin en geen betekenis het nie en dit ook nooit kan hê nie.

[17] God is in Homself `n Gees van die hoogste Wysheid en Hy het die allerdiepste en helderste verstand en is die ewige Waarheid self. Wie dus doeltreffend tot God wil bid, moet in Gees en Waarheid bid. In Gees en Waarheid bid egter maar net diegene wat homself in die stille liefdeskamertjie van sy hart begeef en wat God daarin aanbid en aanroep. En God, wat alle harte en niere deursien, sal ook sekerlik in julle harte sien en stellig onderken hoe en om wat julle bid en vra, en Hy sal julle gee waarvoor julle so waaragtig in Gees en in Waarheid gebid het.

[18] Die volkome waaragtige gebed bestaan egter uit die hou van God se gebooie en die handeling volgens Sy wil uit liefde tot Hom. Wie so bid, bid waaragtig en bid sonder ophou. So aanbid ook alle hemelse engele God sonder ophou, omdat hulle altyd die wil van God doen.

[19] God wil nie met psalms en gesange, met harpe, simbale en basuine aanbid, vereer en geprys word nie, maar slegs deur julle aktiewe, volywerige handel volgens Sy woord en Sy wil.

[20] As jy God se werk beskou en Sy liefde en wysheid steeds meer daarin ontdek en herken, daardeur in die liefde tot Hom groei en in jouself wyser en wyser word, dan bid jy ook waaragtig en bring jy God die ware lof; al die ander wat jy tot nog toe onder bid verstaan het, is volkome leeg, nietig en sonder waarde vir God.

[21] Nou weet julle wat waaragtige vas en bid beteken, vra dus nie meer waarom Ek en My leerlinge nie vas en bid op die manier waarop die blinde Judeërs en fariseërs dit doen nie. Ons bid en vas egter onophoudelik in gees en in waarheid, en dit is dus baie dom om My te vra waarom ons die bid en vas op julle ou, waardelose manier nalaat.

[22] My leerlinge sal egter ook nie vas solank Ek as ware bruidegom van hulle siele in hulle midde en by hulle is nie; wanneer Ek egter nie langer netsoos nou, in hulle midde en by hulle sal wees nie, sal hulle ook wel met hulle maag vas, as die liefdeloosheid van die mense hulle weinig of gereeld ook niks te ete sal gee nie. Maar solank hulle nou by My is, sal hulle geen honger of dors ly nie. Het julle dit nou alles goed begryp?”

[23] Almal sê: “O Majesteit en Heer, U sy ewig dank vir so `n wyse leer! Ons het dit alles goed begryp. Geëerd en gewyd sy U Naam!

[24] Ek sê daarop: “Handel dan sodanig, dan sal julle lewe! Eet en drink nou, en verkwik en versterk julle ledemate!”

[25] Daarop proe almal fluks en eet en drink baie gemoedelik.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205