|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 144
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die Fariseërs besoek vir Nikodemus
144 Toe hulle (die vier fariseërs) Nikodemus in die oog kry, kom hulle dadelik op hom af en sê aan hom: “Omdat jy geweet het dat ons jou vanmiddag vir `n belangrike aangeleentheid sou opsoek, kon jy ons wel geëer het en behoort jy op ons gewag het! Maar omdat ons goed kan sien dat jy `n groot aantal vreemde gaste by jou het, wat jy hier kennelik `n aangename middag wil besorg, sal ons jou wel verontskuldig. Maar wie is al die vreemdelinge? Die ander, wat van hier, van Jerusalem en hier uit die omgewing is, ken ons wel; maar wie is al die vreemdelinge en waar kom hulle vandaan? Is daar vandag hier in Emmaus `n fees waarvan ons niks gesê is nie?”
[2] Nikodemus sê: “Hier is vername Romeine, Grieke, Egiptenare en Indiërs, wat vandag in my herberg aangekom het, en wat ek nou almal na my lieflingsheuwel gebring het, sodat hulle hier op hierdie mooi dag van die uitsig en die natuur kan geniet. Maar as julle meer wil weet, dan moet julle self maar met hulle praat; want hulle praat alle tale!”
[3] Toe stap Agricola na vore en sê: “Omdat julle as spioene van die tempel hierheen gekom het, sal julle seker wil weet hoeveel moontlik nuwe en buitengewone sake julle kan uitvind, en dit sal julle ook!
[4] Kyk, ek, wat nou met julle praat, heet Agricola, ek kom uit Rome en is een van die vernaamste dienare van die keiser en besit alle volmagte! Ek kan in naam van die keiser al die moontlike bevele uitvoer en oor alles beskik, en wat ek in naam van die keiser gebied, moet gebeur. Diegene wat hulle om ons heen bevind, is my begeleiers en ook invloedryke dienare van die keiser. My beide vriende hier, Agrippa en Laius, ken julle al. Daar agter die rotse sien julle `n paar honderd jongmense van beide geslagte; wat hoort by my lyfwagte, en die ander manne dien eweneens vir my beskerming. Daar vooraan sien julle drie wyses uit Indië, wie se groot gevolg in die nabyheid van die stad gebring is; ook hulle hoort nou by my. Hier is `n jong man wat met sy wil meer kan doen as alle magte van die aarde. En hier vlak naas ons staan nou die wonderlik magtige mense uit Opper-Egipte, oor wie se krag beide Romeine julle gistermiddag baie vreemde dinge vertel het; hulle het gekom om die twee Romeine hier te besoek.
[5] Nou weet julle dus in welke geselskap julle jul bevind, wie ons is en waar ons vandaan kom en wat ons kan. As julle die merkwaardige en volmaakte mense self van naderby wil leer ken, rig julle dan self tot hulle; want hulle kan en mag ek nie beveel nie, omdat hulle self volkome eie baas is en alle mag in hulle wil het. Ek het nou gepraat en nou is die woord weer aan julle!”
[6] Toe kyk beide fariseërs na die hut wat bo-op die rotsformasie gebou was, en vra Nikodemus wie hom dan in die hut bevind.
[7] Maar Nikodemus sê: “Daar staan geskryf dat dit nie goed is as die mens alles weet nie, en julle kan die prinsiep nou ook maar beter op julleself toepas as julle hierdie vername Romeine nie teen julle die harnas wil injaag nie; want vir sover ek uit hulle woorde verstaan het, staan die tempel nie so hoog by hulle aangeskrewe nie.”
[8] Na die antwoord vra die fariseërs nie meer wie in die hut is nie. Maar hulle rig hulle nou tot die leier van die sewe manne uit Opper-Egipte en vra hom of hy inderdaad dieselfde man was, oor wie die twee Romeine hulle gister sulke wonderlike en ongelooflike dinge vertel het.
