Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 45

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die veranderde verskynsel aan die hemel en die verleentheid van die tempeldienaars

45 Die Romein wat eweneens naby My staan sê: “Hoe is al die mense tog onbegryplik blind! Kyk die dwase wat daar hardloop en dit moet die verligte Judeërs - sê maar - God se volk wees, en ons blinde heidene staan by die oerbron van die Lewe, van die Lig en aan die bron van die ewige oerwaarheid! Dit is werklik baie, baie vreemd! Ons, duidelik die laastes, is - en laat elkeen maar sê wat hy wil - nou klaarblyklik die eerstes en hulle, Abraham se kinders, wentel hulle daar benede soos varke in die smerigste modder! Dit, o Heer, is vir ons heidene `n ewig onbegryplike barmhartigheid, wat ons nooit ook maar in die minste verdien het nie! Nou, ek is tog wel buitengewoon benoud vir die verdere verloop van hierdie hoogs vreemde geskiedenis! Wat uiteindelik nog alles daaruit sal voorkom, sal slegs U, o Heer, die beste weet!”

[2] Ek sê: “Dit sal sekerlik nie sleg afloop nie! Dit word tyd dat hierdie slegte wêreldse kankeraars eindelik eers op `n baie spesiale manier in groot verleentheid gebring word, waardeur hulle weer veel aanhang onder die beter volk sal kwytraak.

[3] Maar nou het hulle daar benede hulle beraad in alleryl laat plaasvind, en daar is besluit dat die tien pilare die tien stamme uit die stam van Israel voorstel, wat nog trou gebly het aan die tempel, en dat die twee stamme waaruit die Samaritane en ook die Galileërs voortgekom het, verwerp is en dat elke Judeër vir `n hele jaar onrein sal wees as hy die twee verworpe stamme ook maar hardop by name sal noem.

[4] Die volk slaan hulle met vuiste op die bors en sweer om hierdie goddelose stamme nooit meer by die naam te noem nie.

[5] Maar let nou op, dadelik sal daar by die tien pilare nog twee pilare oprys, en kyk dan eers hoe oproerig hulle word! Die tyd is om en die genoemde verandering sal nou dadelik plaasvind.”

[6] Almal let nou op en in die ooste verrys terselfdertyd nog twee pilare in skitterende prag; hierdie twee pilare straal slegs tienmaal so sterk as die vroeëre tien saam, en die een staan aan die regter- en die ander aan die linkerkant van die vroeëre tien pilare en hul felle lig word nou tot by Europa en ooswaarts tot vierhonderd myl ver waargeneem.

[7] Nou was die volk ten einde raad en nog hagliker was dit vir die tempeldienaars. Vanaf die torings van die tempel begin die basuine nou ontsettend hard te skal om nog meer raadslede op te roep, hoewel alle priesters wat in Jerusalem gewoon het, reeds by die eerste basuingeroep vir die eerste raadsbyeenkoms gekom het. Daar kom nou weliswaar niemand meer nie, maar tog kom die raad weer byeen. Maar die hele Hoë Raad weet nou nie wat om van die twee uiters ligte pilare, wat laaste opgestyg het, te maak nie, omdat hulle met die verklaring oor die eerste tien, die hou so jammerlik misgeslaan het.

[8] Maar die volk skreeu luid: “Dit is die twee stamme waarvan julle gesê het dat hulle verwerp is! En as dit nie so is nie, lê dit dan vir ons uit, anders eis ons die offers wat ons gebring het terug, of ons bestorm julle!”

[9] Toe slaan angs die tempeldienaars om die hart. Dit duur maar net so `n rukkie of daar kom iemand met `n buitengewone domme uitleg, waaroor die volk in `n gelag uitbars.

[10] En `n fors geboude Judeër roep hardop aan die fariseërs: “As julle ons in ons groot angs, nood en ontsteltenis geen bevredigende oplossing kan gee nie, dan het ons julle ook nie nodig wanneer daar nie sulke tekens aan die hemel verskyn nie, wat elke mensehart uitermate verontrus en beangstig! As julle ons nou geen troos kan gee nie, waarvoor is julle dan daar? Julle kan maar net tiendes en groot offers eis en die dan opmaak en verkwis; en wyse mense, wat julle die waarheid in die gesig sê en die siekes op wonderbaarlike wyse genees, jaag julle met klippe die tempel uit! Maar nou, noudat die oordeel van God ons almal duidelik met die verskriklike lig beskyn, is julle so stom soos klippe en durf julle niks sê nie! O, gaan nou na buite na die twaalf verskriklike pilare, wat dreigend `n lig soos op die dag van die jongste oordeel oor die aarde versprei en wat sekerlik spoedig met `n allerverskriklikste vuurstorm alles wat op aarde leef en groei, sal vernietig, en werp julle vervloekte klippe daarheen en begiet hulle met julle vloekwater, dan sal ons sien of die twaalf allerverskriklikste vuurpilare vir die mag van julle priesterdom sal buig! O, julle ellendige en ook nog hoogmoedige, gruwelike huigelaars en volksbedrieërs! Nou, nou moet julle ons toon dat julle die enige ware vriende en dienare van God is, anders sal ons as volk onsself op julle wreek vir elke onregverdigheid wat ons deur julle moes verduur het!”

