|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 81
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230. |
|
|
Die ou rabbi beskryf die geskiedenis van die verval van die Judese volk
81 (Die herbergier): “Maar baie gou daarna verskyn daar op die platform `n ou, waardige rabbi, wat - netsoos bekend - nog `n vriend was van die ou, vrome Simeon en later ook van Sagaria, wat gewurg was. Toe hy verskyn, word die hele volk rustig, begroet hom en vra hom om hulle in hierdie baie benarde omstandighede juiste en ware troos te gee.
[2] En die rabbi sê: “Beste medebroers uit die skoot van Abraham! Vergeef my dat ek vanweë my hoë leeftyd nie meer in staat is om my, netsoos vroeër, deur woorde vir al die goeie en ware in te sit nie; maar dit ontbreek my nog steeds nie aan goeie wil om julle almal `n juiste en ware troos te gee nie.
[3] Die teken wat ons in hierdie nag te siene gekry het, wat aan ons gegee is deur die raadsbesluit van God, was werklik van so `n aard dat selfs die heidene daarvan begin beef het en geen Judeër, selfs geen Sadduseër en geen Samaritaan, dit sonder angs in sy hart kon aanskou nie. Maar Ek dag by myself in my onskuld: Goeie JaHWeH! Vanweë my het U tog beslis nie hierdie ontsettende teken aan U sterrehemel laat verskyn nie, netsoos U ook U goeie son nooit slegs om my ontwil laat opgaan en laat skyn het nie; want sy het immers al duisende jare hierdie aarde verlig en sal haar na my ook - wie weet hoeveel - duisende jare nog verlig! Ek, as byna honderdjarige grysaard, sal nie so lank meer die weldaad van die goeie goddelike son kan geniet nie. Want in die grafte waar die ontbinding plaasvind, dring geen sonlig binne nie; en sou dit ook daarin deurdring, dan sou dit die dooie lyk tog beslis nie meer kan bly maak nie. Alles op hierdie wêreld, wat werklik vir elke nugter denker volledig vreugdeloos is, is verganklik, slegs die mag van God is nie, die bly ewig; ons siele is maar net afhanklik van die wil van die Almagtige. Of sy na die dood verder lewe, kan geen mens geheel en al duidelik en volgens waarheid beoordeel, insien en erken nie; maar Moses en alle latere profete het ons dit geleer en ons moet dit glo, - en glo ons dit nie, dan lyk ons soos die Sadduseërs, wat afvallig geword het van die tempel, omdat die Griekse filosowe hulle daartoe verlei het.
[4] Maar helaas is daar ook onder ons, en helaas hier in die tempel, meer Sadduseërs as wat daar buite onder julle is en ook in hierdie groot stad, waar die rykes vanweë hulle rykdom al bykans niks meer glo nie; en wat hulle in geloofsake nog doen, doen hulle maar net vir die skyn om te sorg dat die gewone volk God nog bly vrees; maar in hulle hart het hulle geen geloof en geen God meer nie.
[5] Die arme, gewone werkende volk sien dit egter wel by die rykes en dink by hulleself: “A, as julle rykes, wat die middele het om baie te kan ervaar en te weet, nóg aan Moses, nóg aan die profete en dus ook nie aan God glo nie, waarom moet ons armes dan vir julle plesier glo in daardie Een waarin julle rykes niks sien nie?!”
[61 En so, beste mense, het steeds die een kwaad die ander tot gevolg, en staan ons almal nou byna op die punt waarop die mense ten tye van Noag en ten tye van Lot gestaan het. Toe, netsoos nou, het God uitverkore bodes na die mense op aarde gestuur, wat alle mense wat God volledig vergeet het, met woorde en dade baie indringend gemaan het, en hulle ook die onafwendbare gevolge van hulle hardnekkigheid vooruit laat sien; maar die mense het hulle te ver in die dooie, doodbringende wêreld begeef en was daarin vasgevang. Hulle het gladnie na die bodes van God geluister nie, hulle het hulle hardnekkig vervolg en mishandel en hulle gereeld, selfs op gruwelike wyse gedood. En kyk my baie gewaardeerde vriende en broers, onder ons gesê, presies so en helaas miskien nog ietwat erger lyk dit nou by ons en veral hier in hierdie tempel!
[7] Die Israeliete het, soos wat hulle eens was, eintlik maar net tot die helfte van die tyd van die rigters so gebly. In hierdie tyd het daar in die hele land nog geen eintlike stad bestaan nie; daar het in die land van vader Jakob wel gemeentes geleef wat primitiewe huise en alleenstaande woonhutte besit het, en in die middel van die land, teen die berg Horeb, was die heilige hut, waarin die ark van die verbond homself bevind het, gebou. In hierdie tyd het die Israeliete geen vaste fort nodig gehad om hulle teen vyande van buite te beskerm nie; want JaHWeH was hulle enige vaste fort, hulle onneembare wal en hulle skerp swaard. Buiten God het hulle geen meester geken nie, hulle het volkome in vrede geleef, was liggaamlik en geestelik gesond en het geen nood geken nie.