[9] Die man uit Opper-Egipte sê met `n kragtige stemgeluid: “Ja! Wat wil julle van my, julle, wat gespeen is van elk vonkie van die Goddelike Gees en die vervolgers is van alle mense wat van God se Gees vervul is en wat aan ander mense die weë van die lig en lewende waarheid toon? Sê wat jy wil dat ek dit vir jou kan doen!”
[10] Hierdie ernstige taal van die man uit Opper-Egipte was vir beide hooggeplaasde fariseërs nie baie aangenaam nie. Hulle dink daaroor na of dit raadsaam sou wees om hom te vra om `n teken te doen.
[11] Eers na `n rukkie sê hulle aan die man uit Opper-Egipte (die fariseërs): “Beste man, ons wil jou maar net vra of jy so vriendelik sou wees om hier ook vir ons `n teken te doen, waaruit die mag van jou geloof en jou wil sal blyk. Want omdat ons van geloofwaardige getuies al sulke wonderbaarlike dinge oor jou gehoor het en jy self nou hier aanwesig is, sou ons onsself ook daadwerklik wil oortuig van jou innerlike krag. Verrig daarom vir ons `n teken!”
[12] Die man uit Opper-Egipte sê: “Ja, ja, ek sal wel een verrig; maar julle moet my eers vertel om welke belangrike redes - netsoos julle dit self in die begin aan Nikodemus meegedeel het - julle vandag met julle helpers hierheen gekom het, omdat julle tog, aangesien dit môre Sabbat is, tuis moes gebly het om vir môre allerlei voorbereidings te tref, want julle mag op die Sabbat niks doen nie. Sê my eers baie presies en volgens waarheid die belangrike rede van julle huidige koms, en dan sal ek `n teken vir julle doen; maar kom nie met leuens by my aan nie! Want as julle met leuens kom, sal ek ook `n teken vir julle doen, - maar nie tot julle heil nie, maar tot julle verderf.”
[13] Toe sê die een fariseër: “Ek sien al dat daar met jou maar net openhartig gepraat kan word, en daarom deins ek ook gladnie daarvoor terug om die volle waarheid openlik hier uit te spreek nie.
[14] Kyk, in Galilea, wat ook van die Judeërs is en onder Jerusalem staan, het `n profeet opgestaan, wat allerlei tekens doen en `n nuwe leer verkondig teen die tempel en teen ons! Hy verlei die volk en sit hulle teen ons op. Ons weet selfs dat Hy hom uitgee as `n seun van God, Hom laat prys as die beloofde Messias en ons, wat ons aan die ou leer van Moses hou, oral vyandig bejeën. Ons weet maar al te goed dat hy die seun van `n ou timmerman is, wat netsoos sy vrou `n gewone natuurlike mens was. Omdat die genoemde Profeet ons egter oral agtervolg, is dit hopelik ook reg dat ons Hom agtervolg en probeer om Hom op te spoor.
[15] Ons het egter deur enkele boodskappers, wat ons uitgestuur het, nog in die afgelope nag te wete gekom dat Hy met al Sy volgelinge nog in die omgewing van Jerusalem rondtrek en die volk teen ons opsteek, wat ons bepaald nie onverskillig kan laat nie. Mense het ons verseker dat Nikodemus, ons ampsgenoot, wel weet waar Hy Hom bevind, en dit is die rede waarom ons gekom het om met Nikodemus daaroor te praat en met hom oorleg te pleeg oor hoe die saak inmekaar steek en wat van regsweë daaraan gedoen kan word. Kyk, dit is die belangrike rede waarom ons gekom het!”
[16] Die man uit Opper-Egipte sê met `n ernstige gesig: “Wat sou julle dan met die Profeet doen as Hy Hom deur julle sou laat vang?”
[17] Die fariseër sê: “Ons sou hom dadelik aan die gereg oorlewer, streng laat ondersoek en teen Hom getuig, en hulle bewys aan welke misdaad teen ons Hy Hom skuldig gemaak het. As Hy Hom te ernstig teen ons en teen die tempel wangedra het en Hy die wet oortree het, - waarvan ons merendeels al volkome van oortuig is - dan moet Hy volgens die wet sonder meer ter dood veroordeel word.”
|
|
|
|
|