[11] Hierop verskyn `n owerste en sê: “Jy, wat vir het volk spreek, wees tog geduldig! Die hoëpriester bid tog al met `n geskeurde opperkleed in die Allerheiligste, en ons sal dit, as dit nodig mag wees, ook nog gaan doen en dan sal dit wel weer beter gaan. Julle moet nie so vinnig moed verloor as JaHWeH ons met een of ander plaag besoek wat ons saam met julle almal goed verdien het nie. In plaas van ons priesters met allerlei hoon en bedreigings te oorlaai, kan julle veel eerder tot God bid dat Hy ons barmhartigheid as reg sal laat geld! Dit sal beter wees as julle huidige gedrag ten opsigte van ons, want in nood kan elke mens baie doeltreffend tot God bid.”

[12] Hierdie woorde kalmeer die volk `n bietjie en hulle begin te bid, en die priesters trek hulle wyslik terug en pleeg oorleg onder mekaar wat die vreemde verskynsel sou wees. Maar hulle kom nie tot `n aanneemlike verklaring nie, en dus groei hulle ook in angs. En so was daar `n merkwaardige kontras tussen diegene wat hulle by My op die berg bevind het en die tempeldienaars met die volk, wat by hulle toevlug gesoek het. Myne was almal vol blye verrukking oor die pragtige aanblik van hierdie ligpilare en in die tempel het die grootste verbystering daaroor geheers.

[13] In die tempelraad is egter ook die reeds bekende Nikodemus en sy mening word ook gevra.

[14] Maar hy sê (Nikodemus): “Julle het my raad nooit ernstig geneem nie, omdat julle my al meermale daarvan beskuldig het dat ek dit heimlik met die Galileërs hou, en ek beskou by hierdie ongelooflike aangeleentheid my raad dan ook oorbodig. Want as JaHWeH welverdiend `n groot straf of selfs die volledige ondergang vir ons bepaal het, dan sal geen enkele menslike raad nog iets daaraan kan doen nie en aan ons niksseggende ampte het dan vir altyd `n einde gekom. As JaHWeH egter die twaalf verskriklike vuurpilare slegs as `n laaste waarskuwing tot ware boete vir ons neergesit het, dan sal ons nog wel op die regte oomblik deur `n profeet verneem, welke boete en offers God van ons verlang. Maar dink almal goed daaraan: Julle het Sagaria vermoor, hoewel hy duidelik `n profeet was! Ook die prediker en Doper aan die Jordaan is deur julle tussenkoms in die gevangenis van Herodus onthoof. En opnuut het daar `n groot Wyse uit Galilea gekom, hy het drie dae in die tempel geleer, en Sy leer was goed en waarvoor die volk, en daarom julle Hom ook wil stenig. Ja, as julle alle mense wat met die Gees van JaHWeH vervul is, steeds so wil bejeën, dan is ons algemene, gewisse ondergang nie meer te voorkom nie, en kan selfs God julle geen raad meer gee en ek gladnie, hoewel ek `n oudste in die tempel is!”

[15] Die hoëpriester, wat voorsitter van die Raad was, sê: “Maar wie kan ons dan bewys dat die manne wat deur jou genoem is, werklik profete was wat deur God gewek is?”

[16] Nikodemus sê: “Netsoos jy nou, het in die tye van die ware profete, die hoëpriesters in die Hoë Raad ook die vraag gestel, en die droewige besluit was helaas altyd dat die ware profete steeds vir die merendeel gestenig of gewurg, en eers naderhand as sodanig herken word. En netsoos dit toe was, so en nog veel erger is dit nou, wat ek tot my groot spyt openlik moet erken. En omdat dit helaas so is, is ook die geduld van JaHWeh met ons hoogswaar­skynlik op, wat die twaalf verskriklike vuurpilare ons nou maar al te duidelik laat sien en daarteen sal waarskynlik geen enkele menslike raad meer iets kan doen nie. Kyk maar eers hoe hulle steeds groter en kompakter word - dit is vas en seker deurdat hulle steeds naderby kom!

[17] O, wat `n verskriklike dag in die nag! Dit is nou nog maar net die vyfde uur van die nag en buite is dit so lig soos op die middel van die dag! Daarom gaan ek julle nou verlaat en teruggaan na my huis en my familie, om hulle soveel moontlik te troos.”

[18] Die Hoë Raad wil hom egter teenhou, maar Nikodemus sê: “As ek julle êrens mee sou kon help, sou ek wel gebly het; maar omdat ek vir julle hier netso weinig van nut is as julle vir my, gaan ek en wil ek liewer tuis sterf as hier binne hierdie al so gereeld ontwyde mure.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205