[8] Maar teen die tyd van die laaste rigters het hulle reeds in alles onverskilliger en traer begin word. Die gebooie en ook die ander voorskrifte het hulle minder begin nakom en dit meermale oortree. Daarop het hulle ook dadelik allerlei waarskuwings gekry, waar die beter mense hulle wel volgens gerig het; die meer wêrelds ingestelde mense het slegs vir die skyn meegedoen, maar in hulle hart het die dooie wêreld steeds belangriker geword. Sulke wêreldse Israeliete het baie gou ryk en aansienlike mense geword wat nie meer met hulle eenvoudige woonhutte tevrede was nie en ook nie met die rigters wat deur God aangestel was nie. Hulle wou netsoos die heidene, ook `n skitterende, magtige koning gehad het, asook `n stad en stewige forte. Ten slotte het hulle onder Samuel in alle erns `n koning geëis, en God die Heer spreek: “Kyk nou eens na hierdie ondankbare volk! Met My vaderlike regering, waaronder dit gesond, ryk en groot en magtig geword het, is hulle nie meer tevrede nie. Aan alle groot sonde wat hulle al voor My aangesig begaan het, voeg hulle nog hierdie grootste sonde ook toe, dat hulle `n koning eis! Ja, hulle sal `n koning hê en stede en forte; maar nie om beter daarvan te word nie, maar as `n skerp, harde tugroede sal hulle `n koning hê!”
[9] Ek vertel julle dit alles nou in kort, sodat julle des te makliker sal besef wat die oorsaak van die huidige totale verval van die ware, ou, egte Judeërdom is.
[10] Saul moes reeds `n vaste fort gehad het, ook al was dit nog geen eintlike stad nie. Toe ontstaan daar oorloë met die Filistyne, en vir hierdie oorlog moes die vaders hulle deur die koning hulle seuns en beste knegte laat ontneem en daarby nog hulle beste osse, esels, koeie, kalwers en skape. Dit was dus al die eerste seën van `n Israelkoning, terwyl Samuel nog geleef het, wat op God se bevel vir Saul tot koning gesalf het. Samuel dag toe dat die volk deur die straf tot inkeer sou kom en weer berouvol sou terugkeer na die regering van God. Maar dit het volstrek nie gebeur nie! Hulle wou slegs `n magtiger en wyser koning gehad het, en Samuel salf vir Dawid, wat baie gou die stad Bethlehem gebou het en die grondlegger word van die stad Jerusalem. Sy seun Salomo brei die stad vir baie geld en met groot prag uit en bou die tempel; maar die volk het toe al in groot armoede geraak en moes allerlei teenspoed verdra.
[11] Hoe dit later met die volk onder die volgende konings tot by die Babiloniese gevangenskap gegaan het, weet ons uit die boeke van die kronieke. Mens sou egter gedink het dat die weer bevryde Judeërs na die veertig jaar durende gevangenskap, volledig sou verander het; maar nee, hulle moes weer konings en, netsoos die heidene, priesters en hoëpriesters hê!
[12] In die tyd, byna tot nou toe, het die Heer die meeste profete gestuur wat die volk tot God teruggeroep het. Maar die volk, wat deur die konings en priesters, reeds te duister en te doof gemaak was, hoor en begryp niks meer van wat die profete verkondig nie. Bowendien vervolg die konings en die priesters die profete, en dit gereeld met die skandelikste blinde wraaksug en woede, - tonele wat julle al self beleef het en waarvan julle miskien nog meer van sal beleef, alhoewel die Judeërs tans en ook reeds veel vroeër geen eie koning meer het nie, maar hulle moet laat welgeval met die ysteroorheersing van die heidene.
[13] God het Hom egter ook die keer oor Sy volk ontferm en ons volgens die profesie `n Messias gestuur in die persoon van die wyse man uit Nasaret, wat ek al vanaf die tyd van Simeon ken, omdat ook Simeon Hom in die tempel herken het, Hom besny het en Hom die naam Jesus gegee het. Ek kan en mag julle dit slegs in hierdie buitengewone noodtoestand sê, en wat ek as hoog bejaarde grysaard julle nou sê, is hoë en heilige waarheid. Maar hierdie oormatig heerssugtige, verstokte tempeldienaars vervolg elkeen met die grootste wraaksug wat sou durf waag om so-iets op `n ander tyd uit te spreek.
[14] En kyk, omdat ek nou al die noodsaaklike in kort vooraf gaan doen het, kan ek julle nou sê waarom die verskriklike verskynsels van hierdie nag deur God toegelaat is! Die hoeveelheid sondige misdade van die aartsjode uit die tempel het die maat wat deur God aan hulle gestel is, bykans tot aan die rand gevul, en die groot geduld van JaHWeH is op `n haar na op! As die maat vol sal wees, sal ook met Jerusalem gebeur wat julle by die tweede teken gesien het, en miskien al wel binne vyftig jaar.
[15] Die twaalf vuurpilare, wat ten slotte tot één pilaar saamvloei, gee duidelik die versmelting aan van die twaalf stamme van Israel tot één, naamlik in die Messias wat gekom het, wat ten slotte, omdat Hy nie deur die verblinde, kwaadaardige aartsjode uit die tempel aangeneem was nie, weer daarheen sal opvaar vanwaar Hy gekom het.
[16] Maar later was daar in die weste, netsoos die wyse Nikodemus my netnou vertel het, nog `n derde teken van baie troosryke aard te sien, egter slegs deur hulle wat die Messias aangeneem het, in Hom glo en volgens Sy leer, wat goddelik wys is, handel. Maar daaroor kan julle Nikodemus julle later meer vertel, omdat hy die genoemde derde verskynsel ook self gesien het.”
[17] Daarop raai die grysaard hulle, dit wil sê die volk, aan, om geduld te hê en verlaat die spreekgestoelte. En die hele volk prys die ou spreker.
[18] En die man uit Bethlehem sê: “Ja, dit is nog `n oudste wat netsoos Aäron was; maar hy kan alleen ook niks teen al die ander doen nie! Maar wat in alle erns veel sê, is dat daar uiteindelik in die tempel, onder die fariseërs en skrifgeleerdes, tog nog enkeles is wat in die Verlosser uit Nasaret glo!”
[19] Daar word in die trant nog meer opmerkings gemaak, en mense sien verlangend uit na die koms van die eerlike en regskape Nikodemus, wat nog ietwat op hom laat wag.”
|
|
|
|
|